Mans jaag glo met vrou in kattebak weg

Refiloe Malope (31) word al byna ’n week vermis. (Foto: SAPD)

’n 31-jarige vrou van Limpopo word al ’n week lank vermis nadat twee mans haar glo in die kattebak van ’n wit Toyota-sedan geboender en weggejaag het. Die voorval het Maandag omstreeks 10:00 in die Kgaphamadi- informele nedersetting naby Groblersdal plaasgevind.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê ’n taakspan is intussen saamgestel om die vrou, Refiloe Malope, op te spoor.

Volgens Mojapelo het bure glo gesien hoe Malope hardhandig in die kattebak gedruk word voordat die voertuig in die rigting van Motsephiri laat spaander het. Die bure het die voorval glo gesien kort nadat hulle Malope histeries hoor gil het.

“Die slagoffer is na bewering deur een van die verdagtes genader wat aangevoer het dat hy hulp benodig aangesien sy voertuig onklaar geraak het. Toe die twee by die voertuig aankom het ʼn tweede verdagte skielik verskyn. Hulle het Malope in die kattebak gedwing.”

Die polisie is gevolglik ontbied waarna ʼn soektog na die slagoffer en verdagtes van stapel gestuur is.

Die motief agter die voorval is nog onbekend. Enigeen met inligting word aangemoedig om speurdersersant Amos Thekupi by 082 775 5462 te bel of die tolvrye nommer by 08600 10111 te skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.