Mans lewenslank tronk toe vir verkragting van minderjariges

(Argieffoto)

Twee mans, onderskeidelik 25 en 34 jaar oud, is Woensdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis in die Modimolle-streekshof vir die verkragting van drie minderjariges in verskillende voorvalle in die Modimolle-gebied in Limpopo.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die 25-jarige man het in die afgelope vyf jaar onderskeidelik ʼn 16-jarige en driejarige meisie by die Mabaleng- informele nedersetting in Limpopo verkrag.

Hy het die 16-jarige meisie op 8 November 2015 omstreeks 02:00 die oggend verkrag.

“Die driejarige is op 27 Januarie 2019 omstreeks 01:30 die oggend verkrag. Dit het gebeur terwyl hy tydelik by ʼn familielid gebly het. Hy het uit sy kamer gesluip en na die kinders se kamer gegaan waar hy toe die driejarige verkrag het,” vertel Mojapelo.

Mojapelo sê hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van die driejarige. Hy het tien jaar tronkstraf gekry vir die verkragting van die 16-jarige. Albei vonnisse loop gelyktydig.

Die 34-jarige man is ook tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy sy 12-jarige stiefdogter op 12 September 2016 omstreeks 06:55 die oggend in die Modimolle-gebied verkrag het.

Albei sake is aan die ondersoekbeamptes, Emmanuel van der Merwe en sers. Jeridah Tukakgomo van die Modimolle-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS), oorhandig.

Genl.maj. Jan Scheepers, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris van Limpopo, het die swaar vonnisopleggings verwelkom.

“Hierdie vonnisse moet ʼn sterk en duidelike boodskap uitstuur dat die polisie, veral lede verbonde aan die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, seker sal maak dat die skuldiges vervolg word totdat hulle vasgetrek word,” sê Scheepers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elize ·

Swaar vonnisse? Nee hulle maak ‘n fout want na ‘n paar jaar kom hulle uit en gaan aan met hulle vernietigende speletjie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.