Mans meeste slagoffers van plaasmoorde

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Sowat driekwart van alle Suid-Afrikaners wat verlede jaar tydens ʼn plaasaanval vermoor is, was mans en byna die helfte was die eienaar van die betrokke plaas.

In die burgerregteorganisasie AfriForum se omvattende verslag oor plaasaanvalle en -moorde word die jongste statistiek oor wie presies verlede jaar onder dié gru-aanvalle deurgeloop het, bekend gemaak.

Luidens die verslag het 364 plaasmoorde vanaf 2016 tot 2021 in Suid-Afrika plaasgevind. Altesaam 53 hiervan het verlede jaar plaasgevind.

Uit hierdie syfers is dit duidelik dat 72% van 2021 se slagoffers mans en 13% vroue was. Altesaam 15% van die slagoffers se geslag is onbekend.

Die gemiddelde ouderdom van die plaasmoordslagoffers gedurende hierdie jaar, was 49 jaar. Die meeste slagoffers was egter tussen die ouderdomme van 50 en 59 jaar (21%), gevolg deur 30‑ tot 39-jariges (19%).

Die meeste van die slagoffers tussen 2016 en 2021 was tussen 60 en 69.

Werner Buchner (55) is in September verlede jaar op sy melkplaas naby Gqeberha (Port Elizabeth) doodgeskiet. Sy volwasse seun, Werner jr., is ernstig gewond tydens die aanval en sy vrou, Estelle, het albei haar arms gebreek in ʼn poging om haar gesin teen die aanvallers te beskerm.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, het Donderdag tydens ʼn nuuskonferensie gesê dit het hom geruk om te sien dat jong kinders ook by die plaasmoordstatistiek gevoeg word.

“Die statistiek wys dat, hoewel min, daar ook kinders is wat tussen die ouderdomme van 0 en 9 jaar vermoor is.” Hierdie ouderdomsgroep maak 2% van die plaasmoordslagoffers uit.

Nompumelelo Emily Maloka (6) is verlede jaar verskeie kere gesteek en gewurg. Haar liggaam is saam met dié van haar ouers en twee sibbe in hul plaashuis naby Harrismith aangetref.

Ouer mense is ook geteiken en maak 19% van die slagoffers uit. Dié mense was almal tussen die ouderdomme van 70 en 99.

Die liggaam van ʼn 70-jarige boer, Bertus Steenberg, is in Maart verlede jaar op sy plaas in Mpumalanga gevind waar hy met ʼn nylontou aan sy voertuig vasgebind was.

Hantie Geldenhuys (94) is later die jaar deur haar venster op haar kleinhoewe in Westonaria geskiet. Hoewel sy steeds gelewe het ná die aanval, is sy later dieselfde dag oorlede.

“Die rede waarom mense 70 jaar en ouer vermoor word, moet dringend ondersoek word, aangesien hierdie mense nie noodwendig ʼn groot bedreiging vir plaasaanvallers inhou nie.”

Luidens die verslag was die meeste plaasmoordslagoffers ook die eienaars van die plaas (43%).

Plaaswerkers was die tweede meeste uitgemoor (19%) en die gesinne van die persone wat op die plaas woonagtig is, derde meeste (11%).

“Een van die kernfunksies van ʼn regering is om sy bevolking teen geweld te beskerm,” lui die verslag.

“Indien hy hierin misluk, begin mense hul vertroue in die regering te verloor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Dit is uiters tragies, gevolge hiervan gaan elke ras tref…….???

piet ·

Welke persentasie van die moorde was op anderskleuriges asook welke persentasie was op nie-Afrikaanssprekendes? Hierdie statistiek word nooit gegee nie. Ek het egter al iewers gelees vantevore dat plaasmoorde op anderskleuriges omtrent 15% beloop. Dis belangrike inligting want hier is mense wat in die land verkondig dat net blankes (spesifiek Afrikaners) geteiken word, dat dit ‘n volksmoord op Afrikaners is, ens.

Miskruier ·

Dis n aanslag op kosvoorsiening en natuurlik dink die dommes elke boer is skatryk.

marius ·

Niks anders as om wit vrouens en kinders weerloos en in angs te laat nie . Alles deeglik beplan .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.