Mans ná ses ure uit stormsee gered

‘n Indonesiër in ‘n vragskip het Gidion Janse van Rensburg (regs) en Piet Uys (links) se lewe gered (Foto: Verskaf)

“Ons het gebid en die Here gevra as dit Sy wil is, moet hy ons red.”

Piet Uys (39) en Gidion Janse van Rensburg (38) het gedink dit is die einde van hul lewenspad toe hul kajak verlede Sondag in die Persiese Golf gesink en hulle vir byna ses ure in die water gestrand was. Dit was vir hulle soos ʼn wonderwerk toe ʼn vragskip toevallig oor hul pad gekom en hulle gered het.

Dié twee Suid-Afrikaners is Sondag omstreeks 07:00 uit op die see om vis te vang. Albei gee al drie jaar skool in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate en gaan weekliks uit op die see om vis te vang.

Twee van hul ander vriende was in ʼn aparte tweemankajak saam met hulle op die see.

“Die wind het omstreeks 10:00 opgetel en al hoe sterker gewaai. Dit het sterk van die land af gewaai, die deinings het groter geword en dit het begin reën. Hierdie stormweer was ʼn ongewone verskynsel omdat die water gewoonlik so plat soos ʼn dam s’n is,” vertel die twee mans aan Maroela Media.

Die vriende in die ander kajak kon betyds terugdraai land toe, maar die sterk golwe het Uys en Janse van Rensburg, beide pa’s van jong kinders, se kajak dieper die see in meegesleur. Die kajak het boonop ’n lekplek gehad en water het in die vaartuig begin instroom.

Die mans was sowat 3,2 km diep in die see, toe Uys vanaf sy selfoon koördinate van hul ligging vir hul vriende op land kon stuur. Die selfoon was in ʼn waterdigte sak.

“Genadiglik het ek daardie oggend besluit om my selfoon saam te vat. Ek los altyd my foon by die huis wanneer ons op die see uitgaan.”

Hulle vertel die kajak het al hoe meer water begin inneem en die kajak het gesink totdat slegs sy bopunt uitgesteek het. Die rowwe deinings het die kajak ʼn verdere 3,5 km die see ingetrek.

Soos die kajak verder gesink het, kon Uys nie meer sy selfoon gebruik om koördinate te stuur nie.

“Ons het toe besef die kans dat ons gered gaan word, is skraal.”

Die mans moes aan die bopunt van die kajak probeer vasklou en water skop. Volgens hulle was die water yskoud en daar was die moontlikheid dat hulle ʼn haai kon teëkom. Hulle het ook nie reddingsbaadjies aangehad nie.

“Ons het begin beelde sien. Enige voorwerp in die verte het soos ʼn boot begin lyk, maar dit was gewoonlik net ʼn deining. Ons het aan elke greintjie hoop probeer vashou.”

Die mans het ná ses ure van water trap hul opsies begin oorweeg. Hulle het ooreengekom dat hulle om 15:00 ʼn finale besluit sal maak.

“Ons het die opsie gehad om by die kajak te bly en te hoop dat iemand ons sou help, of om die kajak te verlaat en te swem totdat ons land kry. Ons het ook besef die kajak gaan moontlik binne ʼn halfuur heeltemal onder die water wees.”

Volgens die mans het hulle hulself begin gereedmaak om die hiernamaals te betree.

“Ons het vir mekaar gevra of ons saak met die Here reg is. Ons was bang, maar het gebid en gepleit dat die Here ons moet help. Ons het mekaar positief probeer hou, maar ook vrede gemaak met ons lot.

“Dit het gevoel soos ʼn nagmerrie waaruit ons enige oomblik gaan wakkerskrik.”

Toe gebeur ʼn wonderwerk …

ʼn Vragskip het ná 15:00 op die horison verskyn en tot die mans se redding gekom.

Die vragskip – met ʼn Indonesiër aan die stuur – het in die omgewing patrolleer. Hy het ʼn noodoproep vanaf die land gekry oor Uys en Janse van Rensburg se verdwyning.

“Hy het die eerste koördinate wat ons gestuur het, gevolg, maar ons toe nie gekry nie omdat die see ons toe reeds kilometers verder ingetrek het. Die feit dat hy ons wel opgespoor het, tussen die gure wind en weer, is ʼn wonderwerk.”

Die mans sê hulle het verbete baklei om te lewe omdat hul gesinne op hulle staatmaak. Janse van Rensburg het ʼn 16 maande oue baba en sy vrou is nou swanger met die gesin se tweede kind. Uys het ʼn vrou en twee seuns, onderskeidelik drie en agt jaar oud.

“Die Here se hand het ons gered. Ons is dankbaar en kyk nou beslis met nuwe oë na die alledaagse probleme.”

Volgens die mans sal hulle weer die see trotseer om vis te vang, maar dan seker maak hulle is meer gereed vir enige uitdaging wat oor hul pad kan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Anthony ·

Sonder reddings baadjies op n kaja die see in vaar ????? Nee kerels, dis reel 1.1 van op water gaan.

Tiptol ·

Klink soos ‘n Hollywood fliek. Absoluut fantasties. Die Here was by julle.

Mariaan ·

Hoe op dees aarde gaan jy op die see uit sonder n reddingsbaadjie?? Dis mos nou net nalatig! Bly julle is gevind en veilig…MAAR regtig..ons het ook verstand gekry…kajak op die see? Sonder reddingsbaadjie? Dis nogal scary nalatig….

piet ·

Die eerste ding wat hulle moet doen, is om reddingsbaadjies te dra!

SomeOne ·

verligtend
wees altyd gereed vir enige uitdaging wat kan gebeur
reddingsbaadjie is altyd nr 1, julle ken die reëls,
dis soos voor die vertrek van ‘n vliegtuig, begin by nr 1 en werk volgens aanwysings,
moenie probeer om te onthou wat die reëls is nie, gebruik altyd die handleiding

Misky ·

Baie bly julle is veilig na die nagmerrie ondervinding, maar soos andernoem, die see is nie jou speelmaat nie en voorsorg moet getref word.

Shakespeare ·

Al die lof aan Jesus vir hulle lewens wat gespaar is.

Leeuwyfie ·

Ek is saam jul familie en vriende dankbaar dat jul lewens gespaar is. Dit moes ‘n vreeslike 6 ure gewees het wat seker soos dae aaneen gevoel het. Ek is meer dankbaar dat jul seker gemaak het dat jul saak met die Here reg was, want dis die belangrikste. En ek vier fees dat dit God se wil was om jul te red. Dankie Heer vir nog ‘n dag.

Cherokee ·

Mooi storie wat ‘n getuienis regverdig. Maar..’ n vragskip wat patrolliewerk doen? Daai ene kan nie wees nie. Seker maar ‘n patrollieboot.

E ·

Ja ek het ook gedink ‘n vragskip gaan ‘n duur patrollie boot maak.

Casper ·

Manne spaar geldjies en koop maar eerder vir julle ‘n bootjie en dra maar die veiligheidsgordel.Die naam se veiligheid.

SlinkseKoljander ·

Sal julle leer om sonder reddingdbaaitjies die see aan te druf, hy is nie jou maat nie.
Bly julle is darm nou veilig.

Elmarie ·

Wat ‘n wonderlike getuienis. God het julle bewaar. So dankbaar saam met julle en julle families.

Trek asb volgende keer veiligheids baadjies aan.

TRP ·

Wat ‘n ongelooflike storie om te vertel. Sou ek ooit in so ‘n situasie beland mag dit wees met ‘n vriend of vriendin soos wat hierdie twee vir mekaar is. So dankbaar die Here het hul gebede verhoor en hulle kan vandag nog ‘n keer hulle kinders en vrouens vashou.

Tipper ·

Mense was julle al bevrees of benoud vir baie lang ure en het gevoel alles is nou verby, in daardie haaglike omstandighede gee jy maar oor, n Amerikaanse prediker Kent Christmas het eenkeer n waar stelling gemaak en dit was sy woorde… It is easy to declare faith when you don’t need it, but it is another thing if you have to walk it out and you’re lookin hell in the eyes. Dit is ware woorde. Dit is normaal om te bid en smeek dat die Here vir jou hulp stuur, maar dit kan ook etlike ure in beslag neem voor hulp kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.