Mans se liggame uit rivier gehaal

Argieffoto

Die liggame van twee mans wat verdrink het toe hulle ʼn rivier in vloed noord van Durban probeer oorsteek het, is Sondag gevind.

Die twee mans is Saterdagaand deur die Mona-rivier in die Ndwedwe-gebied meegesleur nadat swaar reënval ʼn kitsvloed in die gebied veroorsaak het. Polisieduikers is ontbied en het Sondagoggend ná ʼn kort soektog die mans se liggame gevind en uit die rivier gehaal.

Nomusa Dube-Ncube, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het haar skok oor die verdrinkings uitgespreek en gesê sy het rampbestuurspanne van die departement opdrag gegee om met die twee mans se families te vergader.

“Volgens ooggetuies het Sibongiseni Sokhulu en Bongani Msani teruggekeer van ʼn gedenkdiens toe hulle deur die sterkvloeiende water meegesleur is. Hul liggame is Sondag in die vroeë oggendure gevind,” het Dube-Ncube gesê.

“Ek is geskok deur hierdie aaklige voorval. Ons doen weer eens ʼn beroep op mense om gehoor te gee aan ons waarskuwings oor die ongure weerstoestande wat al sinoniem met ons provinsie is. Laat ons eerder ons reise opskort as wat ons ons lewens in gevaar stel deur riviere wat in vloed is te probeer oorsteek. As ons saam werk, is ek redelik seker dat ons rampe kan minimaliseer,” het sy gesê.

Sy het haar medelye met Sokhulu en Msani se naasbestaandes betuig.

Nog swaar donderstorms word vir die res van die somer in KwaZulu-Natal verwag. Die publiek is gewaarsku om uiters versigtig te wees vir die potensiële gevare wat hiermee gepaardgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mike Stander ·

“om met die twee mans se families te vergader”… Om wat presies te verrig..? Dit is nie asof die regering ewe skielik nou n brug gaan bou oor die rivier om sulke gevalle te voorkom nie.
Soms wonder ek maar net

CHRISTA ·

Ek kan net nie verstaan hoe ENIGIEMAND kan dink hy kan deur ‘n rivier wat in VLOED is loop nie!!

Muffin ·

Mike ek stem saam met jou. Vergader saam met familie. Vir wat. Seker weer om hulle finansieel te help

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.