Mans swem kilometers ver ná boot omslaan

Ettiene Fouche, JH Swanepoel en Francois van Wyk. Foto: NSRI

Drie mans aan boord ʼn skiboot wat Vrydag in die see naby Sodwanabaai in KwaZulu-Natal omgeslaan het, is met hul dankbare families herenig ná ʼn uitmergelende beproewing waartydens hulle ure lank na veiligheid moes swem.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het in ʼn verklaring gesê die drie mans, Ettiene Fouche, JH Swanepoel en Francois van Wyk, het vroeër die dag op hul skiboot die see ingevaar om te gaan visvang. ʼn Soektog na die mans is omstreeks 15:45 van stapel gestuur nadat hul familie hulp ontbied het omdat hulle nie soos verwag teruggekeer het nie.

Volgens die NSRI het beamptes van die maatskappy My Lady Charters al langs die kus in 4×4-voertuie na die drie mans gesoek, terwyl ʼn reddingsboot van Coral Dive Charters gestuur is om na die mans en hul skiboot in die see te soek. Omstreeks 18:00 is die drie mans gevind waar hulle naby Mseni-lodge op die strand geloop het. Hulle het sonbrand opgedoen en was erg uitgeput, maar verder ongedeerd.

Volgens die NSRI het dit toe aan die lig gekom dat die mans se skiboot omstreeks 10:30 ongeveer 3 km weg van die kus by Diepgat omgeslaan het. Die mans het aan die romp van hul boot vasgeklou, maar al dieper die see in gedryf. Golwe het hulle ook kort-kort van die boot afgeslaan wat hulle al meer uitgeput gelaat het.

Die drie mans se boot wat omgeslaan het is terug na die kus gebring. Foto: NSRI

“Toe die mans besef dat hulle geensins nader aan die kus beweeg nie, het een van hulle onder die boot ingeduik om die lewensreddingsbaadjies te kry. Hulle het dit aangetrek en besluit om na die kus te swem. Die swemmery het hulle net langer as twee uur geneem,” lui die verklaring.

Met hul aankoms by die kus het die mans hul lewensreddingsbaadjies op die strand gelos as teken vir enigiemand wat dalk na hulle mag soek en om die plek aan te dui waar die soektog na die omgeslaande boot moet fokus. Hulle het daarna in ʼn noordelike rigting na Sodwana begin stap waar beamptes van My Lady Charters op hulle afgekom het.

Volgens die NSRI is die soektog na die mans se omgeslaande skiboot vanoggend voortgesit en dit is 13,8 km suid van die kus van Sodwana deur personeel van Isimangaliso Wetland gevind. Daar is gereël dat die boot ingesleep word na die kus toe.

Die NSRI het al die onderskeie hulpverleners in die soektog na die mans en hul boot bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

Weet nie veel van bootvaart af nie, maar… moet mens nie die reddingsbaadjies aantrek sodra jy aan boord gaan van so klein vaartuig nie? Juis vir ingeval jy oorboord spoel.

Meisie ·

Inderdaad!! Bly hul is veilig. Laat dit n waarskuwing en les wees vir almal wat sonder hul reddingsbaadjies op die oop see gaan.

Oom Kalahari ·

Sjoe…..so bly jul is veilig en het kop gehou deur al die uitdagings wat jul moes deurgaan. Sterkte tot jul almal se volle herstel en verenigde vriendskap.

Iché ·

So bly hul is veilig ! Baie brawe mans.
Wys wat oorlewings-instink kan doen en beteken.

Luister ·

Baie bly hulle is veilig. Gelukkig was daar klaarblyklik nie honger haie in die omgewing nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.