Mans vas wat plaasbestuurder glo aanrand, ontvoer

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Ses vermeende plaasaanvallers is in hegtenis geneem ná die aanranding en gepoogde ontvoering van ʼn plaasbestuurder in die omgewing van Blinkpan in Mpumalanga.

Een van die verdagtes is ʼn veiligheidswag wat na bewering kop in een mus was met die vermeende aanvallers.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die inhegtenisnemings kom nadat ʼn plaasbestuurder en sy dogter Woensdag deur mans oorrompel is.

Die 53-jarige man en sy tienerdogter het die dag op die plaas, waar hulle ook woonagtig is, aangekom toe hulle besef een van die stoorkamers waar die kragopwekker geberg word, se deure staan oop. Die man het sy dogter by die motor gelaat en ondersoek ingestel.

“Hy het twee gewapende mans in die stoorkamer aangetref, wat hom glo aangeval het. Hy kon egter daarin slaag om vir sy dogter te beduie om hulp te soek,” sê Mohlala.

“Die meisie het na die plaashuis gehardloop, waar sy die paniekknoppie gedruk en die huishulp en tuinier oor die situasie in kennis gestel het.”

Op pad om hulp te ontbied het die drie ʼn veiligheidswag wat op die plaas werk aangetref. Hy is na bewering deur die verdagtes vasgebind, maar het nie beserings opgedoen nie.

Enkele minute later het die plaaseienaar op die toneel aangekom en van die aanval te hore gekom. Die verdagtes het egter toe reeds in die plaasbestuurder se motor gevlug en die bestuurder saam met hulle geneem.

Die polisie en veiligheidstrukture in die gemeenskap is geaktiveer. Op pad na die plaas het ʼn lid van die gemeenskap die plaasbestuurder se motor in die teenoorgestelde rigting sien ry. Hy het omgedraai en die motor tot by ʼn T-aansluiting op die R35 agternagesit. Die verdagtes het glo beheer oor die motor verloor en tot stilstand gekom.

Oomblikke later het die polisie op die toneel aangekom en die twee verdagtes in hegtenis geneem. Die plaasbestuurder is ook in die motor aangetref. Hy het hoofbeserings opgedoen nadat hy glo met ʼn vuurwapen aangerand is.

Nog drie verdagtes het in ʼn Nissan op die toneel opgedaag. Die polisie het die insittendes ondervra en dit het aan die lig gekom dat hulle saam met die ander twee verdagtes gewerk het.

“Dit wil voorkom of die verdagtes van plan was om saad op die plaas te steel,” sê Mohlala.

Die veiligheidswag wat vroeër op die plaas vasgebind is, is ook later in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat hy kop in een mus was met die verdagtes.

Al ses verdagtes word nou deur aanklagte van aanranding, huisroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens in die gesig. Nog klagte kan moontlik bygevoeg word soos wat die polisie se ondersoek vorder.

Dit het intussen aan die lig gekom dat van die verdagtes van Zimbabwe afkomstig is. Dit is nog nie duidelik of hulle wettig of onwettig in die land is nie, maar die polisie werk saam met die betrokke departemente om hul wettigheid vas te stel.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die betrokkenes bedank vir hul pogings om die plaasbestuurder op te spoor en die verdagtes vas te trek.

“Dit is bemoedigend om so ʼn goeie werksverhouding met belangegroepe in kleiners dorpies te hê,” sê Manamela.

“Ons vertrou dat die verdagtes sal kry wat hulle toekom en dat die vinnige inhegtenisnemings ʼn sterk boodskap sal stuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

“Moral of the story” – Mense moet GEENSINS meer werk aanbied vir “our people” nie. Hulle word TE maklik omgekoop om aandeel in die daad te he. Meestal ook hulle wat al die inligting rakende die bewegings op die perseel, plot of plaas uitgee en aandeel het in die aanval. Volgens statistiek, is 90 persent van werkers betrokke by plaasaanvalle.

Casper ·

Om deesdae ‘n werkspermit te kry deur VFS is veeleisend en duur en daarom kan ek met vrymoedigheid sê hulle is onwettig in die land.

Di ·

Meerderheid kom nie oor grens om te kom werk nie, net hier om kriminele dade te pleeg. Dis nie maklik om onwettiges vas te trek wat misdaad pleeg nie, hulle weet dit!

Feite ·

Stem 100% saam met jou. VFS is ook n lekker geld maak organisasie.

Niklaas ·

Dis alweer knape van Zimbabwe en dit raak nou baie algemeen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.