Mans vas wat polisieman kaap, moor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Twitter)

Vier mans is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn polisieman vroeër vanjaar beroof en vermoor het.

Die adjudantoffisier was onderweg na Rustenburg vir amptelike polisieverpligtinge toe sy voertuig gekaap en hy verwurg is.

Lt.kol. Tinyiko Mathebula, woordvoerder van die Valke, sê Thabiso Phendela (29) en Sthembiso Molaba (31) is vroeër vandeesweek in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by AO Gaonathebe Diphephenyane se moord.

Elvis Hlongwane (29) en Alexander Hobjana (40) is kort daarna vir dieselfde voorval vasgetrek.

Al vier mans staan tereg op aanklagte van kaping, roof en moord.

Mathebula sê Diphephenyane is verlede maand vermoor toe hy van Kimberley na Rustenburg vir polisiewerk gereis het.

“Hy is glo op 17 Julie in Klerkskraal in Noordwes voorgekeer waar sy polisievoertuig gekaap en sy selfoon en geld gebuit is,” sê hy.

“Die polisielid se liggaam is die volgende dag langs die pad aangetref. Hy is glo verwurg.”

ʼn Ondersoek is van stapl gestuur, wat die Valke tot by Boikhutsong, Vosloorus en Brakpan gelei het waar die verdagtes dae uit mekaar in hegtenis geneem is.

Phendela en Molaba het Woensdag in die Ventersdorp-landdroshof verskyn. Die saak is tot 1 September uitgestel vir verdere ondersoek.

Hlongwane en Hobjana het Vrydag in dieselfde hof verskyn. Hulle sal op 11 Augustus weer in die hof verskyn waar hulle om borgtog kan aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.