Mans wat met duisende krewe betrap is in hof

Foto: Kaptein Piet Smit.

Foto: Kaptein Piet Smit.

Die vier mans wat in hegtenis geneem is in verband met duisende krewe wat in hul besit gevind is, het gister in die Strand-landdroshof verskyn. Al vier het voor landdros Karen Scheepers voorgekom. Sy het hulle op R3 000 borgtog elk vrygelaat.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die Kaapstadse honde-eenheid het inligting ontvang oor ʼn voertuig wat glo onwettig mariene produkte van Hermanus na Kaapstad vervoer.

Hulle het omstreeks 06:25 die wit Opel Corsa-bakkie met ʼn kap by Sir Lowryspas gewaar. Nadat hulle die voertuig van die pad afgetrek het, het hulle verskeie sakke met kreefsterte onder ʼn duvet onder die kap gekry.

“’n 57-jarige man van Mitchells Plain is in hegtenis geneem en by die Gordonsbaai-polisiestasie aangehou, terwyl beamptes van die departement van landbou, bosbou en visserye die Weskus-kreefsterte getel het,” het Van Wyk gesê. Daar is ook beslag gelê op die voertuig.

Die beamptes het 2 077 sterte, met ʼn geraamde straatwaarde van R40 000, getel. Die verdagte sal Woensdag in die Strand-landdroshof verskyn. Die klagte sluit die besit en vervoer van Weskus-krewe sonder ʼn permit in.

Later die dag het dieselfde lede van die honde-eenheid weereens inligting ontvang en omstreeks 11:40 ʼn Kia 2.7 Workhorse-afleweringsvoertuig voorgekeer wat swaar met skrootmetaal gelaai was. “Ná deeglike ondersoek het hulle drie groot sakke met Weskus-krewe ontdek,” het Van Wyk gesê.

Drie mans van Botrivier, onderskeidelik 22, 37 en 51 jaar oud, is in hegtenis geneem en ook na die Gordonsbaai-polisiestasie geneem terwyl die krewe getel is. Altesaam 223 krewe, met ʼn geraamde straatwaarde van R7 000, is gevind. Daar is ook beslag gelê op hierdie voertuig.

Faried Fataar (57), bestuurder van die bakkie met die vrag van 2 077 krewe, is vrygelaat ná sy prokureur Lawrence Moffit se aansoek.

Die drie ander mans is ook ná hul staatsregshulp-prokureur, A Hoza, se aansoek borgtog toegestaan.

Die drie mans is Marlon Arnoldus (22), Martin Andries (51), en Stanley Perrang (37). Al drie is van Botrivier.

Hul sake is uitgestel tot 4 Mei vir nadere ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.