Mans weke ná veediefstal op kleinhoewe aangeval

Argieffoto

“Hulle het gelê en slaap toe hulle wakker skrik van ʼn skoot wat in hul slaapkamer afgevuur word.”

Só het twee mans Dinsdag in die vroeë oggendure op ʼn kleinhoewe in die Elandshoek-distrik naby Cullinan wakker geskrik toe hulle deur vier aanvallers in hul huis verras is.

Karen Yssel, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringgebied (GPF) en lid van die plaaslike AfriForum-tak, het aan Maroela Media vertel vier indringers het toegang tot die huis verkry deur diefwering en ʼn venster van die huis oop te breek. Die twee mans het wakker geskrik toe ʼn skoot afgevuur word en toe was die aanvallers reeds in hul slaapkamer.

Die skoot het die muur getref en niemand is gewond nie.

“Die mans is rondgeruk en vasgebind terwyl die aanvallers vuurwapens en geld geëis het,” het Yssel gesê. ‘n 8-jarige seun het in ʼn ander slaapkamer in die huis geslaap terwyl die voorval gebeur het. Volgens Yssel was die aanvallers ook in sy kamer en het hulle daar vir waardevolle items gesoek, maar die kind het nie wakker geword nie.

Yssel sê die aanvallers het terwyl hulle in die huis was hul skoene geruil deur die slagoffers se skoene aan te trek en hul eie skoene in ʼn sak te gooi en saam met hulle te vat. Hulle het uiteindelik met twee voertuie en verskeie items uit die huis insluitend ʼn yskas, elektriese ware en kruideniersware op die vlug geslaan.

“Een van die mans kon daarin slaag om tot by die kombuis te kruip waar hy ʼn mes gebruik het om homself en die ander man los te sny. Hulle kon daarna hulp ontbied,” het Yssel gesê.

Sy het gesê dit is nie die eerste keer dat dié slagoffers onder misdaad deurloop nie. Enkele weke gelede is 45 van die mans se trop van 50 skape gesteel. “Dit het basies hul boerdery tot ʼn stilstand gebring, want omtrent al hul skape is weg. Hulle boer op kleinskaal met skape en hoenders en dié diefstal is ʼn baie groot terugslag vir hulle,” sê Yssel.

Sy sê die Elandshoek-omgewing is raadop met die hoeveelheid misdaad in die gebied. “Vir die afgelope byna twee maande gebeur daar minstens elke week iets. Inbrake, gepoogde inbrake, drade wat geknip word – die omgewing gaan gebuk onder die misdaad. Dit was nou die eerste keer waar inwoners direk aangeval en aangehou is.”

Volgens Yssel word daar vermoed dat dit dieselfde groep is wat telkens die misdade uitvoer, aangesien die modus operandi elke keer dieselfde is.

Ao. Johan van Dyk, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Hy het gesê die aanvallers het met ʼn Nissan-bakkie en ʼn Chevrolet Spark op die vlug geslaan. Die voertuie is nog nie teruggevind nie.

ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ek weet sommer ·

Huisroof meer poging tot moord. Daar is n skoot afgevuur.

Die waarheid ·

Hoe slaap hulle deur al die lawaai van die inbraak? Ek weet nie meer nie. Party mense is net onverantqoordelik. Mense op plase en kleinhoewes moet begin oplet na die tekens(afrika) wat voor elke inbraak of aamval uitgeplaas wotd. Gaan google dit en kry die opleiding of inligting dis die moeite werd.

Schalk ·

Cyril jou mense neem verantwoordelikheid jy regeer so jy is die aanvaller want jy en jou mense beskerm niemand nie.

Hanna Hoekom ·

Saak van huisroof? You must be joking, right? Hulle kom om te plunder en kan nie n knars omgee of iemand in die proses beseer word nie.

Thinus Erasmus ·

Die laaste skans staan wankelend tussen die Republiek van Suid Afrika en Azania Anargie, en die wat dit moet beskerm (die regering) is besig om dit van agter af te breek om daarmee altare te bou vir die slagoffer wat kom!
Africa wants ……… Africa takes

Theresa ·

Kan daar nie ”n berede afdeling aangeskaf word nie? Met ‘n groot honde afdeling vir wanneer hul benodig word.
Groot en sterk en doelgerig.
Opgelei, korrek en visie-vas. Om mense op landelike en plaas-areas te beskerm deur patrolering sonder vasgestelde roetes en tye.
Streng keurings en verkieslik behartig deur ”n privaatmaatskappy.
Dis ”n misdaad opsigself dat soveel misdaad “toegelaat” word/plaasvind.

Hannes ·

Eerstens dwaal die polisie deur te praat van huisroof. Die regte benaming is roof met verswarende omstandighede omdat n vuurwapen gebruik is.
Tweedens is daar n voorgeskrewe minimum vonnis vir roof met verswarende omstandighede. 15 jaar tronkstraf vir n eerste oortreder, 20 jaar vir n tweedw keer en 25 jaaar vir n derde keer.
Hierdie vonnise moet opgele word tensy die hof bevind daar is uitsonderlike omstandighede om hiervan af te wyk.
Vir poging tot moord is daar geen sulke minimum vonisse nie.
Roof met verswarende omstandighede word in die selfde lig as moord en verkragting gesien en is ernstiger as poging tot moord.

Erika Hendrikse ·

Baie goeie idee, hier is mense wat kan deelneem m.a.w goeie ruiters, wie gaan perde, saals, rooms en nb kos skenk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.