Mantashe: ‘Ek laat ʼn komplekse amp agter’

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, praat met verslaggewers in aanloop tot die party se 54ste nasionale konferensie (14 Desember 2017) Foto: Getrude Makhafola/ANA

Gwede Mantashe, die ANC se uitgaande sekretaris-generaal, het Donderdag gesê hy het gemengde gevoelens nou dat hy ʼn “moeilike en ingewikkelde” amp agterlaat.

Hy het dié uitsprake gemaak in aanloop tot die ANC se 54ste nasionale konferensie wat Saterdag in Johannesburg begin en Woensdag tot ʼn einde sal kom.

“Om ʼn amp agter te laat wat ek vir tien jaar lank beklee het, bring gemengde gevoelens mee. Dit is ʼn baie moeilike amp, baie kompleks… Jy absorbeer die blaam vir alles en kry krediet vir niks… en dit is dit. Ons het dit geniet. Ons kom nou tot ʼn einde,” het Mantashe aan verslaggewers by Nasrec gesê waar die konferensie gehou sal word.

Ten spyte van geskille oor kandidaatnominasie, waarvan sommige in die hof gedraai het, het Mantashe gesê die konferensie, waar pres. Jacob Zuma se opvolger gekies sal word, gaan voort soos beplan. “Ons is bly dat die konferensie voortgaan. Dit sal suksesvol wees, dit sal nie ineenstort nie. Die mense wat sê dit gaan ineenstort is waarskynlik al klaar teleurgesteld,” het hy gesê.

“Dit sal die mees goed-georganiseerde, mees boeiende konferensie wees. Ons het môre-aand ʼn gala-ete en Saterdag sal dinge aan die gang kom.”

Die konferensie word bestempel as die belangrikste in die ANC se geskiedenis en sal ook die verkiesing van die party se topses-leiers en Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK)-lede wees. Die konferensie sal nuwe beleide bespreek in aanloop tot die 2019 algemene verkiesing.

Sewe presidensiële kandidate het meegeding om by Zuma oor te neem, maar adjunkpres. Cyril Ramaphosa en voormalige voorsitter van die Afrika-Unie, Nkosazana Dlamini-Zuma, is die voorlopers in die stryd tot presidentskap.

Die stemproses vir die nuwe ANC-president sal Sondag plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.