Ná skokkende bewerings van onregmatige invloed en ʼn quid pro quo-manipulasie om permitte en beheer van gasterminale te bekom, is Karpowership se posisie as ʼn voorkeur-bieër vir die RMIPPP nou wettiglik onhoudbaar.
Karpowership is drie jaar gelede aangekondig as een van die voorkeur-bieërs vir die risiko-verligtingsprogram vir kragverkryging by onafhanklike kragprodusente (RMIPPP).
“Hulle het egter heeltemal misluk om aan die vereistes van die RMIPPP te voldoen en ondermyn nou die land se wette om te kry wat hulle wil,” sê Kevin Mileham, die DA se skaduminister oor energie.
“Gebaseer op beskikbare bewyse, behoort Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne en energie, onmiddellik Karpowership se status as voorkeur-bieër te herroep en hulle te verbied om verder deel te neem aan die energie-sektor van Suid-Afrika.”
Mileham sê dit moet op rekord gestel word dat die DA vroeër ʼn ondersoek aangevra het deur die parlementêre portefeuljekomitee vir minerale hulpbronne en energie na die RMIPPP, spesifiek Karpowership.
“Alhoewel dit aanvanklik aanvaar is, is daar nooit met die proses van die ondersoek na Karpowership voortgegaan nie. Die jongste onthullings van onregmatighede bevestig dat ons regverdige redes vir ‘n parlementêre ondersoek gehad het.”
ʼn Vertroulike memorandum van verstandhouding tussen Karpowership en sy nuwe BBBEE-maatskappy, BHI Energy (met Anna Mokgokong as voorsitter) het aan die lig gekom. Volgens Mileham beklemtoon dit wat Karpowership bereid is om te doen om beheer te verkry van Suid-Afrika se gasterminale, “soos truuks direk uit die staatskaping-handboek”.
“Die paar magtigings en lisensies wat Karpowership, en sommige van sy vennote, tot dusver verkry het, is nou onder ʼn donker wolk van verdenking – veral die moontlike metodes wat hulle gebruik het om dit te bekom.”
Mileham sê dit is die DA se oorwegende mening dat, in die lig van die openbarings wat in die memorandum van verstandhouding voor die hof aangebied is, die artikel 79-beslissing wat aan Karpowership deur die voormalige minister van vervoer, Fikile Mbalula, toegeken is, nou heroorweeg en tersyde gestel behoort te word. Die drie kragopwekkingslisensies wat in 2021 aan Karpowership IPP’s deur Nersa toegeken is, moet nou ook aan administratiewe hersiening onderwerp word.
“Met al die negatiewe publisiteit wat Karpowership gevolg het sedert hulle as een van die voorkeur-bieërs vir die RMIPPP aangekondig is, het hulle geen voorneme om hul eie geld te gebruik om in Suid-Afrika ‘n onderneming op te rig nie. Hulle wil eerder hê dat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler hul nie-bestaande belegging subsidieer, en hulle is gereed om hierdie doelwit deur alle middele te bereik. Trouens, Karpowership behou nou sy status as voorkeur-bieër vir spekulatiewe doeleindes en Mantashe behoort dit onmiddellik te beëindig om ‘n einde te bring aan die bedrogspul.”
Kom Alibaba en die 40 diewe nie van Turkye nie (fabel of nie).
Kan dié kragskepe nie maar net kom en begin krag opwek nie? Álles bly net by praat praat praat en kritiseer kritiseer kritiseer. Intussen hou beurtkrag maar net aan en aan en aan.
Mantashe het reeds met die kragskepe saamgesmee. Die spulletjie is net ‘n geheim totdat alles so gebind is dat niemand dit kan omkeer nie. Ons het nie geld nie maar die Reserwebank het seker darem nog ‘n goue hennetjie of twee iewers in ‘n kluis?