Mantashe moet waai – DA

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energiesake. (Foto: Twitter)

ʼn Beslissing deur die Pretoriase hooggeregshof dat die omgewingstoestemming vir die Khanhisa-steenkoolkragsentrale in Mpumalanga verval het, moet volgens die DA die laaste spyker in die kis wees vir ʼn kragopwekkingstoekoms wat op steenkool gegrond is.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê die besluit kom boonop kort nadat die Thabmetsi-steenkoolaangedrewe kragsentrale in Limpopo ook op die lange baan geskuif is.

Mileham sê voeg hierby die feit dat Eskom se algehele energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF) – die prestasie van die kragvoorsiener se opwekkingsfasiliteite – nou ʼn rekordlaagtepunt van 64% bereik het en Suid-Afrika sit met “die perfekte storm” in kragopwekking.

Mileham sê internasionaal word steun vir steenkoolkragopwekking onttrek en die tyd is reg vir Suid-Afrika om alternatiewe kragopwekkingsoplossings te vind.

Hy sê Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, bly egter ʼn remskoen vir die ekonomie en die opwekkingsektor.

Volgens Mileham het pres. Cyril Ramaphosa gister weer sy steun gegee vir ʼn verhoging van die drumpel vir die lisensiëring van opwekkingsaanlegte wat meer is as die 10 MW-beperking wat Mantashe in werking wil stel.

Die DA stel verskeie maatreëls voor wat as ʼn saak van dringendheid in werking gestel moet word om die ekonomie en die land te red. Dit sluit in ʼn verhoging van die drumpel vir opwekkingsfasiliteite tot 50 MW, ʼn hersiening van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit om dit makliker te maak vir onafhanklike kragvoorsieners om die mark te betree, deursigtigheid in die manier hoe kragtariewe bepaal word, aansporings vir energiedoeltreffendheid en om dit makliker te maak vir munisipaliteite om hul eie krag op te wek of aan te koop en nie net op Eskom staat te maak nie.

Mileham sê in die Wes-Kaap word munisipaliteite aangemoedig om meer onafhanklik van Eskom te word.

Hy sê dit is nou tyd vir Ramaphosa om standpunt in te neem en Mantashe in die pad te steek.

“Hy is ʼn bedorwe individu weens verskeie bewerings van inmenging en onvanpaste regstreekse en onregstreekse betrokkenheid by winsgewende kontrakte uit ʼn persoonlike en politieke perspektief.

“Veel, veel erger is egter sy hantering van die kragkrisis. Hy het ʼn beleid voortgesit wat onbekostigbare steenkool-, gas- en kernkragoplossings ten koste van ons land bevorder en het geen tasbare vordering gemaak om die kragopwekkingsektor vir ʼn breër mark, wat gretig is om te belê, oop te stel nie,” sê Mileham.

Volgens die DA moet Suid-Afrika laekoste, omgewingsvolhoubare oplossings vir die land se krag- en ekonomiese krisis vind.

“Om Mantashe as die minister van minerale hulpbronne en energie te hê help nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SomeOne ·

hy moes lankal sy tasse gepak het, hy babbel net tussen sy lippe deur, mens verstaan soms nie ‘n woord wat hy uiter nie

Adri ·

Is daar enige hoop dat wie hom ook al opvolg, anders gaan optree?

Anton ·

Ons probleem is nie tekort aan hulpbronne nie, dis ‘n tekort aan produktiwiteit.

Pieter ·

Die anc menisters is mos die slimste in die wereld hulle kan enige werk doen. Al wat julle narre doen is om ons belasting geld te mors. In die privaat sektor sal jy maar moet tee maak met jou graad twee. Dit is net jou anc party wat dink jy is baie slim. En om te dink ons belasting betalers is nog dommer as jy want ons betaal julle narre se selarisse.

Kanjynoumeer ·

Ek stem volkome saam met die DA. Mantashe is gewis n remskoen vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Ta-ta Mantashe.
Ta-ta ma chance gehad.

Yvonne ·

Hy het net eenvoudig nie die gawe van insig en wysheid ontvang nie…maar self loop is min in sy oe doen hy goed

Dirk Mostert ·

Dis dwaas om steenkoolkragsentrales uit te faseer ten gunste van onbetroubare “hernubare” krag. Wind-en sonkrag kan nie deurlopend krag lewer nie. Sonder koolstofbelasting en staatsubsidies is “hernubare” krag nie kompeterend nie. Turbines en sonpanele het ‘n beperkte rakleeftyd, dan moet hulle weer ten duurste vervang word. Die aksie teen fossielbrandstof is onwetenskaplik en kortsigtig.

Jack ·

Is hy nie een van die grotes in die anc nie? Hoe fire jy jou kameraad wat die anc se korrupsie instand hou en bevorder? Hy is soos hulle almal ingestel op sy eie koninkryk en sal niks oorkom nie. Wonder waar steek hy sy nkandla weg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.