Mantashe oor nuwe mynboumanifes

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Die nuwe mynboumanifes, wat vandag vrygestel word, sal bepaal dat werkers by myne en die gemeenskappe waarin myne geleë is, voordeel trek uit mynboubedrywighede.

Die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, het die aankondiging vanoggend by die bekendstelling van die nuwe manifes gedoen.

Bestaande mynboubedrywighede sal voortgaan om aan die vereiste swart bemagtigingsaandeel van 26% te moet voldoen.

Die bepaling is egter nie oordraagbaar nie en sal nie by die hernuwing van ʼn mynlisensie of vir nuwe mynbedrywighede geld nie.

In so ʼn geval sal ʼn swart bemagtigingsaandeel van 30% vereis word, waarvan 5% aandeelhouding aan die omliggende gemeenskap en 5% aan die werkers in die myn sal gaan.

Volgens Mantashe, wat baie tevrede voorgekom het, is dit ʼn konsensusdokument waartoe al die belangrike rolspelers ingestem het.

Dit volg op langdurige onsekerheid nadat ʼn manifes soos opgestel deur Mantashe se voorganger, Mosebenzi Zwane, onttrek is toe die Kamer van Mynwese dit in die hof wou bestry weens gebrekkige konsultasie.

Die vakbond Solidariteit het intussen die nuwe Mynbouhandves verwelkom.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sal die inhoud van die Mynbouhandves nie by almal byval vind nie en Solidariteit is self ongemaklik met sekere klousules, maar die finale weergawe is ʼn groot verbetering van die oorspronklike Zwane-weergawe. Alle mynbourolspelers het sedert Maart vanjaar ná Mantashe se aanstelling ruim geleentheid gehad om insette te lewer in die handves en die gee-en-neem-beginsel het tydens die onderhandelinge gegeld.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit Foto: Reint Dykema

“Solidariteit is dankbaar dat wit vroue weer ingesluit is in die definisie van ‘voorheen benadeelde Suid-Afrikaners’ en dat die werknemeraandeelhouerskema nierassig van aard is. Die bevordering van nierassigheid word juis as een van die doelwitte van die handves gestel. Dit is juis laasgenoemde aspek wat Sasol se Khanyisa-skema, wat op ras gegrond is, soos ʼn seer duim laat uitstaan in ʼn tyd waarin nierassigheid juis bevorder moet word,” het Du Plessis benadruk.

Solidariteit is ook dankbaar dat van die klousules wat bykomende druk met betrekking tot koste op maatskappye sou plaas, versag is, want uiteindelik sou mynmaatskappye van die koste van werkers moes verhaal. Maatskappye sou gevolglik laer loonverhogings moes aanbied of werkers aflê.

“Solidariteit is teleurgesteld dat die klousule wat voorsiening maak vir werkerverteenwoordiging in maatskappyrade ter elfder ure verwyder is, maar so was die onderhandelinge ʼn gee-en-neem-proses. Vakbonde sal wel sorg dat werkers se stem in die praktyk gehoor word,” het Du Plessis beklemtoon.

“Die finale handves het balanseerwerk geverg om verskeie belange in ag te neem en die belangrikste is nou dat alle rolspelers dié aspekte in die handves waaroor daar ʼn positiewe gevoel is, omarm en uitbou, en dié aspekte waaroor ʼn negatiewe gevoel bestaan, bestuur en poog om dit in belang van die mynbougemeenskap en Suid-Afrika in die geheel te laat werk. Dit is ook belangrik dat kennis geneem word van die oorgangsklousules wat ruim tyd toelaat vir die voldoening aan die meeste handvesvereistes en dat sekere sleutelvereistes eers in werking tree met die aansoek om ʼn nuwe mynlisensie.

“Daar moet ook begryp word dat dit een van die handves se onderliggende doelwitte is om stabiliteit in en om myne te bewerkstellig en daarvoor word ongelukkig ʼn prys betaal. Daarom is die voorgestelde gemeenskapsprojekte belangrik, want ʼn beleggersvriendelike handves beteken niks as vervreemde en ongelukkige myngemeenskappe dreig om mynproduksie te halt nie. Hopelik kan gesonde arbeidsverhoudinge – omdat werknemers nou werklike aandeelhouers word – en ʼn afname in gemeenskapsprotesaksie die positiewe gevolge vir die sektor wees,” het Du Plessis gesê.

“Laastens wil Solidariteit die departement van minerale hulpbronne, en minister Mantashe en die onderhandelingsfasiliteerder, Mosa Mabuza, in die besonder loof vir die wyse waarop hulle die moeilike proses bestuur het,” het Du Plessis afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Ek sien die reaksie elders in die media is maar erg negatief. Sekeres voorspel groot probleme vir die myne, en uitendelik vir die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.