Mantashe-stigting kap terug oor korrupsiebewerings

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energiesake. (Foto: Twitter)

Die Gwede Mantashe-stigting het hom gedistansieer van bewerings teen Caswell Mokoena, ʼn direkteur by die stigting, maar sê terselfdertyd hy is bekommerd oor die “patroon van nuusberigte” wat Mantashe self daarby betrek.

Die stigting het Mokoena intussen van sy pligte onthef.

Maroela Media het vroeër berig die jongste bewerings teen Mantashe – ook die minister van minerale hulpbronne en energiesake – hou verband met die omstrede projek waarvolgens Mantashe se departement sonkraggeisers aan verbruikers moes verskaf. Die projek sloer al jare lank en daar staan glo pakhuise vol geisers landwyd wat stof opgaar.

News24 het ook onlangs berig dat die stigting moontlik by geldwassery betrokke kan wees. Dít nadat Voltex, ʼn filiaal van die Bidvest-groep, glo verskeie verdagte betalings gedoen het aan die maatskappy Ntlokholo Investments.

Mokoena, bedryfshoof van die Gwede Mantashe-stigting, was ʼn direkteur van Ntlokholo. Een van die kwessies wat die betalings verdag maak, is dat ʼn betaling ten bedrae van R935 000 aan die Gwede Mantashe-stigting as skenking gemaak is.

Die stigting sê nou die beriggewig is kwaadwillig en oneties en hy het ʼn beroep op die media gedoen om “akkuraat, feitelik en objektief” daaroor verslag te doen.

“Die stigting het nie enige regstreekse of onregstreekse betalings van die maatskappye wat in die verslag genoem word, ontvang nie. Wanneer bewerings van wangedrag of betalings oor ʼn individu of entiteit gemaak word wat dalk bande met die stigting het, moet dit voor daardie persoon of entiteit se deur gelê word,” lui ʼn verklaring van die stigting.

Die stigting sê hy is ten sterkste gekant teen enigiemand met wie hy bande het wat moontlik sy amptelike handelsmerk, enige van sy materiaal, of die posisie wat hy beklee kan misbruik op ʼn manier wat die stigting se beeld en aansien skade berokken en dus sy doelwit ondermyn.

“In daardie opsig was dit verkeerd van Caswell Mokoena om die stigting se briefhoof te gebruik soos hy gedoen het.”

Die DA het intussen Mantashe se kop geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos10 ·

Praat, praat en nog praat. Die feit is niemand glo jou nie Mantashe. Die geskiedenis het ons geleer. Bring bewyse!

Andries ·

Die media kan vrae vra maar as hy nie van die antwoord hou wat hy moet gee nie , is die media oneties. Tipiese ontwykende gedrag.

Adam Adriaan ·

Nou begin die man darem weer met sy riel danse om uit die pekel te bly met sy lieg stories

Hennie J ·

Gee hulle dit wat hulle toekom. Hulle is absolute meesters daarin om die gewone man te belieg en te bedrieg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.