Mantashe verkla ná onthullings oor ‘omkopery’

Die DA het die parlementêre portefeuljekomitee oor etiek en ledebelange gevra om die optrede van Gwede Mantashe te ondersoek, ná ʼn onthulling dat hy glo twee joernaliste omgekoop het.

Sunday World het die naweek berig Mantashe, die minister van minerale hulpbronne en energie, het erken hy het twee van dié koerant se verslaggewers R70 000 betaal om ʼn berig oor sy persoonlike lewe te laat “verdwyn”. Dit hou verband met bewerings van ʼn onvanpaste seksuele verhouding.

“Twee joernaliste van jou publikasie het my oor dieselfde berig gebel. Jy is die derde een om my oor die berig te bel, soek jy ook geld? Ek het hulle betaal en nou bel jy oor dieselfde storie. Elke keer het ek gevra wanneer die berig geplaas gaan word en hulle het gesê die bewyse is vernietig,” het die koerant Sondag oor Mantashe se beweerde erkenning berig.

“Ek het hulle gesmeek om nie die berig te skryf nie. Ek het twee verslaggewers by jou publikasie betaal. Ek gaan nie hul name bekend maak nie, jy kan onder jou kollegas verneem én vir Lerato vra om hul name te verskaf. Skryf die berig, dít is my kommentaar.”

Die DA sê die minister het wesenlik erken dat hy twee verslaggewers omgekoop het. Die party beskou dit as ʼn skulderkenning waarvoor Mantashe verantwoordbaar gehou moet word en bestempel sy beweerde optrede as ʼn oortreding van die parlement se gedragskode.

Die DA sê as parlementslede moet ministers die hoogste standaard handhaaf en etiese leierskap toon.

“As iemand eties gemaklik voel om omkoopgeld te betaal, moet die vraag gevra word of dieselfde individu dit eties aanvaarbaar vind om omkoopgeld te aanvaar,” het Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor energie, gesê.

“Dit raak kommerwekkend as dit blyk die individu midde-in die bewerings is ook in beheer van Suid-Afrika se kernplanne, minerale hulpbronne en energie.”

Mileham sê die minister én die betrokke joernaliste het moontlik ook die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede oortree.

“Die DA verwelkom Sunday World se ondersoek na die kwessie en glo die betrokke joernaliste sal verantwoordelik gehou word, asook dat streng stappe teen hulle sal volg. Hopelik sal die parlementêre etiekkomitee die saak teen Mantashe as ʼn kwessie van dringendheid beskou en dit ondersoek met die erns wat dit verdien,” het Mileham gesê.

“Bruinkoevert-joernalistiek moet afgekeur word en diegene wat daarby betrokke is, moet verantwoordbaar gehou word. Dit is onaanvaarbaar vir enige kabinetslid om die media of individuele joernaliste om te koop, ongeag die berig of gebeurtenis.”

Die DA sê Suid-Afrika verdien ʼn vrye en regverdige media wat onpartydige inhoud verskaf.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het ook sy skok oor die bewerings uitgespreek.

“Sanef is ʼn voorstander van etiese joernalistiek. Ons glo dat enigiemand met bewyse van onetiese joernalistiek – ook die oortreding om geld te aanvaar – dit by die Persraad moet aanmeld,” het die forum in ʼn verklaring gesê.

Sanef het reeds ʼn onafhanklike ondersoek na die geloofwaardigheid en etiek in die media van stapel gestuur. Die ondersoek word gelei deur afgetrede regter Kathleen Satchwell. Sy het ʼn beroep gedoen op enigiemand met inligting oor onetiese joernalistiek om die kommissie te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Dis nie nuus nie. Dit lyk mos of hulle almal geraamtes in die kas het. Party vat net langer om uit te kom.

Hendrik van George ·

Al rede waarom die multi-miljoenêr daaroor bieg, is omdat hy weet dat daar niks van gaan kom nie. Untouchable cANCer…..

Ig ·

As n ding roer is hulle daar, as hy nie roer nie skop hulle hom tot hy roer

Henry ·

Vrot tot op die wortels. Niks verbaas ons meer nie. Die gemors het al die beskaafde samelewing geïnfiltreer. Dit het deel van mens wees geword. Baie baie sleg. Geen skaamte meer nie

skurweberg ·

Al wat nodig is, is ‘n SORRY!!!!!!!!!! dan is alles reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.