Mantashe vra vir eenheid in ANC

Ace Magashule by die bekendstelling. Foto: ANA.

Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, het Sondag weer eens ʼn beroep gedoen vir eenheid in die party voor die 2019 nasionale en provinsiale verkiesings.

Mantashe het die uitlatings in Seraleng naby Rustenburg by die bekendstelling van die “Nomzamo Winnie Madikizela-Mandela- vrywilligersbrigade” gemaak en gesê mense sal nie vir ʼn faksie in die ANC stem nie, maar eerder vir ʼn verenigde organisasie.

“Faksies het geen orde nie, kom ons wees ʼn organisasie van aksie soos ons gaan en uitreik na mense. Kom ons bring ontwikkeling na die mense maar onthou ook om hulle in die proses te betrek. Ons werk as vrywilligers sal maklik wees as ons die ANC eerste plaas eerder as om leiers te aanbid,” het hy gesê.

Die ANC in Noordwes het onlangs tekens van verdeeldheid getoon waar een faksie ANC-geleenthede in Rustenburg en Mahikeng ontwrig het.

Mans met knopkieries en gholfstokke het op 4 Maart ʼn ANC-jeugliga registrasiegeleentheid ontwrig en mense by die geleentheid in Boitekong aangerand.

ʼn Soortgelyke groep het gepoog om ʼn openbare betoging in Mahikeng op 20 Maart te ontwrig.

Tshiamo Tsotetsi, die ANC-jeugliga se woordvoerder in Noordwes, het gesê dit is tyd om van korrupsie in die ANC in die provinsie ontslae te raak.

Susanna Dantjie, waarnemende provinsiale sekretaris, het gesê op ʼn spesiale gesamentlike vergadering van die provinsiale werkskomitee en nasionale uitvoerende komitee is daar ooreengekom dat die beplande mosie van wantroue in premier Supra Mahumapelo wat deur die EFF ter tafel gelê is, teengestaan moet word.

Die mosie sal op 17 April in die wetgewer gedebatteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jerry ·

Die Zuptas en hulle lojaliste het nog nooit opgehou om verdeeldheid in die ANC te saai nie en hulle sal ook nie, omrede hulle nie kan bekostig dat die gereg sy gang gaan teen hulle. Mantashe kan op sy kop staan en eenheid bepleit soveel hy wil, dit gaan nie help nie. Faksie gevegte tussen die korruptes en anti-korruptes sal voortduur totdat die een of die ander verslaan is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.