Manyi kap na ‘hoofstroommedia’ voor Zondo-kommissie

Mzwanele “Jimmy” Manyi getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping in Parktown, Johannesburg (26 November 2018). Foto: Dimpho Maja/ANA

Die Zondo-kommissie het Maandag gehoor The New Age (TNA) het meer geld uit die regering se advertensiebegroting ontvang as ander mediahuise, ondanks Mzwanele Jimmy Manyi se getuienis dat die koerant slegs 5% van die begroting ontvang het.

Vincent Maleka, die getuienisleier van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het Maandag Manyi met vrae gepeper oor sy getuienis waartydens Maleka die presiese advertensiebedrae per koerant uiteengesit het. Manyi het vroeër TNA met die SAUK en Ads24, ʼn been van die Media24-groep, vergelyk.

Manyi het gesê van die regering se algehele begroting van R194 miljoen in 2011-’12, het die SAUK R68 miljoen ontvang, gevolg deur Ads24 wat R18 miljoen ontvang het, Avusa (nou Tiso Blackstar) wat R11 miljoen ontvang het, eTV wat R8 miljoen gekry het en TNA wat ook R8 miljoen uit die begroting gekry het.

“TNA het minder as 5% van die advertensiebegroting ontvang,” het Manyi gesê.

Maleka het egter dié getuienis betwis en gesê die vergelyking tussen die mediahuise was ongegrond. Hy het onder meer daarop gewys dat Ads24 verskeie publikasies insluit, waaronder die City Press-koerant.

“As jy sou kyk hoeveel City Press deur die regering as inkomste ontvang het, sal jy mos nie na die hele groep kyk wat deur Naspers besit word nie, jy sal net na City Press kyk, korrek?” het hy vir Manyi gevra.

Manyi het hierop geantwoord City Press het die grootste deel van die geld by Media24 ontvang.

“Kyk mooi na die syfers, mnr. Manyi,” het Maleka volgehou. “Die advertensie-inkomste wat City Press ontvang het, was R199 323. Dit is jou GCIS-syfers. Ons weet City Press is ʼn gevestigde publikasie wat lank voor 2011-’12 op die been gebring is. Vergelyk dit nou met wat TNA in dieselfde jaar verdien het. TNA het 20 keer meer in regeringsbesteding verdien. Ons weet nou uit jou getuienis dat TNA R8,7 miljoen ontvang het vanaf die GCIS, korrek?”

Manyi het hierop “ja” geantwoord, maar gesê Maleka “vergelyk nou appels met pere” omdat City Press ʼn weeklikse koerant is en TNA was ʼn daaglikse koerant. Maleka het hierop begin om TNA met ander dagkoerante te vergelyk.

“Jy probeer van ʼn koerant af weghardloop deur koerantvergelyking. Kyk na ander koerante wat daagliks verskyn. Jy het aan die voorsitter gesê die Daily Sun, wat volgens jou die grootste sirkulasie het, het R8 778 verdien. The Times, ook ʼn daaglikse publikasie, het R183 000 verdien. The Star het R97 000 ontvang.”

Manyi het ongemaklik in sy stoel geskuif en gesê Maleka neem ʼn “meganiese benadering”. Hy het aangevoer daar is “’n bietjie meer gesofistikeerdheid” wanneer daar besluit word waar die regering se advertensies moet gaan, soos deur die GCIS se Telmar-stelsel bepaal word.

Maleka het hierop aan die voorsitter gevra wat is die doel daarvan dat Manyi aanvoer dat TNA 5% van die regering se advertensiebegroting ontvang het as daar nie op analitiese wyse na hierdie syfers gekyk gaan word nie.

“Dít is koerante met geouditeerde sirkulasiesyfers wat al baie jare aan die gang is. TNA het in sy eerste sakejaar meer as R8 miljoen verdien. Korrek?” het Maleka gevra.

“Ja”, het Manyi geantwoord.

Manyi het egter gesê daar is niks nuuts daaraan dat mense “nuwe dinge” omarm nie soos TNA wat volgens hom “anders” was en nie “deurspek met onakkuraathede” nie.

Mzwanele “Jimmy” Manyi getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping in Parktown, Johannesburg (26 November 2018). Foto: Dimpho Maja/ANA

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het aan Manyi gesê hy het ʼn probleem gehad met ʼn artikel wat deur TNA gepubliseer is nadat een van die koerant se joernaliste ʼn onderhoud met hom gevoer het. Zondo het gesê ʼn opname van die hele onderhoud moes vir TNA gegee word om die koerant in staat te stel om hul artikel te korrigeer.

Manyi het skynbaar nie verstaan wat Zondo gesê het nie, want hy het losgetrek en ander koerante blameer. “Dít is die tipe Suid-Afrika waarin ons leef. I rest my case.”

Manyi het aangevoer dat ANN7 en TNA, wat hy deur verkoperfinansiering gekoop het, deur die hoofstroommedia “gestraf” is omdat hulle “simpatiek teenoor die regering” was. Hy het gesê hy het die onderneming oorgeneem om mense se betrekkings te red.

“Minstens 500 mense sit nou sonder werk oor iets wat verhoed kon gewees het. As iemand ʼn probleem met ʼn Manyi of ʼn Gupta gehad het, kon dit uitgesorteer word, maar die onderneming moes nie ondermyn word nie. Dit het ʼn alternatiewe siening in die mediabedryf gebied en het baie jong mense, hoofsaaklik swart, in diens gehad. Dit is ʼn tragedie om die onderneming te moes verloor.”

Manyi het volgehou die land se vier grootste mediahuise het ʼn aanslag teen TNA gevoer. “Dit was alles ʼn media-ophef wat ontwerp is om ʼn alternatiewe siening stil te maak en die hoofstroommedia se narratief te vestig.”

Manyi se Lodidolox het verlede jaar ANN7 vir R300 miljoen en The New Age vir R150 miljoen by die Guptas gekoop. Die maatskappye is vanjaar gelikwideer weens ʼn afname in advertensie-inkomste van die regering, waarop die maatskappye swaar gesteun het, en personeel wat dus nie betaal kon word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.