Manyi verdedig steun aan Guptas se koerant

Jimmy Manyi. Foto: ANA

Die voormalige hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), Mzwanele (Jimmy) Manyi, het sy steun aan die dagblad The New Age (TNA) verdedig en gesê dit het ʼn redaksionele benadering gebied wat van die res van die land se mediahuise verskil het.

Manyi het in sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig hy het staatsdepartemente se direkteurs-generaal aangespoor om van die koerant gebruik te maak.

TNA het goed ingepas by wat die regering probeer doen het,” het hy gesê. “Die regering het ook die infrastruktuur gehad om die koerant te help ontwikkel. Dit was ʼn welkome skuif … dit het ʼn ander redaksionele ingesteldheid daargestel wat nie vyandig jeens die regering was nie.

Destyds was daar ʼn aanslag deur die koerante teen die regering.

“Destyds was daar ʼn aanslag deur die koerante teen die regering. TNA se benadering was heeltemal anders. Sy beskouing was dat die glas halfvol pleks van halfleeg was, en sy advertensiekoste was billik.”

Manyi het getuig hy het gehou van die dagblad se “kreatiwiteit en innovering betreffende beriggewing oor al nege provinsies”. “Dit was ʼn nuttige publikasie aangesien die regering gewoonlik ʼn probleem het. Koerante is nie ʼn vervoerband vir die regering nie, maar ʼn waghond.”

Hy het tydens sy tweede dag van getuienis weer gesê hy verkies om eers sy weergawe te stel voor hy ondervra word deur adv. Vincent Maleka. Hy het aan die voorsitter, adjunkhoofregter Raymond Zondo, gesê hy het nie regsverteenwoordiging nie en sal graag self die vrae wil beantwoord wat die kommissie aan hom gestuur het.

Manyi, wat later die eienaar van die nou gewese TNA en nuuskanaal ANN7 geword het, het toe weer kritiek gelewer op die huidige hoof van die GCIS, Phumla Williams, en aan Zondo ʼn artikel gewys wat in 2013 op die nuuswebwerf The Daily Maverick verskyn het.

Williams het gesê druk is op haar uitgeoefen om die geleenthede te laat plaasvind.

Die joernalis het Williams uitgevra oor die doel van die TNA-ontbytgeleenthede. Sy het geantwoord dat dit die minister en die president die geleentheid gebied het om toeganklik te wees. Williams het gesê druk is op haar uitgeoefen om die geleenthede te laat plaasvind.

Manyi het gesê Williams wou dit in haar getuienis voor die kommissie laat klink asof sy geboelie is om die ontbytgeleenthede toe te laat, maar eintlik was sy ʼn ondersteuner van TNA.

Zondo wou toe by Manyi weet of Williams in haar privaat hoedanigheid of as staatsamptenaar op die vrae van die joernalis gereageer het. Manyi het gesê dit was duidelik die antwoorde van iemand wat die staat se standpunt verwoord het.

Die omstrede Gupta-familie het die koerant in 2010 begin.

Die omstrede Gupta-familie het die koerant in 2010 begin. Manyi het as GCIS-hoof oorgeneem nadat Themba Maseko ontslaan is, blykbaar sodat die GCIS namens die Guptas kon optree.

Maseko was onder druk om staatsadvertensies van R600 miljoen na TNA te kanaliseer. Toe hy dit nie gedoen het nie, is hy ontslaan en deur Manyio vervang.

In 2017 het Manyio se maatskappy ANN7 vir R300 miljoen en TNA vir R150 miljoen by die Guptas gekoop, maar albei is vanjaar gelikwideer nadat hul inkomste uit staatsadvertensies skerp gedaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eugene ·

Dis duidelik dat die koerant dit nie kon maak sonder reuse finansiële hulp vanaf die regering nie aldus die belasting betaler.

Gert van Wierdapark ·

Jimmy, destyds hoofman van CGIS, het hom lelik MisGis met die Guptas se media propaganda blaaie en so sy eie doppie geklink. Uit sy optrede voor die Zondo Kommissie kom dit uit dat die New Age se invloed sy stempel hard en duidelik op die kerel afgedruk het!

Dries du Toit ·

Met hierdie man gaan jy groot leuens hoor. Hy kan lekker lieg

GES ·

Die vermorsing van geld en hulpbronne het SA sodanig verarm dat teen hierdie tempo SA ʼn 2de Zimbabwe gaan word. Die ondersoeke en kommissies lei telkemale na niks en die skuldiges word nie vasgevat nie. Gaan die Zondo kommissie werklik die golf van korrupsie en wanbestuur stuit? Sien is glo …

At Dippenaar ·

Hygend! TNA was die regering se waghond!? Dit het eerder hul gestelery en Zuma se staatskaping verdoesel. Hoe kan ‘n glas net half leeg wees, maar nie half vol nie. Ek het die artikel nie eens halfpad deurgelees nie toe is ek dik vir Manyi se belaglike redenasies….

At Dippenaar ·

My nou so vervies, skoon vergeet om te vra. Bestaan TNA nog? Ek onthou daar is destyds met die bekendstelling daarvan vir maande lank bondels en bondels koerante gratis by taxi staanplekke regoor die land afgelewer. Net dit alleen moes derduisende gekos het. Watter nuutgevonde koerant kan so bemarkingsfoefie uit sy eie sak betaal….?

Robert ·

At: nee hulle is tot niet. Spin dokter manyi het hulle gekoop na die guptas gevlug het. Nou is die koerant bangkrot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.