Mapisa-Nqakula glo gou in hegtenis

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Foto: @ParliamentofRSA/X)

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, gaan haarself glo Vrydag aan die polisie oorgee.

Mail & Guardian berig Mapisa-Nqakula gaan in hegtenis geneem word oor bewerings van korrupsie en geldwassery ten bedrae van R4 miljoen.

“Ons verwelkom dat wetstoepassingsagentskappe soos die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en Valke sonder vrees of guns begin optree en dat ’n individu se politieke status hulle nie teen aanspreeklikheid beskerm nie,” het Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, in reaksie op die berig gesê.

“Dit versterk nou ons oproep aan die speaker om onmiddellik uit te tree. Versuim om dit te doen, bring die parlement in oneer.”

Lede van die NVG se ondersoekdirektoraat het Dinsdag ’n klopjag op Mapisa-Nqakula se huis in Johannesburg uitgevoer.

Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die NVG, het vroeër gesê die klopjag hou verband met ’n “ondersoek” teen die speaker. Mhaga wou egter geen verdere kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.

Verdoemende bewerings van korrupsie is onlangs teen Mapisa-Nqakula geopper.

Die speaker word daarvan beskuldig dat sy gedurende haar tyd as minister van verdediging en militêre veterane R2,3 miljoen se omkoopgeld in die vorm van sogenaamde geskenkpakkies van ’n diensverskaffer van die weermag aanvaar het.

Die bewerings word tans deur die parlement se etiekkomitee ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Yvonne ·

Hierdie is nie eers die seekoei se oortjies nie….snaaks hoe selektief die regering optree

Christine ·

Die groot menere van korrupsie bly doodstil en rustig in hul huise, terwyl hul rusbanke vol dollars gepak was. Hierdie tannie se korrupsie is ‘n druppel in die emmer in vergelyking met die groot name. Ja, sy is seker gedreig met haar lewe, sodat die gemeenskap moet dink hul leiers is eerbaar. Wat’ n grap.

Peach ·

#Yvonne, sien die positiwiteit daarin, die wiel van geregtigheid draai stadig maar, ten minste draai dit. Ek voorsien meer prominente politici gaan binnekort in die beskuldigde bank antwoorde moet verskaf.

domheks ·

“”Mapisa-Nqakula glo gou in hegtenis””
Wonder of cANCer dink ons sal dit glo? .. ?

Republikein in die Wes Kaap ·

Peach, wag totdat die spul teen mekaar draai. Dán gaan die pret begin. Daar is geen eer tussen skelms nie.

skurweberg ·

Verdoemende bewerings impliseer onweerlegbare bewerings, arristeer haar dan en sluit haar toe. Damning allegations imply indisputable allegations, then arrest her and lock her up.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.