Mapisa-Nqakula se kop geëis oor Zim-vlug

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Argieffoto: GCIS)

Politieke partye het hul misnoeë uitgespreek oor pres. Cyril Ramaphosa se straf vir Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister van verdediging, oor ʼn ANC-afvaardiging se vlug na Zimbabwe met een van die SA Lugmag se stralers.

Kobus Marais, die DA se skaduminister van verdediging, het gesê sy party eis dat Ramaphosa die minister nog voor die einde van die week afdank. “Die president se besluit, om haar bloot te tugtig nadat sy doelbewus verantwoordelik was vir die ANC se misbruik van ʼn straler van die Suid-Afrikaanse Lugmag, is eenvoudig nie goed genoeg nie. Hierdie teregwysing wys nie hoe ernstig pres. Ramaphosa is oor die minister se pligsversuim nie; dit wys hoe swak hy is om lede van sy party en die uitvoerende raad aanspreeklik te hou.”

Maroela Media het vroeër berig Mapisa-Nqakula het ʼn formele teregwysing van die president ontvang; haar salaris word vir drie maande, vanaf 1 November 2020, opgeskort; en die ANC moet die koste terugbetaal.

Marais het gesê die president het die misbruik van staatshulpbronne afgemaak as ʼn “oordeelsfout”.

Die president het gesê Mapisa-Nqakula het:
– nie in die belang van goeie regering opgetree het nie, soos vereis deur die gedragskode vir uitvoerende lede;
– versuim om te voldoen aan regsvoorskrifte wat die gebruik van staatshulpbronne regverdig;
– opgetree in ʼn manier wat strydig is met haar posisie, soos vereis deur die gedragskode.

“Dit is verdoemende bevindings teen minister Mapisa-Nqakula, en tog kry sy net ʼn tikkie oor die vingers,” het Marais bygevoeg.

Die DA wil weet wat die bedrag is wat die ANC gaan terugbetaal. (Foto: Tawanda Mudimu/The Herald)

Hy het gesê dit herinner aan hoe oudpres. Jacob Zuma aanspreeklikheid vrygespring het ná die Nkandla-skandaal wat nóg ʼn “blatante voorval van die misbruik van staatshulpbronne” was.

“Ons kan eenvoudig nie toelaat dat die minister skotvry hiervan afkom nie. Sy het doelbewus toegelaat dat die ANC staatsfondse misbruik om onwettig na Zimbabwe en terug te reis aan boord die Lugmag se Falcon-900-straler. Dit is boonop ook nie die minister se eerste oortreding nie. Sy word daarvan beskuldig dat sy haar wyle seun, Chumani Nqakula, se meisie van Burundi op ʼn BBP-vliegtuig van die Lugmag gesmokkel het.”

Die DA beskou dié oortredings as ʼn growwe oortreding van Mapisa-Nqakula se ampseed, pligsversuim en algehele minagting van etiese standaarde.

“Minister Mapisa-Nqakula moet dus dadelik afgedank word.”

Dr Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het intussen gesê die bevinding van die president dat Mapisa-Nqakula slegs ʼn oordeelsfout begaan het en haar ligte straf daarvoor, is bloot ʼn skyngebaar om die publiek te paai.

“Dit is nie genoeg straf vir ʼn baie ernstige vergryp nie,” het Groenewald gesê. “Pres. Ramaphosa moes die minister onmiddellik afgedank het. Dit sou die regte besluit gewees het.”

Die VF Plus het reeds ʼn klag hieroor ingedien by die openbare beskermer (OB). “Mapisa-Nqakula se straf, alhoewel lig, is nou ʼn erkenning van die president dat sy verkeerd opgetree het en die VF Plus sal wag om te sien wat die OB hieroor besluit. Die bevinding en die aanbeveling van die OB oor die saak sal uitgevoer moet word. Sou die OB dus besluit dat die minister afgedank moet word, sal die president daaraan gehoor moet gee.”

Groenewald het gesê Ramaphosa het ʼn gulde geleentheid laat verbygaan om aan Suid-Afrika te toon dat hy ernstig is om korrupsie uit te roei.“Hy het die land weereens gefaal ten koste van die ANC en hierdie optrede en straf is blote oëverblindery na die growwe nalatigheid van die minister van verdediging wat neerkom op korrupsie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Sarel ·

Die vraag bly wat het hulle daar gaan maak.
Ondersteuning soek vir ‘n komende aksie

Nie Verbaas ·

Meneer Ramaphosa, ek hoop nie dat jy onder die indruk is dat jy die buiteland wys hoe neem jy aksie teen korruptes nie. Die halfhartige voorgee wat jy nou doen werk ongelukkig net vir sommige van jou volgelinge wat glo iets gebeur.

marius ·

Hierdie kreature dink dat die staat se eiendom hul persoonlike besittings is . Hulle is ook van mening dat hul posisies hul onaantasbaar maak . Hoe belanriker die pos , hoe minder hoef hulle te doen . Hulle is GEWONE WERKERS wat deur belasting betalers aangestel is . As hulle te sleg of onbevoeg is om hul werk te doen moet hulle summier weggejaag word . Dit is tyd dat die hamer hul tussen die oee tref , en dit kan slegs gebeur as daar geen sent belasting betaal word nie . Hulle moet saam met die res van die land oor die afgrond . Klaar.

Persheks Adri ·

Julle oordeelsfoute is ‘n gewoonte nou al hoor Cyril! Boonop klink sy soos ‘n gewoonte misdaderig… So hoeveel is die minister se salaris? Waarom word almal nie gestraf nie en wat van die lockdown reëls wat hulle oor tree het? Hulle almal moet betaal, ge-fire word en gaan sit klaar!

#Tsek ANC tsek man en ons soek bewyse, want ons glo niks wat julle sê nie!!!

DieKriek ·

Ek sou vir baie minder summier afgedank gewees het. Die minister is moedswillig en onbevoeg (net soos 90% van hulle).

Nie Verbaas ·

Om haar salaris te vat maak geen verskil aan haar nie. Sy sit tien teen een met miljoene in haar bankrekening.

annie ·

En het Ace geen rol gespeel nie? Ons dog hy was die voorbok of is Cyril bang vir hom en straf toe kamma vir Mapisa.

Daniel ·

Sy sal niks oorkom nie, daar is ander wat erger aangejaag het wat nog in hulle posisies is. “Dream on…”

JohanR ·

My gooiste Cyril Ramaphosa is SWAK SWAK SWAK. Hy is soos ‘n oorlog fliek wat baie aksie offer, en dan as jy uitloop se jy vir jou meisie “waar was die aksie?” Is daar ‘n chirurg in SA wat vir Cyril Ramaphosa asseblief ‘n rug graat insit!

johanf ·

Was dit dan nie korupsie = Dank af nie…..?
En O tog, dit nie Minister van Verdediging….. ń klein oordeelsfoutjie kan miljoene se lewens eis…. Ek wil en moet nie verder uitbrei nie…..

Porseleintjie ·

Cyril is en bly ‘n puppet on a string. By tyd dat hy uit die stoel gelig word – nes sy voorganger. Die konsep van dissipline, orde, reëls, integriteit, eerlikheid, standvastigheid en regverdigheid is slegs woorde op papier en bokant sy vuurmaakplek om toe te pas – als wat nodig is om ‘n land suksesvol te regeer.
Verder sal daar niks van haar sg straf kom nie. Dis vals en slegs bedoel om die burgers heuning om die mond te smeer.

Casper ·

Die president is oor niks wat verkeerd gaan in die land ernstig nie.Hoeveel miljoene is al deur die Zondo kommisie spandeer en verdoemende bewyse is teen politici aan die groot klok gehang maar hoeveel is al vervolg.Een goeie voorbeeld is comrade Ace.Die belastingbetaler word gestraf I p v die sondebokke.

Steve ·

Hierdie is tipies die korrupte anc se manier. Elke aanstelling word op korrupte manier gegee aan onbevoegde kaders.
Minister van weermag? Aan iemand wat nie eers ‘n besem behoorlik kan hanteer nie?
Gn wonder selfs afrika lag vir ons sirkus nie

Boertjieman ·

Sys in elk geval heeltemal onbevoeg! Onder haar en Zuma het die weermag verval en die wapen industrie tot niet gegaan. Deur haar te laat gaan gaan in elk geval geen verskil maak nie, want sy gaan net deur ‘n ander pateties kandidaat vervang word!

Porseleintjie ·

En waarom is cyril totaal passief om hierdie land te regeer? Hy is toe lid van die illuminati en sy opdrag was om ons in SA uit te lewer. Kan mens so liefde vir geld hê dat jy ‘n hele nasie uitverkoop??

Magda ·

Fire haar en stel iemand aan wat opgelei is vir die taak. Sy gaan nie eers daai 3 maande se salris MIS nie, sakke klaar vol gestop nog lank voor die voorval – 1 keer korrupt altyd korrupt.

Anoniem ·

Waar het kader Nqakula haarself bekwaam om as minister van Verdediging te kan werk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.