Mapisa-Nqakula vra weermag moet regskoste betaal

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, bedrog, hof, Baleka Mbete, Charles Nqakula, ANC, Nasionale Vergadering, Pretoria, speaker

Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Die minister van verdediging en militêre veterane het ʼn aansoek van haar beleërde voorganger, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, ontvang om haar by te staan met “regshulp in haar korrupsiesaak”.

Mapisa-Nqakula, voormalige parlementêre speaker, staan tereg op 12 aanklagte van bedrog en een van geldwassery. Sy word daarvan beskuldig dat sy vroeër, as minister van verdediging en militêre veterane, sowat R2,3 miljoen in omkoopgeld ontvang het.

Minister Thandi Modise, wat Mapisa-Nqakula opgevolg het, sê die versoek om hulp het “ongelukkig” deur die hoof van regsdienste in die weermag, genl.maj. Eric Mnisi, gekom. Mnisi het dit goedgekeur sonder dat hy eers die advies van die minister óf die sekretaris van verdediging, dr. Thobekile Gamede, ingewin het. Gamede is ook die rekenpligtige beampte, “veral wat betref kwessies wat ʼn finansiële uitwerking op die departement het,” lui ʼn verklaring van die departement van verdediging en militêre veterane.

Die departement sê Mnisi se hantering van die kwessie, sonder om die bestaande protokol te volg, kom neer op oneerbiedigheid teenoor die uitvoerende gesag van die departement.

“Ek het dr. Gamede opdrag gegee om ondersoek in te stel na genl. Mnisi se hantering van die kwessie uit ʼn administratiewe en prosedurele oogpunt, omdat daar protokol is wat gevolg moet word vir sulke versoeke,” sê Modise.

Sy oorweeg nietemin Mapisa-Nqakula se versoek en sal die besluit grond op tersaaklike wetgewing wat handel met die “beskerming van openbare geld”.

Rise Mzansi het pres. Cyril Ramaphosa en die sekretaris van die parlement, Xolile George, vroeër skriftelik genader om die versekering te kry dat die staat en sy burgers nie Mapisa-Nqakula se regskoste gaan dek nie.

Boitumelo Mpakanyane, hoof van interne demokrasie by Rise Mzansi, het gesê dit sal ondenkbaar wees dat die regering mense se geld gebruik om Mapisa-Nqakula se regskoste te betaal. Sy het in daardie stadium – as voormalige speaker – ʼn salaris van byna R3 miljoen per jaar verdien. Dit het voordele soos behuising, vervoer en sekuriteit uitgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.