Marathon onderhoude met OB-kandidate duur voort

Adv. Thuli Madonsela, die huidige openbare beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Adv. Thuli Madonsela, die huidige openbare beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Die parlement se ad hoc-komitee is steeds besig om onderhoude te voer met die 14 kandidate op die kortlys vir die pos van openbare beskermer (OB), wat na verwagting nog tot laatnag sal voortduur.

Regter Siraj Desai (65) het tydens sy onderhoud geweier om direk kommentaar te lewer daaroor of hy dink pres. Jacob Zuma is persoonlik skuldig aan enige wandade in die Nkandla-skandaal.

“Daar was duidelik ʼn oortreding wat tot die grondwethof se uitspraak gelei het, ʼn oortreding deur die nasionale regering,” het Desai geantwoord. Hy het gesê die grondwethof se uitspraak oor die Nkandla-saak het die magte van die OB se kantoor versterk.

Hy het homself as ʼn puik kandidaat vir die pos beskryf en beklemtoon hy was onder meer vir vier dekades ʼn struggle-aktivis wat gespruit het uit sy kinderjare in Distrik 6.

Desai het gesê as die komitee hom nomineer vir aanstelling, sal hy dit as sy taak beskou om die kantoor van die OB in ʼn “pilaar van die demokrasie” te omskep.

Die DA het hom gepeper met vrae oor sy swak gesondheid en ʼn bewering van seksuele aanranding wat in 2004 in Indië teen hom gebring is. Hy het hierop geantwoord verklarings wat destyds deur die polisie in Indië aan die media gelek is, is verkeerdelik aan hom toegeskryf.

Oor sy gesondheid het Desai geskerts hy is ʼn sosialis en dus vasbeslote is om “met my werkstewels aan” te sterf. Hy het bygevoeg hy het ten volle van leukemie herstel en al het hy diabetes en gordelroos, reken sy dokter sy gesondheid behoort nie ʼn probleem te wees nie.

Mamiki Goodman (nee Shai), voormalige adjunk-OB, is tydens haar onderhoud uitgevra oor haar openbare verskille met drie van haar voormalige hoofde.

Sy het vir sewe jaar lank onder die huidige OB, adv. Thuli Mandonsela, gedien en haar in 2012 in die parlement as ʼn boelie en polities bevooroordeeld bestempel.

Goodman is gedwing om te erken sy is tans geskors uit die Nasionale Dobbelraad nadat sy haar hoof van vooroordeel beskuldig het. Sy het nie dié kwessie in die vraelys wat aan kandidate verskaf is, verklaar nie.

Sy het ook Lawrence Mushwana, Madonsela se voorganger, van seksuele teistering beskuldig. Dié beweringe kon ondanks verskeie ondersoek nie bewys word nie.

Goodman het ontken sy het in al die gevalle ʼn bohaai gemaak en het die media blameer wat haar in ʼn slegte lig geplaas het. Sy het voorts gesê sy het in al die gevalle slegs probeer om dit wat verkeerd is, reg te stel.

Die suksesvolle kandidaat sal Madonsela vervang wanneer haar kontrak in Oktober verstryk.

Die onderhoude duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Ai tog, die stoute media, wat mense net verniet aankla van goed! Tot in Indie ook! Dit klink nie of hierdie juis n lys uitblinkers is nie

John ·

Aai Thuli, waar kry ons nog een soos jy? Hoe ver het die wetenskap al met kits-kloning gevorder? Of ‘n robotjie wat nes sy lyk, praat en dink? Die ander kandidate is om die minste te se….

Irene ·

Daar al nie weer so een wees wat sal doen wat sy gedoen het nie Ons het mense soos sy bitter nodig Kan sy asb staan vir die volgende Vrou as president in SA

andrea van vuren ·

Nie een van die kandidate kom naby Thuli nie. Ek voel sommer oor die lug hoe hul die ondervraers belieg en bedrieg! Moet ons regtig met die tweede beste tevrede wees?

Doris Gouws ·

Thuli dit is jammer jou tydperk is verby , hulle sal lank soek om so eerlike en opregte mens te kry wat vertrou kan word soos jy, dankie vir al die korrupsie wat jy uitgevind het, Sterkte vir jou vorentoe want ek haal my hoed af vir jou wat vrou is.

Lorraine ·

Ek voel sommer siek op my maag om te dink dat Thuli Madonsela moet gaan en iemand anders in haar plek moet kom. Ek glo nie iemand sal sommer haar plek kan vol staan nie, maar alle sterkte vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.