Marathon wink ná onderonsie met krokodil

Hes-Marie van Loggerenberg in die hoofstraat van haar tuisdorp, Swartruggens. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Hes-Marie van Loggerenberg, die tienermeisie van Swartruggens wat twee jaar gelede uit die kake van ’n krokodil gered is, droom nou daarvan om voor die einde van die jaar aan ’n marathon deel te neem.

“Ek kan al 8 km hardloop en ek is trots op myself,” vertel die 17-jarige Hes-Marie in die hoofstraat van haar tuisdorp. Sy het ’n langbroek in ʼn temperatuur van meer as 30   ̊C aan, waarskynlik om die letsels aan haar been weg te steek, maar sou jy nie weet van haar ontmoeting met die Nylkrokodil nie, sal jy dink dis maar net doodgewoon tienermode.

Sy vertel dat sy ná die voorval in Januarie 2020 by die skool geboelie is oor wat met haar gebeur het. Sy is egter deesdae ongeërg en huil geensins krokodiltrane oor haar noue ontkoming nie.

“Die merke op my been is soos battle scars. Ek het ’n krokodil oorleef. Hoe wonderlik is dit nié?” sê sy met ’n breë glimlag.

Haar lag is aansteeklik en haar veggees onblusbaar.

Hes-Marie onthou sy het die betrokke Woensdag twee jonger seuntjies opgepas. Hoewel sy en baie van die kinders in die omgewing al telkemale by die betrokke swemgat in die Elandsrivier gaan swem het, het hulle ironies genoeg nie beplan om dié dag te swem nie.

Hes-Marie van Loggerenberg in die hoofstraat van haar tuisdorp, Swartruggens. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

“Ek het ’n denimbroek en plakkies aangehad. Ek het my een voet in die water gesteek en ek dink ek het per ongeluk op die krokodil getrap. Toe voel ek iets gryp my aan my been en trek my van die wal af die water in.

“En die water was diep tannie, soos in baie diep,” vertel sy aan Maroela Media.

Gert Botes, wat sowat 200 m van die swemgat af woon, het destyds vertel dat hy skielik gille by die rivier gehoor het. Botes en nóg inwoners wat daar naby woon, het hulle in die rigting van die gille gehaas.

Die krokodil het Hes-Marie in daardie stadium reeds in die water ingetrek en net haar kop en skouers het uitgesteek. “Ek wil asseblief nie doodgaan nie, oom Gert,” was haar angsbelaaide woorde.

Sy vertel dat daar sowat 30 minute lank gespook is om haar uit die krokodil se kake te bevry. Nelson Harmse het eindelik ʼn stok gegryp en na Hes-Marie uitgehou. Hy het vir haar gesê om die krokodil te skop en die stok te gryp. Sy het die krokodil met haar een been, wat vry was, probeer skop. Hy het toe sy bek oopgemaak en hulle kon daarin slaag om haar uit te trek.

Hes-Marie van Loggerenberg oefen deesdae vir ‘n marathon. (Foto: Instagram)

Hes-Marie is sowat ’n week lank in die hospitaal op Rustenburg behandel voordat sy tuisbehandeling ontvang het. Sielkundige behandeling het later gevolg.

Dit is nou twee jaar later en Hes-marie verduur geen pyn meer nie. Sy kry ook nie meer nagmerries oor die voorval nie en is nie bang vir water nie. “Dit is glad nie meer in my gedagtes nie.”

Haar linkerbeen het wel ’n litteken ná die voorval en die tiener kry skaam wanneer mense na haar been loer, erken sy.

Maar vir nou fokus sy eers daarop om haar hardloopdroom te bewaarheid en voor haar 18de verjaardag in Desember ʼn marathon te voltooi. Sy en haar kêrel oefen ywerig daaraan. “Ons hardloop elke dag na die kerk bo in die dorp, so ʼn paar kilometer van die huis af.” Dit het aanvanklik stadig gegaan en dit het haar ʼn volle twee jaar geneem om by 8 km uit te kom, maar sy is vasbeslote om 42 km voor die einde van die jaar te kan aflê.

Waar daar ʼn wil is, is ʼn weg…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Wat ‘n fantastiese kind. Jy het ‘n krokkedil aanval oorleef, boelies getrotseer, pyn oorkom. Meisiekind, jy is ‘n absolute ster. Ek vermoed daar wag ‘n groot toekoms op jou, want jy het ruggraat en ‘n pragtige gesindheid. Ek het iets by jou geleer vandag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.