Marble Hall-ongeluk: ‘Alles het goed afgeloop’

Janine en klein Dianiël. Foto: Facebook

Janine en klein Dianiël. Foto: Facebook

Janine Terblanche, wat saam met haar man en babadogtertjie ernstig beseer is in ʼn gru-ongeluk buite Marble Hall, het Vrydag rekonstruktiewe chirurgie in ʼn hospitaal in Pretoria ondergaan.

Janine, haar man Diaan en hul dogtertjie, Dianiël, word sedert 17 Mei in die Life Midmed-hospitaal in Middelburg behandel nadat hul Toyota Fortuner reg van voor teen ʼn bakkie gebots het op die R573 ongeveer 12 km buite Marble Hall.

Ilze Scheepers-Van Rensburg, Janine se tannie, het gesê die rekonstruktiewe chirurgie het goed afgeloop. “Dokter sê alles het goed afgeloop. Haar oogbank is opgebou, haar kakebeen is nou weer op regte plek en haar gesiggie lyk sommer beter. Haar oog gaan ook goed herstel. Sy kom vanaand weer terug na Midmed.”

Volgens Scheepers-Van Rensburg herstel Diaan baie goed. “Hy het nog seer, maar dit is te verwagte as jy vat wat hy deur gemaak het.” Scheepers-Van Rensburg het gesê dit gaan ook baie goed met Dianiël. “Sy het nog net die voedingspyp en die traksie vir haar beentjies en armpie. Ons kan net Jesus dank vir al ons gebede wat verhoor is en nog gebede vir algehele genesing. Daar is nog geen aanduiding wanneer hulle ontslaan word nie.”

Maroela Media het vroeër die week berig die Terblanche-egpaar kan niks van die gru-botsing, waarin 11 ander mense dood is, onthou nie. Scheepers-Van Rensburg het toe gesê die egpaar het die res van die familie gevra wat gebeur het. “Dit is amper beter so,” het sy gesê.

Die egpaar het nog nie hul dogtertjie gesien sedert die ongeluk nie. Scheepers-Van Rensburg het gesê die verpleegpersoneel neem video’s en foto’s van Dianiël en wys dit in die aande vir Diaan en Janine. Die egpaar ontvang albei berading en hou elke aand saam Bybelstudie om hulle deur die moeilike tyd te dra, het sy gesê.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die ongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Word gou beter Terblanche gesin! Almal bid vir julle!

SNEL ·

Ek het nog elke berig van die gesinnetjie gelees, en dit bly vir my n absolute wonderwerk dat hulle drie nog lewe en uit daai vreeslike ongeluk lewend kon kom, as mens vat elf mense is dood in die ongeluk. Dit is wonderlik om elke keer e lees dat dit net beter en beter met julle gaan. Sterkte vir die pad wat voorlê op herstel, maar baie bly om te hoor julle al drie doen so goed en dat Janine se operasie n sukses was. Bid nog gereeld vir julle en hoop jul kleinding sluit vinnig by julle aan en dat julle haar weer kan vashou.

Peet Schabort ·

Ek herkou nou al geruime tyd om die volgende in alle opregtheid te vra.
1) Ek glo dat pa het bestuur en natuurlik agter die stuurwiel gesit.
2) Ma het omgesien na die baba en ?
Nou weet ek nie verder: veiligheidsgordels, babastoeltjie, lugsakke se ontplooiing? Het ma agter by die baba gesit? Weersomstandighede? Was die son in ‘n verblindende posisie van voor? Slaggate?
Daar behoort iets belangrik te wees wat ons kan leer uit ongelukke oor die algemeen wat nie gemeld word in verslae wat die media bereik.
Dalk wil ek té veel weet wat met die gebeur van ‘n ongeluk nie beskikbaar is.
Na bykans 55jaar agter die stuur sonder ‘n ongeluk is ek bereid om nog iets te kan leer.

esmari ·

Eks sooooo bly hul is almal beter!! Ek kan beslies God se hand in hierdie verhaal sien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.