Marble Hall-ongeluk: ‘Die gebede het ons gedra’

Diaan, Janine en Dianiël Terblanche. Foto: Facebook

Diaan, Janine en Dianiël Terblanche. Foto: Facebook

Die Terblanche-gesin van Marble Hall wie se verhaal mense oor die hele Suid-Afrika aangegryp het nadat hulle kritiek in ʼn motorongeluk beseer is, het gesê hulle is oorweldig deur die ondersteuning wat hulle van oral ontvang het.

“Dit is net ongelooflik hoe mense ons ondersteun,” het Janine Terblanche (22) aan Maroela Media gesê. “Nou nog kry ons boodskappe en oproepe van mense wat wil weet hoe dit met ons gaan. Terwyl ons daar in die hospitaal gelê het, het die ondersteuning ons so bemoedig. Ons kon elke dag aan ons lywe voel hoe honderde gebede vir ons opgaan. Dit het ons gedra.”

Diaan (30), Janine en hul babadogtertjie, Dianiël (toe drie weke oud), is ernstig beseer nadat hul Toyota Fortuner op 17 Mei omstreeks 18:00 op die R573 reg van voor teen ʼn bakkie gebots het nadat hulle glo ʼn vragmotor verbygesteek het. Die bakkie se hoofligte het volgens ooggetuies nie gewerk nie. Elf mense is in dié ongeluk dood. Klik hier om meer te lees.

Die gesin is weke lank in die Life Midmed-hospitaal in Middelburg behandel voordat hulle omtrent vier weke later ontslaan is.

“Ons almal is eintlik nog steeds afgeboek, hoewel Diaan al so ’n klein bietjie begin werk het,” het Janine gesê. “Ek is baie gelukkig dat ek nie hoef te werk nie en deur die dag saam met Dianiël by die huis kan wees, maar tegnies gesproke is Diaan nog tot 28 Augustus afgeboek.”

Janine het gesê hoewel al drie lede van die gesin besonder goed herstel het, ervaar sy en Diaan soms nog pyn en moet albei twee of drie keer ʼn week fisioterapie ontvang. “Ons luister maar vir ons lywe. As ons moeg raak, rus ons. Partye dae is beter as ander, maar ons vat dit rustig en gee ons lywe kans om heeltemal te herstel.”

Janine en Diaan by Dianiël se doop op 9 Augustus 2015. Foto: Facebook

Janine en Diaan by Dianiël se doop op 9 Augustus 2015. Foto: Facebook

Volgens Janine oortref klein Dianiël se herstel almal se verwagtinge. “Die dokters het vir ons gesê sy sal moontlik nie emosie kan toon nie en dalk epileptiese aanvalle kry weens die breinbesering wat sy opgedoen het. Niks daarvan het gebeur nie. Sy lag en huil en raak kwaai as ek nie dadelik haar doek omruil nie! Sy is ʼn doodnormale klein dogtertjie,” het sy gesê.

Intussen was dit ook vir die egpaar ʼn proses om emosioneel ná die ongeluk te herstel, maar hulle het nou vrede gemaak met wat gebeur het, het Janine gesê. “Ons ry elke dag op daardie pad waar die ongeluk gebeur het en dan word ʼn mens weer daaraan herinner. Maar ons het vrede gemaak. Soms kom daar moeilike goed oor jou pad, maar die Here sal jou nooit iets gee wat jy nie kan hanteer.”

Volgens Janine het die herstelproses haar en haar man selfs nader aan mekaar gebring, omdat hulle saam deur die moeilike tyd moes gaan. “Wanneer jou man vir jou kyk en vir jou sê hy weet hoe jy voel, dan gryp jy hom en druk hom so styf vas, want jy weet hy weet regtig hoe jy voel. Om saam met hom hierdeur te gaan, het dit makliker gemaak.”

Nou is Janine en Diaan net gelukkig om terug in hul normale roetine te wees. “Die lewe is weer dol met verjaardae en doopgeleenthede en familiebyeenkomste. Alles is weer soos dit was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SI ·

Wonderlike getuienis! Ons is dankbaar dat julle op die herstelpad is. Sterkte vir al die moeilike tye wat nog voorlê.

Landie ·

Wonderlike nuus om te hoor dat die hele gesin besig is om tuis aan te sterk. Mag julle van krag tot krag gaan en mag julle nie ernstige letsels van die ongeluk oorhou nie!!!

Yvonne ·

Dankie my Vader vir so ‘n mooi getuienis! Dis deur U genade dat al 3 van hulle nog vandag hier is!

MM ·

Dateer julle hoofberig elke dag op. Ons kan mos nie 3dae lank die selfde hoofberig sien nie, of is daar nie nuus nie.

Griki ·

Ja, gebede word beantwoord. Myne vir julle IS. En nou sê ek uit die diepte van my hart en in alle nederigheid: Dankie, Here. Ek is so bly julle is weer op die been en aan die gang. Baie sterkte vorentoe.

Liza Opperman ·

Gebed werk! Ons God lewe. Hy verhoor nog gebede en doen wonderwerke. Baie bly julle familie is veilig en op die herstel pad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.