Marble Hall-ongeluk: Dit gaan goed, maar familie sê niks verder

Diaan, Janine en klein Dianiël. Foto: Facebook

Diaan, Janine en klein Dianiël. Foto: Facebook

Die familie van die Terblanche-gesin wat op 17 Mei ernstig in ʼn ongeluk op die R573 buite Marble Hall beseer is, het gesê hulle gaan nie verder kommentaar oor hul welstand lewer nie.

Diaan, Janine en hul dogtertjie, Dianiël, Terblanche wat ten tyde van die ongeluk slegs drie weke oud was, is ernstig beseer toe hul Toyota Fortuner reg van voor teen ʼn bakkie gebots het. Elf mense is in die ongeluk dood. Die gesin word sedert die ongeluk in die Life Midmed-hospitaal in Middelburg behandel.

Linda Terblanche, Diaan se ma, het Donderdag aan Maroela Media gesê die familie sal nie verder kommentaar lewer nie op aanbeveling van hul prokureur. Sy het wel gesê dat dit met die hele gesin baie goed gaan.

Janine het Vrydag rekonstruktiewe chirurgie in ʼn hospitaal in Pretoria ondergaan. Ilze Scheepers-Van Rensburg, Janine se tannie, het kort ná die operasie gesê die chirurgie het goed afgeloop. “Haar oogbank is opgebou, haar kakebeen is nou weer op die regte plek en haar gesiggie lyk sommer beter. Haar oog gaan ook goed herstel.”

Hoewel dokters aanvanklik gevrees het dat Dianiël breinskade opgedoen het, gaan dit volgens die familie se Facebook-ondersteuningsblad baie goed met haar. Scheepers-Van Rensburg het Dianiël se herstel as ʼn “wonderwerk” bestempel.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die ondersoek na die ongeluk om te bepaal of iemand vir die ongeluk aanspreeklik gehou moet word, is nog nie afgehandel nie. Bewerings dat die bakkie se hoofligte nie gewerk het nie en dat die Fortuner die vragmotor by ʼn sperstreep verbygesteek het, kon nie deur Otto bevestig word nie, maar sal deel vorm van die ondersoek.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Alle respek teenoor die familie se houding.
Werklik goeie nuus van die ou kleintjie Dianiël se wonderwerk-vordering.
“Laat die kinders na My toe kom”.

JANET ·

Die kinders wil nie dat die ongeluk van hul celebs maak nie en hou nie van al die openbare blootstelling nie. Hul is ‘n privaat paartjie wat nie gevra het vir die publikasie van hul beserings, foto’s en detailed vordering nie. Hul is al 3 baie beter en sterk mooi aan. Ons is dankbaar vir elke gebed en mooi wens. Respekteer asb hul privaatheid. [Moeder]

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.