Marble-Hall ongeluk: ʼn Jaar vol seëninge later

Janine en Dianiël Terblanche. Foto: Verskaf

Janine en Dianiël Terblanche. Foto: Verskaf

Presies ʼn jaar ná die gru-ongeluk waarin drie lede van die Terblanche-gesin van Marble Hall kritiek beseer is, is die gesin byna ten volle herstel en vertel hulle van ʼn jaar vol geloof en seëninge, waaronder hul nuwe pienkvoet.

Diaan (31) en Janine (22) Terblanche, wat Dinsdag ook hul tweede huweliksherdenking vier, het aan Maroela Media gesê dat hulle terugkyk op die afgelope jaar met waardering vir alles wat hulle geleer het, die geleentheid om te groei en al die seëninge wat hulle ontvang het.

Maroela Media het vroeër berig Diaan, Janine en hul babadogtertjie, Dianiël (toe drie weke oud), is ernstig beseer nadat hul Toyota Fortuner op 17 Mei 2015 omstreeks 18:00 op die R573 reg van voor teen ʼn bakkie gebots het. Die bakkie se kopligte het volgens ooggetuies nie gewerk nie. Elf mense is in dié ongeluk dood.

Die gesin is weke lank in die Life Midmed-hospitaal in Middelburg behandel, aangesien hulle ernstige beserings in die ongeluk opgedoen het. Nadat hulle ontslaan is, moes hulle ook fisioterapie ondergaan as deel van ʼn lang herstelproses.

Intussen het die Terblanche-egpaar in April vanjaar hul babaseuntjie, Daniël, in die wêreld verwelkom. Daniël is op 35 weke gebore en moes drie weke in die neonatale waakeenheid deurbring, maar is ongeveer ʼn week gelede huis toe en is nou perdfris en gesond.

“Boetie is so pragtig en dit is so ʼn seën om hom in ons lewe te hê!” het Janine gesê. “Dit gaan baie goed met hom. Hy drink mooi en tel mooi gewig op, daar is geen probleme nie.” Sy het gesê met Dianiël, wat onlangs ʼn jaar oud geword het, gaan dit net so goed en tot dusver is daar geen aanduiding dat sy enige skade van die ongeluk oorgehou het nie.

“Sy verbaas ons elke dag en oortref al ons verwagtinge! Sy praat al ʼn hond uit ʼn bos en het gister selfs vier treë gegee. Sy bereik nog al haar mylpale soos sy moet. Ek kry sommer ʼn knop in my keel om te sien hoe goed dit met haar gaan en om te dink waar ons ʼn jaar gelede was.”

Diaan en Daniël Terblanche. Foto: Verskaf

Diaan en Daniël Terblanche. Foto: Verskaf

Volgens Janine het sy en Diaan ook ten volle herstel ná die ongeluk en het geen newe-effekte oorgehou van hul beserings nie. “Ek was so gelukkig om ʼn baie gesonde swangerskap te hê en selfs normaal te kraam,” het Janine gesê. “Ek sal nog later hierdie jaar of vroeg volgende jaar nog ʼn operasie moet ondergaan om my oog en voorkop reg te maak wat nog nie herstel het ná die ongeluk nie. Dit gaan ʼn redelike groot operasie wees, maar die dokter is baie positief en oortuig dat dit ʼn sukses sal wees.”

Sy vertel dat sy en Diaan positief voel wanneer hulle terugkyk op die afgelope jaar en nie toelaat dat negatiewe emosies hulle onderkry nie. “Met Nuwejaarsdag vanjaar het ek vir my ma gesê ek hoop 2016 is ʼn beter jaar as 2015 en toe het sy vir my gesê, nee, 2015 was een van die mooiste jare van ons elkeen se lewe. Dit is die jaar waarin ek en Diaan deur ʼn slegte ervaring nader aan mekaar gekom het en ook die jaar waarin ons een van die grootste wonderwerke nog ervaar het. Dit gaan oor jou ingesteldheid en hoe jy kies om die lewe te sien,” het sy gesê.

“Ek en Diaan het mekaar dwarsdeur hierdie ding so goed ondersteun omdat die een presies weet hoe die ander een voel. In geen stadium moes een van ons alleen deur die ding gegaan het nie. Ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ons kinders is gesond, ons kan nog ʼn mamma en ʼn pappa wees en ons lewe met mekaar deel. Wat ʼn ongelooflike voorreg! Ons kies om eerder te kyk na alles wat ons het as na dit wat ons nie het nie. Ons is uit ons sokkies uit geseënd.”

Lees alle vorige berigte oor die Terblanche-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sonja ·

Baie dankie vir die opvolg berig – dit word opreg waardeer!!!

Karma ·

Alle voorspoed aan dié pragtige gesin! Dankie dat julle jul herstelproses met ons gedeel het – dit gee weer hoop aan mense wat in soortgelyke omstandighede beseer is/word dat dit sal beter gaan! Maar ek dink net hoe die ongeluk voorkom kon wees: hoe KAN ‘n mens in die skemer/donker ry met GEEN ligte aan nie? Tog kry ek dit elke aand op die pad tussen Worcester en De Doorns, dikwels soveel as 7 voertuie per aand waarvan die ligte defektief is of GLAD nie brand nie (dis nou die onnoseles wat nie besef dat jou voertuig se ligte ANDER help om jou te sien nie en nie net daar is om jou te help sien nie). Nou die aand ‘n Goldfields Trucking vragmotor gekry waarvan die agterligte nie gebrand het nie (die ‘perd se kop- en agterligte het gebrand). Ek het hom forseer om te stop en toe ek vir hom daarvan sê, antwoord hy net: “I know.” en ry aan!

Xa ·

Ander media volg nie op nie want hulle sien mensestories as kommoditeite, skokkende hoofopskrifte wat hulle koerante verkoop. So baie dankie Maroela dat julle die mense agter die stories raak sien, en omgee hoe dit gaan.

Hannelie ·

Maroela Media baie dankie vir die terugvoering oor die gesin. Dis altyd lekker om so nou en dan iets positiefs te lees. Ek bid vir haar vir herstel en glo en vertrou dat haar operasie suksesvol sal wees. Karma jy moet sommer die Goldfields Trucking se registrasienommer gevat het en hul firma gebel het. Hulle is so onverantwoordelik. Ek bel soms sommer Worcester se verkeer en meld dit daar aan.

Gesiggie ·

So n wonderlikke storie om optevolg, al die goeie terugvoer… en die Wonderwerk in jul lewe wat dit vir jul as gesin weer moontlik gemaak het om n nuwe lewe te begin, jul het 2 pragtigge kindertjies, en ek is so Dankbaar dat Jesus jul beskerm het. Als wat mooi is, en aan jou Janine sterkte met die operasie wat jy nog moet ondergaan… God het jul deur die moeilikke tye gedra, en Hy sal jou weer dra… Mag 2016 net beter word…. God Bless this Family …***

Liza ·

Dankie vir die mooi berig en fotos! Sterkte met die komende operasie Janine, glo dit gaan goed gaan.

Ilse ·

Dis fantasties!!!! Ek het juis verlede week aan hierdie gesin gedink aangesien hul baba dogtertjie ‘n week jonger as my eie was ten tye van die ongeluk. So hul storie het my diepgeraak en ek het gewonder of hulle wel almal oorleef het en herstel het. Ek is so bly hulle het en dat hul nog verder ‘n baba ryker is.

Dankie ·

Dankie Maroela vir die opvolg en mooi storie! So bly vir die gesin.

Vinkie ·

Sjoe! goeie les om uit hierdie gesin se ondervindings te leer! Wens vir hulle die beste uit God se hand en ook vir verdere sjirurgie. God is goed!

Gideon ·

Maroela dankie vir die opvolg berig!! Soms vind daar sulke traumatiese goed plaas, wat ons as lesers laat wakker lê vir weke en dit is lekker om na ‘n tyd net te hoor wat het toe op einde gebeur!! Goed of sleg, mens maak vrede en probeer ook dan afsluit!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.