Marble Hall-ongeluk: ‘Ons is deel van ʼn wonderwerk’

Diaan, Janine en klein Dianiël. Foto: Facebook

Diaan, Janine en klein Dianiël. Foto: Facebook

Dianiël Terblanche, die babadogtertjie wat Sondagaand saam met haar ouers kritiek beseer is in ʼn botsing buite Marble Hall, is vandag een maand oud en “knip haar ogies”.

Dianiël word saam met haar ouers, Diaan (30) en Janine (21), in die waakeenheid van die Life Midmed-hospitaal in Middelburg behandel. Maroela Media het vroeër berig die Terblanche-gesin se motor het omstreeks 18:00 reg van voor teen ʼn bakkie gebots nadat hulle glo ʼn vragmotor verbygesteek het. Elf mense is in dié ongeluk dood.

Ilze Scheepers Van Rensburg, Janine se tannie, het gesê Janine is van die ventilator afgehaal. “Sy moet nou vir 24 uur maar stil lê om die longe self gewoond te maak aan asemhaling. Diaan kan moontlik môre afgehaal word, maar hy is maar moeg. Die dokter is tevrede met Dianiël – sy knip ogies, beweeg as ons haar boudjies kielie en trek haar mondjie as sy huil, maar geen geluidjie kom uit nie. Sy haal sterker asem … gebed genees.”

Diaan het Woensdag ʼn noodoperasie ondergaan nadat sy gebreekte ribbes in sy longe gesteek en vog op die longe veroorsaak het. Ná die operasie is hy op ʼn ventilator geplaas om sy longe te ondersteun. Hy is ook vir sy gebreekte bekken geopereer. Dianiël se arm en pelvis is gebreek en sy het bloeding op die brein opgedoen. Verskeie bene in Janine se gesig is vergruis, haar arm en een rugwerwel is gebreek en een van haar longe beskadig.

Janet Rudman, Janine se ma, het vroeër gesê die duisende gebede lig Dianiël bokant haar beserings uit. “Daar is vir ons fisiek gewys watter en hoeveel dele van haar brein blykbaar ‘dood’ is – maar mense, glo my, ons het hier met iets bonatuurliks te doen. Ek wens julle kan Dianiël sien. Sy gloei, sy is wakker, haar oë volg ons, sy huil, dit lyk nie of sy so erg is as wat daar gedink word nie. Ons verstaan glad nie wat aangaan nie. Elkeen wat lewe oor hierdie kind spreek, is deel van ʼn wonderwerk.”

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Angelique ·

Ons hoef niks te weet nie, net dat GOD, GOD is en dat HY genees!!! Dit wat julle nou sien en ervaar is net die begin! Alle eer aan GOD!

Charlotte ·

Diaan,Jenine en Dianieël julle is my gebede,wat vir ons as mens onmoontlik lyk is by God moontlik hou aan veg want jul geliefdes het julle nog so nodig.

Dave ·

Janet, jy sê die duisende gebede lig Daniël bokant haar beserings uit….. nou is dit dusende en een gebede….

Retha ·

By ons God is niks ontmoontlik nie. Hy het Sy engele aangaande haar opdrag gegee, sy is Syne, daarom sal Hy wonderwerke doen vir ons om vir ewig oor te getuig.

rienie ·

Amen op alle kommentaar bo. Ons dien n wonderbaarlike God. Word gou gesond gesin. Baie sterkte aan familie en vriende

Gielie - Namibië ·

Die krag van gebed is oneindig groot en so ook die Vader se genade.

Elmarie ·

Nog ‘n gebed uit Namibie vir julle verskriklike seer is besig om op te gaan…..so baie gebreke in julle liggame…..net die Here kan help om dit te genees….en ons bid daarvoor!!!

Jack ·

Dis nou alles goed en wel dat dit beter gaan met die gesin, maar wat van die 11 MENSE WAT DOOD IS?? Hoor niks van hulle nie en blykbaar was dit klomp jong seuns wat gaan sokker speel het.. my hart gaan uit aan hulle families.

Riaan Slabbert ·

Jack, nee vir die elf mense wat dood is…vir hulle gaan bid nie meer help nie :-)

Jessica ·

Dankie Pappa Jesus U is so groot en goed vir almal danki dat U daai gesin bo natuurlik genees dat hulle n normaale lewe sy ly dankie Pappa U is so groot ek dra elk een op voor U ek le hulle voor U voete neer dis net U se hande werk wat hulle kan genees dankie Jesus Amen Amen

Theresa ·

Fantasties. Alle eer aan God. Ek stem 100% saam met jou Angelique.

Natascha ·

Hou net aan lewe spreek want hierdie pragtige gesinnetjie kan lewende getuienis word van hoe groot en wyd God se genade spreek. Ons loof en prys Hom vir sy goedheid en guns wat hierdie paartjie en hul baba volg al die dae van hul lewens!

SAS ·

Ons VADER se genade is groot , ons verstaan nie altyd waarom dinge gebeur nie , ons het nie nodig om daaroor te wonder en te tob nie ! Ons moet net glo in HOM , alle eer kom HOM toe.Baie sterkte vir julle almal , ons bid vir julle………..(PIETERSBURG.)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.