Carla Terblanche, Diaan se suster, het Maandag aan Maroela Media die nuus bevestig. “Dit is net die Here se genade dat hulle al drie ontslaan is. Dit is regtig ʼn wonderwerk,” het Carla gesê.
Nog ʼn familielid, Lynn Nieuwoudt, het op die familie se Facebook-ondersteuningsblad geskryf: “Dit gaan goed met die Terblanche-gesin. Hulle is al drie gistermiddag laat ontslaan en sterk tuis aan.” Verskeie mense het op die goeie nuus gereageer en die gesin sterkte toegewens vir die pad van herstel wat nog voorlê.
Diaan, Janine en hul dogtertjie, Dianiël, Terblanche wat ten tyde van die ongeluk slegs drie weke oud was, is ernstig beseer toe hul Toyota Fortuner reg van voor teen ʼn bakkie gebots het. Elf mense is in die ongeluk dood.
Sedert die ongeluk was daar wye belangstelling in die gesin se vordering en navrae het deurentyd op Facebook ingestroom van mense wat wou weet hoe dit met hulle gaan. Linda het egter verlede week aan Maroela Media gesê die familie sal nie verder kommentaar lewer nie op aanbeveling van hul prokureur.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het ook Donderdag gesê die ondersoek na die ongeluk om te bepaal of iemand vir die ongeluk aanspreeklik gehou moet word, is nog nie afgehandel nie.
Die vraag bly…. Wie het die vragmotor verby gesteek en was dit op ‘n sperstreep.
Baie bly hulle is tuis. Amen.