Marble Hall-ongeluk: Terblanche-gesin sterk tuis aan

Janine en klein Dianiël. Foto: Facebook

Janine en klein Dianiël. Foto: Facebook

Die drie lede van die Terblanche-gesin wat op 17 Mei ernstig in ʼn ongeluk op die R573 buite Marble Hall beseer is, is uit die Life Midmed-hospitaal in Middelburg ontslaan.

Carla Terblanche, Diaan se suster, het Maandag aan Maroela Media die nuus bevestig. “Dit is net die Here se genade dat hulle al drie ontslaan is. Dit is regtig ʼn wonderwerk,” het Carla gesê.

Nog ʼn familielid, Lynn Nieuwoudt, het op die familie se Facebook-ondersteuningsblad geskryf: “Dit gaan goed met die Terblanche-gesin. Hulle is al drie gistermiddag laat ontslaan en sterk tuis aan.” Verskeie mense het op die goeie nuus gereageer en die gesin sterkte toegewens vir die pad van herstel wat nog voorlê.

Diaan, Janine en hul dogtertjie, Dianiël, Terblanche wat ten tyde van die ongeluk slegs drie weke oud was, is ernstig beseer toe hul Toyota Fortuner reg van voor teen ʼn bakkie gebots het. Elf mense is in die ongeluk dood.

Sedert die ongeluk was daar wye belangstelling in die gesin se vordering en navrae het deurentyd op Facebook ingestroom van mense wat wou weet hoe dit met hulle gaan. Linda het egter verlede week aan Maroela Media gesê die familie sal nie verder kommentaar lewer nie op aanbeveling van hul prokureur.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het ook Donderdag gesê die ondersoek na die ongeluk om te bepaal of iemand vir die ongeluk aanspreeklik gehou moet word, is nog nie afgehandel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rina ·

Die vraag bly…. Wie het die vragmotor verby gesteek en was dit op ‘n sperstreep.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.