Marble Hall-ontsnapping: Twee weer vas

Argieffoto

Argieffoto

Twee gevangenes wat uit die Marble Hall-polisiestasie se aanhoudingselle ontsnap het, is weer in hegtenis geneem, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee mans is Vrydagaand in Hercules in hegtenis geneem na die polisie ʼn wenk van die publiek ontvang het. Volgens Mulaudzi het die twee mans onder ʼn brug geskuil toe hulle gevind is.

Die twee gevangenes is weer in hegtenis geneem en na die Marble Hall-polisiestasie geneem. Hulle sal na verwagting Maandag in die Groblersdal-landdroshof verskyn op aanklag van roof, moord en ontsnapping uit aanhouding.

Fickson Motsepe (22) en Lucky Mokone (20) het op Saterdag 27 September uit die polisiestasie ontsnap. Polisiebeamptes het vir Motsepe, Mokone en Elias Mashishi (29) ontbyt gevat toe hulle oorrompel is. “Die verdagtes kon daarin slaag om ʼn vuurwapen by die beamptes af te neem en het hulle weg uit die polisiestasie geskiet,” het Mulaudzi destyds gesê.

Mashishi is doodgeskiet en ʼn polisiebeampte is in die been geskiet en gewond. Motsepe en Mokone kon daarin slaag om te ontsnap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.