Marble Hall-plaasmoord: Verdagtes steeds soek

(Foto: pixabay)

Daar is steeds geen spoor van die gewapende aanvallers wat ʼn plaasvoorman in die Marble Hall-omgewing in Limpopo die afgelope naweek doodgeskiet het nie.

Maroela Media het vroeër berig Jeremias Solomone Macheque (39) is Saterdag op ʼn sitrusplaas van die JJ Bekker-boerdery doodgeskiet toe hy omstreeks 13:00 in ʼn bakkie op die plaas gesit het om plaaswerkers se lone te betaal. Drie onbekende aanvallers het hom daar oorrompel.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het die naweek gesê die aanvallers het ’n vuurwapen op Macheque gerig en op die kontant aangedring. Hulle het hom geskiet, die kontant gegryp en die man uit die voertuig gepluk. Daarna het hulle in dié voertuig op die vlug geslaan.

Paramedici het Macheque op die toneel dood verklaar. Die voertuig is sowat ʼn kilometer van die toneel verlate aangetref.

Francois Bekker, Macheque se werkgewer, het gesê begrafnisreëlings word in oorleg met sy familie getref.

Bekker was tuis toe die rowers op Macheque toegeslaan het en het hom na die toneel gehaas toe hy die skote hoor klap. Die aanvallers was egter reeds skoonveld. Hy het gesê ten spyte van hul beste veiligheidsmaatreëls, slaan rowers steeds toe.

Bekker was in Januarie verlede jaar self die slagoffer van ʼn plaasaanval. Hy is in sy huis aangeval en aangerand, waarna die rowers met etlike vuurwapens en ʼn voertuig gevlug het.

James Smalle, die DA se provinsiale leier in Limpopo, het gesê daar heers groot kommer oor die vlaag aanvalle in die provinsie. Volgens Smalle was die aanval by Toitskraal die afgelope naweek die derde binne ʼn week.

“Dit is duidelik dat die polisie die oorlog teen misdaad in landelike gebiede verloor het en dat die gemeenskappe onder beleg deur misdadigers is.”

Smalle sê die DA gaan ook die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid vra om terugvoer te gee oor vordering met die inwerkingstelling van die polisie se landelike veiligheidsplan.

Die DA se versoek vir ʼn debat van nasionale belang in die parlement oor plaasaanvalle en -moorde is toegestaan en Smalle sê die party gaan die lot van landelike gemeenskappe tydens die debat benadruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Althes ·

Your tax matter to us- volgens SARS advertensie.
Boere betaal belasting – Farmers matter to us,moet die slagspreuk wees van die regering en elke Suid-Afrikaner.
Ons eis ñ verskoning van die regering en erkenning vir wat ons boere vir ons land beteken.
Tog kry hul nie behoorlike finansiële en emosionele erkenning en beskerming van die regering nie.

Adeline ·

Die sapd is nie eers in staat om in die stede en dorpe iets te kan doen nie – vra my ek het persoonlik gesien teen wie hulle optree en teen wie nie. Hulle is pragtig en Volmoed TOESKOUERS in die kriminele wêreld – maar waar dit by sagte teikens kom (gewoonlik vel kleur probleem) dan kan hulle geweldadig optree…. Nou is die vraag wanneer in die RZA het die sapd buite beheer geraak en die “oorlog” op landelike moorde “verloor” het as dit nog nooit daar was nie…. 1993-2020 hoeveel moorde? ANC regering kan maar nog gevangenisse onder covid-19 vrylaat om die land onregeerbaar te maak.
Die geleende geld wat toegestaan word kan nie dalk vir groter tronke gebruik word nie -kan dit? Sagte teikens sal seker opgesluit word. Kriminele hemel/paradys is RZA!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.