
Die vermoorde sokkerspeler Marc Batchelor se broer, Warren. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)
“Ek is platgeslaan. Niemand verdien om só te sterf nie.”
Só het Warren Batchelor, broer van die voormalige sokkerspeler Marc Batchelor, Dinsdag gesê nadat sy broer Maandagaand naby sy huis in Olivedale in Johannesburg doodgeskiet is.
Twee mans op ʼn motorfiets het etlike skote op Marc se motor gevuur. “Hy is verskeie kere geskiet en het in sy motor gesterf,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê.
Batchelor was ʼn voormalige doelskieter vir onder meer Sundowns, Orlando Pirates en Kaizer Chiefs.
Sy broer het Dinsdag gesê Marc was tydens die skietery meer besorg oor die tuinier en ʼn hond wat ook in die motor was. Hy het aan die tuinier gesê om ‘plat te val’ toe die skote begin klap het. Die man is ongedeerd. Volgens berigte is die hond gewond en na ʼn veearts geneem.
“My broer was ʼn interessante karakter en baie talentvol,” het Warren Batchelor, buite Marc se huis waar hy die media toegespreek het, gesê.
Michelle Paine, ʼn vriendin van die familie, het gesê die gebeure voel nog onwerklik. “Hy was ʼn goeie mens. Dis moeilik om te probeer verduidelik wat met hom gebeur het.”
Warren Batchelor het gesê hulle hoop geregtigheid gaan geskied.

Die toneel in Olivedale waar Batchelor geskiet is.
(Foto: Twitter)
Die polisie is op soek na twee mense wat van die moordtoneel gevlug het, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die motief vir die moord is nog onbekend.
Irvin Khoza, eienaar van Orlando Pirates en voorsitter van die Suid-Afrikaanse premiersokkerliga, het Batchelor as ʼn “held” beskryf.
Khoza het gesê tydens die apartheidsjare het Batchelor saam met swart spelers geoefen en dieselfde geriewe gebruik. Volgens hom het spelers soos Mark Fish, Gavin Lane en Batchelor sport in Suid-Afrika destyds normaal laat lyk, terwyl dit eintlik nie die geval was nie.
Batchelor se dood volg kort ná die dood van die Springbokheld James Small (50). Small is Woensdag vermoedelik aan ʼn hartaanval dood.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Dit klink of daar veel meer agter die storie is as wat ons ooit sal of wil weet maar hoe ookal my innige simpatie met sy familie en geliefdes. Die wêreld is mal.
Shame ek stem nie verdien om so dood te gaan nie
En dan was hy seker enigste wit sokkerspeler
Aiai
Dit was sekerlik n hit
NIEMAND verdien om so te sterf nie. Ons leef in vreemde tye.
Daar is geen geregtigheid nie Cele kan gerus ‘n plan maak om ‘n bedrag uit te sit wat betaal sal word vir inligting vir enige een wat so koelbloedig vermoor word, as dit daar in die Kaap kan gebeur kan dit oral gebeur. Mag die broer en sy geliefde vrede en berusting in hul hart vind ek sou nie.
Jammer om te hoor van nog ‘n gevalle sportheld. Hierdié lyk egter na vergelding, maar hopelik hanteer Maroela dit beter as ‘n ander mediagroep in SA .