Marga van Rooy: ʼn Groot gees wie se spore nie gevul kan word

Marga van Rooy (Foto: kykNET)

Marga van Rooy (Foto: kykNET)

Dit was vroeg in 1960 toe die gordyne van ʼn intieme teater die eerste keer voor Marga van Rooy oopgetrek het – sy was ʼn dramastudent aan die Universiteit van Pretoria, ʼn jong meisie van die Oos-Kaap met ʼn enkele groot droom: om dáárdie verhoog haar lewe te maak.

Op ʼn bloedjong ouderdom was daar reeds geen twyfel oor haar toneelspel nie. Van Rooy kon haar gehoor vasvang met ʼn soort grootgeestigheid waarmee sy elke gehoorlid én kyker weg gevoer het na ʼn ander wêreld – in haar jonger dae na dié van Shakespeare en Tsjekof en later as Ella in Vetkoekpaleis, Tannie Marietjie in Die Windpomp en Ella Visagie in Mollie en Wors.

Dit is veral haar rol in Vetkoekpaleis, én haar karakter se kwinkslae, wat van haar ʼn huishoudelike naam gemaak het: “Wie ken die pyn van ʼn moeder? O, die pyn! Die vreeslike pyn wat ek moes deurgaan…”

Van Rooy is Sondag in die ouderdom van 75 aan kanker oorlede en dié nuus het kort ná 14:00 gistermiddag soos ʼn velbrand versprei.

Sy wou met waardigheid sterf, vertel Wim Vorster, ʼn bekende naam in teaterkringe. Die aktrise het ná haar kankerdiagnose behandeling geweier en ʼn operasie, om die kanker heeltemal te verwyder, was nie geslaagd nie.

Praat jy oor dié veteraan-aktrise, is almal dit eens: Van Rooy was ʼn waardige vrou en ʼn uitnemende aktrise wat geleef het vir haar werk en haar gesin.

Toneelspel was immers sedert haar tienerjare, op ʼn plaas buite Burgersdorp, haar gróótste droom.

Van Rooy in Vetkoekpaleis (Foto: YouTube)

Van Rooy in Vetkoekpaleis (Foto: YouTube)

“Sy kon lewe gee aan ʼn dialoog,” vertel Pieter Esterhuizen, wat saam met haar gewerk het op onder meer Vetkoekpaleis en Mollie en Wors. “Sy was altyd voorbereid, altyd betyds en altyd positief. Sy is iemand wat gesag gehad het en met reg. Sy het ʼn dryfkrag van professionaliteit gehad wat mens vandag nie kan kweek nie.”

Esterhuizen sê haar lewenspassie was om aktrise te wees en sy het elke projek met dieselfde ywer aangepak. “Kort nadat sy haar man, Frans Boot, verloor het, het sy op ʼn dag vir Willie (Esterhuizen, wat haar seun in Mollie en Wors speel) gebel en gesê sy is op pad werk toe. Willie het gesê daar is nie ʼn manier nie: haar gesin kom eerste. En dís hoe sy onthou word. Haar dood is ongelooflik hartseer en sy het diep spore getrap wat nooit gevul sal kan word nie.”

Benewens talle pryse vir haar werk, waaronder die FNB Vita-prys vir haar debuutopovoering, Die Pakkamer, die Vita-prys as beste vrouebyspeler in Die groot wit roos en ʼn Safta-benoeming vir haar rol in Fanie Fourie se Labola, het haar rol as Tannie Marietjie in Die Windpomp ʼn ander sy van die aktrise getoon.

“Sy was ʼn briljante aktrise – nie net in komedie, maar ook in ernstiger rolle,” vertel Etienne Fourie, regisseur van Die Windpomp. “Sy was altyd die opgewondste van almal op die stel. Sy het altyd gesê sy weet hoe bevoorreg sy is om te kan doen waarvoor sy lief is, daarom was sy altyd positief. Sy was ʼn magiese mens waarby ander akteurs baie kon leer en uitnemend in enige rol wat sy aangepak het. Sy laat ʼn groot leemte agter.”

Ouma (Marga van Rooy) en Bobby (Phillru van Achterbergh) in Daa' gaat die bruid. Foto: Verskaf

Ouma (Marga van Rooy) en Bobby (Phillru van Achterbergh) in Daa’ gaat die bruid. Foto: Verskaf

In ʼn huldeblyk van Amanda Strydom, vertel sy die veteraan-aktrise was ook enig in haar soort. “Vandat mens kan onthou, was Marga nog altyd daar. Sy was briljant in alles wat sy aangepak het. In my oë was sy ʼn nasionale skat van Suid-Afrika.”

In ʼn Facebook-inskrywing sê Lizz Meiring, wat onder meer in Lipstick Dipstick en Mollie en Wors teenoor die aktrise gespeel het, hul karakters se gevoelens teenoor mekaar kon nie minder onakkuraat gewees het nie. “Sy was altyd pret en hiper-professioneel. Dit was ʼn reuse voorreg om saam met haar te werk. Ai, liewe Marga. Ek weet jy het vreeslik na Frans verlang! Nou kan jy by hom wees en elke rol speel waaroor jy nog ooit gedroom het.”

Johan Boot, Van Rooy se seun, het gesê sy word eerskomende naweek in Hermanus begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

oumie ·

RIP Marga jy was soos familie in my huis en partykere gelag dat die trane loop

Kyk Maar ·

Jammer om te hoor! Net jammer dat sy nie ook so opgehef was soos die ander onbekende sterfgeval wat gisteraand na haar doodsberig uitgesaai is op Kyknet se enuus nie!

Chris ·

Ons het elke episode van haar spel geniet. Sy het ons laat lag! O die pyn………!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.