Margate-skooluitstappie eindig tragies

Die toneel Saterdagaand op Margate se strand. Foto: Verskaf

Die toneel Saterdagaand op Margate se strand. Foto: Verskaf

ʼn Skooluitstappie na die Margate-strand in KwaZulu-Natal het Saterdag tragies geëindig toe drie hoërskoolleerders verdrink het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die voorval het na 18:00 plaasgevind, toe lewensredders reeds van diens af was. Die groep leerders, glo van ʼn hoërskool in Pietermaritzburg, was saam met onderwysers en die skoolhoof op die strand.

Volgens Lambinon het ooggetuies gesien hoe nege skoolkinders in die moeilikheid beland in die see en hulle te hulp gesnel. Omstanders kon daarin slaag om ses van die kinders veilig uit die water te haal.

Intussen is swemmers van die NSRI en ʼn reddingsboot ingestuur om die ander drie kinders te red. Die polisie se soek-en-reddingseenheid, ambulansdienste en provinsiale nooddienste was ook vinnig op die toneel.

“Twee lewensredders wat glo van diens af was, het ingeswem en twee meisies uit die water gehaal. Paramedici het gespook om die meisies, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, weer by te bring, maar hul pogings was tevergeefs. Die meisies is op die toneel dood verklaar,” het Lambinon gesê.

Ooggetuies het gesê hulle het ʼn tienerseun met sy gesig na onder in die water sien dryf, maar teen laat Saterdagaand kon reddingswerkers steeds nie daarin slaag om die seun op te spoor nie. Lambinon het gesê daar word aanvaar dat die seun verdrink het. Die soektog na sy liggaam is Sondagoggend voortgesit.

Lambinon kon nie die name van die slagoffers of die naam van die skool bekendmaak nie. Hy het bevestig traumaberaders staan die skoolgroep by.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek geopen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Sarie 2 ·

Dis waarlik ‘n gròòt tragedie… Sò aan die “begin” van hul lewens. Sterkte aan èlkeen wat hierdeur geraak word….

Van ·

Ai!so tragies.Ons as Onderwysers moet verantwoordelikheid vir die kinders aanvaar wat die ouers aan ons vir uitstappies toevertrou het.Ons aanvaar dan die verantwoordelikheid wat ouers aan ons oorgedra het. Ons is dan letterlik en figuurlik die “ouers” van die leerlinge totdat ons hulle veilig aan hul ouers terugbesorg het.Meegevoel aan die ouers wat geliefdes verloop het.Sterkte vir die Onderwysers wat in beheer was.

Zelda ·

Wtase skool laat hul kinders swem wanneer lewensredders van diens af is? Nee man … jy swem mos waar en wanneer dit veilig is !

pieter february ·

Sterkte aan al die betrokkenes. Geen skool voorsien dat so iets sal gebeur op n skooluitstappie nie…tragies!

Rudolph ·

Die wat klippe gooi dis nie die plek en tyd nie was julle dalk daar? Sterkte aan almal wat hier geraak word

Annie ·

Ja ai sekere kommentare maak my so naar, want plaas daarvan om te simpatiseer word vingers gewys…waar is die medemenslikheid van sommige mense? Dis tragies dat so iets gebeur het, dis beslis nie die tyd om te oordeel nie

Jacoba ·

Innige meegevoel aan almal betrokke by die hartverskeurende gebeure. L.w. die vrywaringsvorm wat skole so ernstig vir handtekening op aandring beteken TOTALE geen verantwoording aan enige gebeure. Dit het my soms genoop om NEE te sê vir kind se eie veiligheid en ons sielerus.

Bokram ·

Dis tragies,die skoolhoof gaan baie pak moet vat,sterkte aan die ouers

THEA SWART ·

baie sterkte aan die ouers van die oorledenes en die see verander so skierlik dat daar geen wegkom kans is nie – al is jy ook hoe goeie swemmer

Sterkte aan die familie ·

Sterkte aan die familie en vriende van die kinders.
Dit is nie die onderwysers se skuld nie. Dit is wel iets wat kon voorkom word.
Om mense bewis te maak van “rip currents” is baie belangrik. Baie mense verdrink elke jaar as gevolg van dit. Dis eintlik skadeloos as jy weet wat dit is, hoe dit lyk en wat om te doen as jy jouself in een bevind. As jy nie weet wat dit is nie en jy vind jouself in so sitsuasie is dit baie scary! Glo my! Het dit self beleef.
Was 14j oud toe ek saam my vriendin see toe gegaan met vakansie. Ons het te lekker geswem en nie agter gekom ons word uit getrek in die see in nie. Toe ons agter kom hoe ver ons al van die strand af is, kon ons nie weer terug kom nie.
Jy swem en swem maar bly op die selfde plek. Jy raak moeg, sluk water en jy begin paniekerig raak. Ons het seker 20min probeer terug swem. Waar dit seker 5min vat om terug te kom as jy weet wat om te doen. As dit nie vir ‘n diepsee duiker was wat gesien het ons is in die moeilikheid nie , sou ons ook verdrink het en was ons ook deel van die statistiek. Asb mammas, pappas, oumas, tannies…. julle moet julle kinders leer van dit.

MissDemeanor ·

Ok, ek is regtig bly jy het oorleef. Vertel asseblief vir ons die res…wat MOET mens dan doen as jy in ‘n rip current is?

amelia ·

Ek het net na Kersvakansie ‘n program op TV gesien van hoe swemmers die lewensredders se opdragte ignoreeren hul selfs met goed gooi as hul se dat die stand gesluit is vir veiligheid. Nou wonder ek of is die nie dalk dieselfde geval nie?

Chris ·

Margate se strande is baie wisselvalig met getye. Mens moet maar altyd baie versigtig wees.

Thinus Kruger ·

Ja dit is moeilik! ! Ek het ook in 1985 n kind daar gegreed! ! Getuie is onvoorspelbaar, en dit het in sekondes gebeur met lewensredders teenwoordig !! Dit glo ek was genade! !

Thinus Kruger ·

Moet dalk byvoeg, dat dit n’ week na Peter Pieterse se program was oor hoe om uit sysytrome uit te kom! Ontspan, dryf en wag vir die Stroom om jou uit te bring terug ststrand toe!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.