Margot Luyt sterf

Margot Luyt (Foto: rsg.co.za)

Margot Luyt, bekend as radio-aanbieder, regisseur en aktrise, is Dinsdag dood. Sy was 73.

Luyt was as aktrise te sien in verskeie TV-reekse, soos Geraldina die Tweede, Soutmansland, Amalia en die onlangs gewilde reeks Sara se geheim.

Luyt het ook jare lank as omroeper agter die mikrofoon by die SABC en Punt-geselsradio deurgebring.

Volgens die SAUK het Luyt die afgelope paar jaar aan Parkinson se siekte gely. Sy het in ’n aftreeoord in Durbanville gewoon.

Sy was veral bekend vir haar jarelange bydrae tot dramaproduksies by RSG en het ʼn aantal gesogte pryse vir haar werk ontvang, waaronder verskeie Artes-toekennings.

Luyt is ook verlede jaar deur die ATKV saam met Nic de Jager vir hul lewenslange bydrae tot die Afrikaanse radiobedryf vereer.

Huldeblyke het vir Luyt op sosiale media ingestroom.

“Kan nie glo Margot Luyt is oorlede nie. Het baie by haar geleer, hoewel ek soms lekker bang was vir haar. As Margot gepraat het, het jy geluister. Margot met die groot hart, mag jy in vrede rus,” het aktrise Margit Meyer-Rödenbeck op haar Facebook-blad geskryf.

Albe Grobbelaar wat in die vroeë 1980’s saam met Luyt in Seepunt by die Afrikaanse Radiodiens gewerk het, skryf op Facebook dat hy eindelose respek vir Margot gehad.

“Sy was een van die reuse van radio in ons land. So hartseer,” skryf hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Therese ·

Ai, dis hartseer nuus.
Rus in vrede.
Die naam Margot Luyt het áltyd ‘n heerlike radiodrama voorspel.
As daar nóg ‘n taal of land met dieselfde hoë gehalte radiodramas as Afrikaans in SA is, verneem ek graag.

Cabytheron ·

Dit is hartseer. Sy was so talentvol! Rus in vrede, Margot Luyt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.