Marianhill-moord: Verdagte doodgeskiet

Argieffoto: Kent Williamson

’n Verdagte wat geïdentifiseer is in verband met die moord op vyf familielede verlede week in Marianhill in KwaZulu-Natal, is deur die polisie doodgeskiet.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes het Woensdag opgevolg op inligting rakende die uitstaande verdagtes in dié saak.

“Die ondersoek het die polisie na Umbumbulu gelei waar beamptes twee verdagtes op die grondpad sien loop het. Beamptes het die mans genader, waarna die verdagtes op die beamptes losgebrand het,” het Gwala gesê.

Volgens hom het die polisie teruggeskiet en een verdagte is in die proses dood terwyl die ander een daarin kon slaag om te ontsnap.

Maroela Media het Maandag berig  drie mans is Sondagoggend in die Nteke-omgewing naby Mariannhill vasgetrek terwyl ʼn vierde verdagte die middag in KwaNdengezi vasgetrek is in verband met die moorde.

Die vyf familielede is Donderdagaand in Mariannhill in Pinetown deur gewapende mans aangeval.

Gwala het Vrydag gesê die aanvallers het omstreeks 23:00 toegeslaan en op die vyf familielede, tussen 19 en 34 jaar oud, losgebrand.

“Vier van die mense is op die toneel dood. Die ander slagoffer is in die hospitaal dood,” het Gwala gesê.

Die Mariannhill-polisie het dossiere vir vyf sake van moord oopgemaak waarna die ondersoek na die provinsie se trio-taakspan oorgeplaas is. Die motief vir die aanval word ondersoek.

Dit is nie duidelik of dié voorval verband hou met die skietvoorval Dinsdagaand in Matimatolo, suidoos van Greytown, nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boet Fasie ·

Kap gedaan SAPD hoekom word daar nie met sulke ywer sake ondersoek en opgetree teen plaas moorde nie

Theresa ·

Geen probleem dat hierdie spesifieke polisiemanne hul plig uitgevoer het nie.
Wat my hinder, is hier is bv. 2 mense wat stap (en ja, wel begin skiet het) en die polisie skiet terug en tref. As ‘n horde mense soos besetenes tekere gaan en goed aan die brand steek en gyselaars gryp ens. en ‘n man skiet om homself te beskerm, word hy vir moord aangehou. ?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.