Marievale-uitsettings: Onsekerheid ná oorwinning

Foto: Verskaf.

Inwoners van Marievale, die ou militêre basis in Nigel, was verheug ná ʼn hooggeregshof-uitspraak Woensdag in Pretoria dat hulle na dié basis mag terugkeer nadat hulle in November gewelddadig van die basis verwyder is.

Dié blydskap was egter van korte duur toe hulle in kennis gestel is dat staatsprokureurs van plan is om teen die bevinding te appelleer.

Regter N. Davis het Woensdag bevind dat alle inwoners van Marievale toegelaat moet word om terug te keer na hul huise en waar dit nié moontlik is nie, moet die Suid-Afrikaanse nasionale weermag (SANW) vir hulle alternatiewe behuising verskaf.

Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die weermag, het Donderdagoggend aan Maroela Media bevestig die weermag is van plan om gehoor te gee aan dié uitspraak.

“Minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, neem kennis van die uitspraak wat Woensdag 9 Mei in die hooggeregshof in Pretoria gelewer is in verband met Marievale en respekteer die hof se besluit. In dié verband sal die departement gehoor gee aan die hof se besluit,” het Dlamini gesê.

Louise du Plessis, die prokureur van Lawyers for Human Rights, wat die Marievale-inwoners verteenwoordig het, het egter Donderdag in teenstelling met Dlamini se antwoord ʼn brief ontvang van staatsprokureurs wat aandui dat hulle van plan is om teen die uitspraak te appelleer. Die brief stel dit dat Du Plessis versoek word om haar kliënte in kennis te stel om nie na die “respondente se basis terug te keer nie, hangende die finalisering van die aansoek om verlof tot appèl”.

Dlamini het egter aan Maroela Media volgehou sover hy bewus is, “is daar duidelike instruksies om nie te appelleer nie”.

Willie Koekemoer, voormalige inwoner van Marievale en een van die aansoekers in die saak om Marievale-inwoners toe te laat om terug te keer na die basis, het aan Maroela Media gesê dit was Woensdag ʼn tranedal van ekstase in die hof toe die uitspraak gelewer is.

Die weermag moet ook ingevolge die bevel die koste van die applikante se regskoste betaal.

Die uitspraak lui: “Die respondente moet binne 30 dae vanaf dié datum (9 Mei) die applikante en hul afhanklikes toelaat om okkupasie te neem op die perseel van Marievale- militêre basis vir residensiële doeleindes. Sover dit spesifieke staatskwartiere wat voorheen deur die onderskeie applikante bewoon is aangaan wat nie geskik is vir bewoning nie, of aan SANW lede geallokeer of bewoon word, moet die respondent tydelike, gepaste alternatiewe akkommodasie verskaf.”

Davis meen dié is nog een van “daardie sake waartydens die staatsinstellings ʼn situasie toegelaat het om te ontwikkel tot ʼn punt waar ʼn hof moet intree om ʼn kwessie aan te spreek waar die sosiale welstand en waardigheid van mense betrokke is”.

Maroela Media het in Desember berig inwoners van Marievale is sonder heenkome gelaat nadat die weermag glo ondanks die hofinterdik voortgegaan het om inwoners gewelddadig uit hul huise te sit.

Koekemoer het destyds aan Maroela Media gesê ʼn dringende interdik is op 1 Desember 2017 deur die hooggeregshof in Johannesburg toegestaan waardeur die uitsetting van inwoners van Marievale verhoed word. Die weermag het egter ondanks die interdik bloot voortgegaan om inwoners uit te sit en toegang tot hul wonings in die basis te weier.

Koekemoer vertel hy en sy ouers sal beslis weer wil terugtrek na Marievale.

“My hart is daar, al my herinneringe is daar, ek het daar grootgeword.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MARIE ·

NEEWAT TREK TERUG .. wie is die staatsprokureurs om opdragte uit te deel .. as die HOF besluit julle kan terugtrek TREK TERUG .. dit is twak dat hierdie mense so harrass word. Al appelleer hulle ook, ten minste het die mense verblyf.

Cherokee ·

Dit moet ook opgevolg word wie het opdrag gegee dat hulle verwyder moet word ondanks ‘n interdik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.