Marievale-uitsettings: ‘Stryd nog nie gewonne’

Die situasie vroeër in Marievale. Foto: Verskaf.

Inwoners van Marievale, die ou militêre basis in Nigel, is verheug oor ʼn uitspraak van die Johannesburgse hooggeregshof dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se respondente verantwoordelik is vir die regskoste van 14 applikante van Marievale se aansoek om ʼn interdik teen die uitsetting van dié inwoners te bekom.

Willie Koekemoer, voormalige inwoner van Marievale en hoofaansoeker van dié dringende interdik, het egter aan Maroela Media gesê die stryd is nog nie gewonne nie.

Maroela Media het in Desember berig inwoners van Marievale is sonder heenkome gelaat nadat die weermag glo ondanks die hofinterdik voortgegaan het om inwoners gewelddadig uit hul huise te sit.

Koekemoer het destyds aan Maroela Media gesê ʼn dringende interdik is op 1 Desember 2017 deur die hooggeregshof in Johannesburg toegestaan waardeur die uitsetting van inwoners van Marievale verhoed word. Koekemoer beweer die weermag het egter ondanks die interdik bloot voortgegaan om inwoners uit te sit en toegang tot hul wonings in die basis te weier.

“Daardie interdik is steeds van krag. Die hof het destyds gelas dat die weermag tot 29 Januarie kans het om sy beantwoordende beëdigde verklarings in te dien. Daar is tot op hede geen dokumentasie aan ons regspan oorhandig nie. Hulle het die hofbevel van Desember geïgnoreer en voortgegaan met uitsettings. Mense word tot vandag toe nog deur gewapende soldate toegang tot Marievale geweier,” het Koekemoer vandeesweek gesê.

Die respondente van die weermag het op 24 Januarie 2018 sekere dokumentasie van die applikante geëis ter voorbereiding vir hul verdediging. Regter E Molahleni het egter gelas dat die weermag steeds teen 29 Januarie sy beantwoordende beëdigde verklarings moes indien, maar die weermag het versuim om dit te doen.

Koekemoer het in Desember na ʼn huurhuis in Springs verhuis waar hy tans woon. “Ek sal steeds nie na Marievale terugkeer nie al lê my hart by die plek. Dit was ʼn erge traumatiese ervaring,” het hy Maandag aan Maroela Media gesê.

Hy het in Desember emosioneel vertel van ʼn voorval toe hy een dag van die werk af gekom en gesien het hoe swaar gewapende soldate sy bejaarde ouers, wat ook in Marievale woon, gedwing het om al hul meubels uit te dra na die voorkant van die erf.

“Ek het nader gestap en net gevra of ek darem kan help dra, my ouers is nie gesond nie. Hulle het gesê ek mag nie nader gaan nie en ek moet 10 m weg staan. Ek haal toe my selfoon uit om ʼn video te maak en toe skree hulle ‘arrest that man’! Ek het omgedraai en stadig na my huis gestap en vyf mense het my gegryp, aangerand en op die grond vasgedruk. Hulle het my in ʼn militêre voertuig ingedwing, vir tien minute met my rondgery en heeltyd my foon se PIN geëis.”

Volgens hom het sommige mense Saterdag, nadat die uitspraak Vrydag gelewer is, probeer om terug te keer na hul huise, maar is hulle steeds verhoed om dit te doen.

Koekemoer vertel dat die leë wonings in Marievale nou deur soldate op die perseel beman word. Hy sê sy ouers en ander inwoners wil graag na Marievale terugkeer. “Die mense wil gaan gordyne hang en weer intrek,” sê Koekemoer.

“Die volgende stap wat ons nou gaan neem is om skadevergoeding te eis. Ons gaan eise instel vir die skade wat ons gelei het, die trauma en ons menseregte wat geskend is.”

Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die weermag, het aan Maroela Media gesê die weermag moet eers die hofuitspraak bestudeer. “Ons sal dit dan van daar af verder vat.”

Die veldtog Right2Know (R2K) het in Desember in ʼn verklaring gesê die gemeenskap word met uitsetting gedreig omdat daar glo steenkool in die omgewing ontdek is.

Koekemoer beaam dit en beweer daar is in Mei verlede jaar vir die eerste keer aansoek gedoen om op die gholfbaan wat aangrensend tot die residensiële area van Marievale is, te prospekteer.

“Ons het toe begin vrae vra en die aansoek is teruggetrek. Die tweede aansoek is in November gebring, dieselfde tyd wat die uitsettings begin het. Die gholfbaan is ook nou weer gesluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

As ek reg verstaan waa Zuma die NUMBA WHONE oor die army tot en met sy departure? So nou staan CIRIL pa vir die blatante magsveegrype deur sy army? Ignore bloot n HOFUITSPRAAK????? Verhewe Onaantasbaarheids Sindroom.

Piet Pompies ·

Steenkool myne by Marievale kan nie toegelaat word, daar is ‘n vleiland met van die meeste voëls spesies . Daar is omtrent 230 voël spesies wat direk geraak gaan word deur te myn in die omgewing.

Antjie ·

Tyd dat CR wys dat hy ernstig is oor geregtelike onbeholpenheid. Die mense wat meer as enkele dae neem om hof-uitsprake te “bestudeer”, hoort nie in daardie posisies nie. Ek hoop dit sal binnekort rede wees vir outomatiese ontslag uit enige staatsdiens-posisie. En persoonlike, strafregtelike vervolging vir minagting van die hof. Ministers, eerstens, ingesluit.

Belasting ·

Dan betaal ons maar net voort aan belasting aan n regering wat dit gebruik om ons uit ons eie werk, woning, eiendom en lewe uit druk. Waarom?

Vra maar net ·

Nou waar is afri forum….bly ek het my lidmaatskap gekanseleer,saak is seker nie belangrik genoeg nie,hul wil net in die kollig wees

Alida ·

Is daardie mense lede van Afriforum? Het jy al probeer vasstel of verwag jy Afriform moet gratis diens lewer. As jy nie lid is nie is dit jou saak.

Wil net weet? ·

Hoekom is jy nog gepla oor Afriforum? Jy is mos nie meer lid nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.