Marikana: Hof hoor oor sterwende mynwerker in vragmotor

Voormalige adjunkpolisiekommissaris van Noordwes genl.maj. William Mpembe, brig. Gideon van Zyl, kol. Dingaan Madoda en kapt. Oupa Pule in die Noordwes-hooggeregshof (Foto: ANA)

’n Mynwerker het die naam van ʼn medemynwerker wat destyds in ʼn polisie-vragmotor in Marikana gesterf het ná die skietvoorvalle op 16 Augustus 2012, aan die polisie verskaf, het die hooggeregshof in Mogwase in Noordwes Maandag gehoor.

“ʼn Man wat saam met ander in hegtenis geneem was, het vir my die naam van die oorledene gegee maar het geweier om sy eie naam te gee,” het brig. Samuel Seboloki, voormalige bevelvoerder van die Atteridgeville-polisiestasie, gister aan die hof gesê.

Seboloki getuig in die saak teen die voormalige adjunk-polisiekommissaris van Noordwes, genl.maj. William Mpembe, en drie ander senior polisiebeamptes.

Maroela Media het vroeër berig die saak teen Mpembe, brig. Gideon van Zyl, kol. Dingaan Madoda en kapt. Oupa Pule is gister hervat. Hulle staan tereg op aanklagte dat hulle die Kommissiewet en die Wet op die Polisieondersoekdirektoraat (Opod) oortree het asook dwarsboming van die gereg.

Die beskuldigdes is in Maart 2018 in hegtenis geneem nadat ʼn ondersoek deur Opod dit aan die lig gebring het dat ʼn mynwerker, Modisaotsile van Wyk Sagalala, in polisieaanhouding gesterf het en nie in die hospitaal of op die toneel nie. In dié voorval in 2012 het polisiebeamptes 34 mynwerkers doodgeskiet tydens ʼn gewelddadige staking by Lonmin se platinummyn in Marikana naby Rustenburg.

Die staat voer aan die polisie het die omstandighede rondom Sagalala se dood verbloem.

Seboloki is gister deur adv. Jan Ellis, vir Mpembe en Van Zyl, aan kruisondervraging onderwerp.

Die Lonmin-mynperseel in Marikana is destyds as ʼn aanhoudingsentrum gebruik om foto’s en vingerafdrukke te neem van mynwerkers wat in hegtenis geneem is ná die slagting.

Volgens Seboloki was hy destyds die bevelvoerder by dié aanhoudingsentrum en het hy kol. Madoda gebel om toesig te hou oor speurders in die sentrum. Hy het getuig dat hy die toneel van ʼn liggaam in ʼn polisie-vragmotor aan Madoda en Pule oorgelaat het omdat hulle oor wye kennis van misdaadtoneelbestuur beskik het.

Sagalala se liggaam het destyds in ʼn vragmotor by die aanhoudingsentrum aangekom. Seboloki het gesê nadat hy in kennis gestel is van ʼn man wat besig is om in die vragmotor te sterf, het hy die man op sy linkerkant sien lê.

Hy het daarna ʼn telefoonoproep na die gesamentlike operasionele sentrum gemaak om Mpembe, toe die algemene bevelvoerder van die operasie, en Van Zyl, toe die provinsiale speurhoof, in te lig oor die sterwende mynwerker.

Hy het gesê dat hy destyds nie die besonderhede van die paramedikus gekry het wat Sagalala dood verklaar het nie omdat hy verwag het dat Pule en Madoda dit sou doen.

“Ek was die bevelvoerder van die aanhoudingsentrum [en] ek het nou saamgewerk met Pule en Madoda. Ek het verwag dat hulle daardie besonderhede sou kry,” het Seboloki aan die hof gesê.

Hy het bygevoeg dat Madoda die liggaam aan Thomas Setshedi, die beampte wat die foto’s van die oorledene geneem het, uitgewys het.

Seboloki was terwyl die foto’s geneem is buite die vragmotor, het hy gesê.

Die verhoor duur Dinsdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

honourable member ·

Mens wonder ook maar hoe waar hierdie stories is. Enige iemand kan nou enige naam noem en beweringe maak om die saak weer vir jare uit te rek.

Asjas ·

Weet enigiemand hoe vorder die saak teen die moordenaars van die veiligheidswagte??

lh ·

Daarvan sal ons NOOIT weer hoor nie Asjas! Dit word onder die matte ingevee . . .

emily ·

En wanneer soek julle die boere wat vermoor is se moordenaars.

Karlahari ·

As die 10,000 betogers binne arm afstand van die polisie gekom het was daar vandag 234 dooie polisie personeel gewees.
Hulle sou soos diere doodgemaak gewees het soos die stakers met die veiligheidswagte gedoen het.
Die ANC se eie Sharpeville.
Of jy as polisie lid skiet, of jy word vermoor.

Merie Perd. ·

Herinder die gebeure in die post 1994 Suid Afrika, julle nie aan wat in die tyd van die Romynse ryk met die Isrealite gebeur het nie?
Dieselfde ne?

Als Gesien ·

Wys sommer ook weer die video wat wys hoe die mynwerkers op die polisie skiet tydens die Marikana betoging. Hierdie tonele is n paar keer gewys op TV en daarna , blykbaar deur sekere mense by die SAUK , vebied om gewys te word. Nou is slegs die polisie skuldig, weereens word die ware feite verdraai.

Koos de Meyer. ·

Vir wie bestaan die selfverdediging wet dan nou eintlik. As die polisie daar net moes staan en toekyk was daar nie een van hulle lewendig vandag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.