Marikana-moord: Onvoldoende bewyse teen 6 beskuldigdes

Napoleon Webster, een van die beskuldigdes. Foto: ANA

Daar is geen bewyse wat Napoleon Webster, raadslid vir Forum 4 Service Delivery (F4SD), en vyf ander mans verbind met die moord op ʼn man in Marikana naby Rustenburg nie, het die Noordwes-hooggeregshof Maandag gehoor.

Sabata Petros Chale is op 8 Desember 2016 in Marikana vermoor, vermoedelik deur Aubrey Seitsang, Sibonile Sobopha, Mdlondozi Fundiwo, Herbert Baqhesi, Webster, William Nyenyane, Aphindile Pungone, Samson Gqwetani, Gift Luveli, Nkululeko Msithwa, Nkosindiphile Nziyose, Luvo Soyizwaphi, Sivuyile Qasha en Mzolisi Mbulana.

Die staat het aan die hof gesê daar is nie genoeg bewyse om Fundiwo, Webster, Pungone, Luveli, Msithwa en Soyizwaphi met die moord te verbind nie.

Dit volg ná prokureurs vir die verdediging ʼn aansoek gebring het om die saak teen die mans terug te trek, aangesien die staatsgetuies nie geloofwaardig is nie.

Van die 14 mans wat tereg staan vir die moord op Sabata Petros Chale in die Noordwes-hooggeregshof (23 Februarie) Foto: ANA.

Eric Marx, wat 13 van die mans verteenwoordig, het gesê staatsgetuie Josephine Tayitayi was nie ʼn geloofwaardige getuie nie. “Hoe kan sy die mans identifiseer sonder ʼn uitkenningsparade? Waar kom dit vandaan? Beskuldigde sewe [Aphindile Pungone] was in Sandton ten tyde van die moord,” het Marx aan die hof gesê.

Tayitayi het in haar getuienis gesê sy het gesien hoe Seitsang Chale met ʼn panga aanval en hom oor die kop slaan. ʼn Groep van 200 mans, gewapen met pangas, spiese en knopkieries, het hom glo gevolg. Die mans het Chale doodgemaak, glo sy bloed gedrink en glo ook van die bloed in ʼn bottel gesit en is daarmee weg.

Sy het aan die hof gesê Webster was teenwoordig toe Chale vermoor is. Adv. Stuart Wilson, vir Webster, het ook die getuie se geloofwaardigheid in twyfel getrek. “Daar is gevolglik geen bewyse teen mnr. Webster wat tot sy skuldigbevinding kan lei nie. Daar is ook nie enige vooruitsig dat enige van sy medebeskuldigdes hom sal impliseer nie,” het hy aan die hof gesê.

Regter Ronnie Hendricks het die saak tot Dinsdag uitgestel waar hy uitspraak sal lewer op die verdediging se aansoek om die aanklagte teen die mans te laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AD ·

Gaan ALLE sake nou terug getrek word, omdat polisie ondersoeke nie reg gedoen word nie.

Oom Kalahari ·

Swak ondersoeke deur polisie en dan nog Mnr Shaun Abrahams van NVG wat sake laat gaan. As professionele mense die ondersoeke gelei het sou positiewe uitkoms op aanklagte gewees het.

marous ·

Van waneer af MOET daar ‘n uitkenningsparade gehou word ? Daar kan ook nie klagtes terugetrek word na daar gepleit is nie . Daar kan wel aansoek gedoen word vir ontslag na die staat sy saak gesluit het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.