Marikana: NVG wil SAUK dagvaar oor beeldmateriaal

Die koppie by Marikana. (Foto: Bongiwe Mchunu)

Die SAUK kan gedagvaar word vir beeldmateriaal van gebeure op 13 Augustus 2012 tydens ʼn staking deur Lonmin-mynwerkers.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het intussen gesê die saak teen die voormalige adjunk-polisiekommissaris in Noordwes, genl. Mzondase Mpembe en vyf ander polisiebeamptes, is tot Maandag uitgestel in die hooggeregshof in Noordwes.

Die ses persone staan tereg op aanklag van die moord van vyf persone tydens die gewelddadige staking. Sedert die persone se hofsaak op 13 Oktober 2020 begin het, het drie persone, insluitend ʼn misdaadtoneelkenner van die polisie, ʼn kringtelevisieoperateur van Lonmin-myne en ʼn videograaf van die polisie, getuig oor foto’s en video’s van die gebeure.

Tydens kruisondervraging van die polisie se videograaf het die verdediging sy kommer uitgespreek oor beeldmateriaal wat tydens ʼn SAUK-nuusbulletin op 14 Oktober 2020 vertoon is. Die verdediging wou weet of die staat oor enige ander beeldmateriaal beskik wat nog nie as bewyse ingedien is nie.

Die staat het egter gesê hy het alle bewyse ingedien wat hy van plan is om tydens die verhoor te gebruik. Dit het ook aan die lig gekom dat die staat tydens sy ondersoek die SAUK gedagvaar het om beeldmateriaal van die voorval te verskaf. Dit is egter nooit ingedien nie, omdat die openbare uitsaaier aanvoer die videoband is beskadig. Die hof het daarna die staat beveel om ʼn afskrif van die dagvaarding aan die verdediging te oorhandig.

Ná die nuusbulletin op 14 Oktober het die staat weer begin om ʼn dagvaarding uit te reik om die beeldmateriaal te oorhandig wat die openbare uitsaaier vroeër aangevoer het beskadig is.

“Gesprekke tussen die staat en die uitsaaier het begin om die indien van die beeldmateriaal te bespoedig, wat kan help om waardevolle bewyse te verskaf,” het Mamothame bygevoeg. “Indien die beeldmateriaal nie teen Maandag, 19 Oktober 2020, beskikbaar is wanneer die hofsaak begin nie, sal die staat ander sleutelgetuies roep om te getuig totdat die beeldmateriaal beskikbaar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarel ·

Wow is hulle regtig nog steeds besig met die saak
My mening nog steeds dat die Polisie uitverkoop was

Jaco ·

Beide die ANC en die NVG word deur die ANC-regering beheer, so eintlik dagvaar die ANC nou die ANC. Iets maak nie sin nie.

Stefan ·

Hoe lyk dit met die arrestasies van die ouens wat die sekuriteitswagte en polisie beamptes vermoor het vóór die polisie begin skiet het?

Adam Adriaan ·

Hierdie saak kan al argeologies opgegrawe raak en nog steed is dit nog nie begrawe nie

PieterP ·

Die beste video van daardue dag was Reuters se een waar jy kon sien hoe breek die myners deur die lemmetjiesdraad en besrorm die polisie met hulle wapens. Dke video het ek weer op YouTube gaan soek maar was intussen verwyder. Daardie lede van die SAPS het nie onnodiglik op die spul geskiet nie. Dit was of ek of jy.

JM ·

Hierdie saak word net van een kant af beoordeel, dus as ek jou bestorm met ‘n wapen, mag jy jouself nie verdedig nie, m.a.w.: reg is verkeerd en verkeerd reg.

Jaco ·

As dit nou wit polisie was wat op swart betogers geskiet het, was daar nie eens ‘n ondersoek nie, maar net wêreldwye veroordeling. Toe skiet swart polisie op swart betogers en niemand weet skielik wat om te doen nie. Dis tyd dat die ANC leer: dis moeilik om ‘n derde wêreld land te regeer en ‘n ietwat van ‘n harde voet wat soms neergesit word, is dikwels al wat help om wet en orde te handhaaf. Die ou Mugabe tussen 1980 en 2000 was so: wit regime se noodtoestand is net so behou en oproer en stakings is vinnig deur die weermag en polisie gestop. Ek was ‘n paar maal in daardie jare in Zimbabwe. Amper almal, swart en wit, het gesê “we’ve never had it so good”. Net jammer Mugabe het na 2000 aan die ekonomie gepeuter en wit plase afgevat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.