Marikana-saak tot volgende jaar uitgestel

Marikana (Augustus 2012) Foto: ANA

Sewentien mynwerkers wat tereg staan op verskeie aanklagte, in verband met ʼn gewelddadige staking byna ses jaar gelede by Lonmin se platinumbedrywighede in Marikana naby Rustenburg, het Maandag vlugtig in die Noordwes-hooggeregshof verskyn.

Die saak is tot 4 Februarie 2019 uitgestel as gevolg van ʼn aansoek wat die beskuldigdes in die hooggeregshof in Pretoria gebring het vir ʼn hersiening deur Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, van die besluit om hulle te vervolg.

Hulle het by die NDOV aansoek gedoen om die klagtes teen hulle te laat vaar, maar die aansoek is verwerp.

Anele Zonke, Xolani Nzuzu, Simphiwe Booi, Khanyile Kanyise, Mzoxolo Magidiwana, Samekelo Mkhize, Amanda Nogwaza, Thobile Tyobeni, Mzukisi Soyini, Bongile Mpotye, Zamikhaya Ndude, Sithembele Sohadi, Loyiso Mtsheketshe, Zolile Honxo, Zwelitsha Mtshena, Mziwanele Mxinwa en Mzoxolo Zukulu staan tereg op 26 aanklagte wat strek van poging tot moord, moord, opsetlike saakbeskadiging, roof en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die klagtes hou verband met die moord op 10 mense in die paar dae voor 16 Augustus 2012 toe 34 mynwerkers tydens ʼn skermutseling met die polisie dood is.

Die staat voer aan die groep het twee polisiebeamptes, twee Lonmin-veiligheidswagte en drie nie-stakende werkers vermoor.

Altesaam 19 mynwerkers is aanvanklik in hegtenis geneem, maar Majeke Nonkonyana en Dlunga Tholakele is intussen oorlede. Dlunga, beter bekend as Bhele, is op 17 Oktober 2017 in sy plakkershuis doodgeskiet. Die hof het Maandag gehoor beskuldigde 17, Mzoxolo Zukulu, is ook intussen oorlede.

Samekelo Mkhize was nie in die hof teenwoordig nie. Sy prokureur, Andries Nkome, het ʼn doktersbrief ingedien. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is in Maart uitgereik toe hy versuim het om in die hof te verskyn as gevolg van siekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vraagteken ·

Uiteindelik word die regte moordenaars vervolg. Ek is so bly hierdie saak is nie laat vaar nie. Hulle was, indirek, die oorsaak vir die hele tragedie – nie die polisie nie.

Bravo Mnr. Abrahams (ek is seker ons sal tydelik die ander gemors wat jy aangevang het vergeet. Let wel, TYDELIK)!

Cyril Blackburn ·

Dagsê lesers
Dankie vir julle kommentaar! Ons vra om verskoning vir die oorsig – die voorval was inderdaad byna ses jaar gelede. Die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

nico k ·

Ek stem ook saam met die ander kommentare. Daar is ‘n groot ophef gemaak van die moord op die stakende mynwerkers. Maar die stakende mynwerkers wat moord gepleeg het, daaroor bly hulle heeltemal stil.

marous ·

Hoop ONMIN se hoof dissipel gaan gedagvaar word om te getuig …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.