Mark Pilgrim vasberade om kanker wéér te troef

Mark Pilgrim. (Foto: Instagram)

Die bekende radiopersoonlikheid Mark Pilgrim (52) sê hy is vasbeslote om fase 4-longkanker te troef.

Pilgrim het dié diagnose aan die einde van Februarie ontvang – enkele weke nadat hy ʼn foto met die getal 33 op sy hand op Instagram gedeel het.

Fase 3-testikulêre kanker is 33 jaar gelede by Pilgrim gediagnoseer, maar hy was ten volle in remissie toe hy dié foto op Wêreldkankerdag gedeel het.

Pilgrim sê hy is verlede jaar platgetrek deur Covid-19, en het sy knaende hoes aan dié virus of ʼn keelinfeksie toegeskryf.

Die foto wat Mark Pilgrim kort voor sy diagnose op Instagram gedeel het. (Foto: Instagram)

ʼn Pulmonoloog het hom eindelik verwys, waarna skanderings onthul het dat hy longkanker het. Die kanker het ook reeds na sy limfnodes en bekkenbeen versprei. Dit ontmoedig Pilgrim, beskermheer van die Kankervereniging van Suid-Afrika, egter nie om terug te veg nie – ʼn stryd wat hy glo hy sal oorwin.

“Dit was ʼn reuseskok en het ʼn ruk geneem om te verwerk. My kop is egter op die regte plek en ek doen alles moontlik om gesond te word.

“Ek leef ook nie in ʼn droomwêreld nie. Ek weet dit kan gedoen word – daar is baie voorbeelde van mense wat ernstige kanker oorkom het,” het hy Donderdag aan Maroela Media gesê.

Hoewel hy elke drie weke tradisionele chemoterapie ontvang, ondergaan Pilgrim weekliks ook ʼn wye reeks behandelings insluitend immunoterapie en geïntegreerde mediese behandeling. Hy plaas dikwels foto’s van sy behandeling op sosiale media waar hy sy volgelinge op hoogte hou en motiveer.

“Ek plaas dit nie oor ek wil hê mense moet my jammer kry nie. Ek plaas dit omdat daar soveel mense is wat deur dieselfde dinge gaan. Ek wil hulle aanmoedig om te veg en positief te wees.

“Jou kop moet sterk wees. Dit beteken egter nie ʼn mens moet altyd sterk wees nie. Dapperheid is die moed om op te staan wanneer jy ʼn oomblik van broosheid het. Om weer op te staan wanneer jy platgeslaan is.”

Mark Pilgrim en sy lewensmaat, Adrienne Watkins. (Foto: Instagram)

Pilgrim het sy leefstyl ook drasties aangepas. Hy volg ʼn baie streng dieet en oefen gereeld. Hy neem geen vorm van suiker, gluten of suiwel in nie en drink ook nie alkohol of koffie nie. Hy bly ook weg van groot groepe mense om sy kanse om dalk siek te word, te verminder.

Hoewel luisteraars Pilgrim soggens steeds tussen 09:00 en 12:00 op Hot 102.7 FM sal hoor, het hy ander bedrywighede tydelik gestaak.

“Dis nie altyd maklik nie. En natuurlik is ek lus vir koffie en ʼn burger. Dis ook moeilik om te sosialiseer as dit wat jy kan eet so beperk is.

“Ek weet egter wat my einddoel – en hopelik ook die eindresultaat – is.”

Pilgrim sê sy lewensmaat, Adrienne Watkins, ondersteun hom baie. Sy dogters, Tayla-Jean (12) en Alyssa (9), is ook van sy siekte bewus, hoewel hy sê hulle nie noodwendig die erns daarvan besef nie.

“Ek het egter die wil om gesond te word en glo dit is wat sal gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariette ·

Baie sterkte. Dink aan jou en jou gesin. Bly altyd positief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.