Mark ‘te gekonsentreerd’ vir laer datakoste

sosiale-media

Foto: Childrensministryonline.com

Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie en die posdiens, het Dinsdag gesê die koste van kommunikasie en data in Suid-Afrika neem nie af nie omdat die industrie  “hoogs gekonsentreerd” is en verskaffers nie genoegsame kompetisie het nie.

Die #datamustfall-veldtog het verlede jaar stoom opgetel op sosiale media en selfs bekendes het ʼn voorlegging in die parlement gedoen. Daar was ook sprake van ʼn klasaksie-hofsaak teen die verskaffers.

Cwele het gesê die hoë kostes van data-“roaming” in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) verlaag nie teen die pas wat inwoners van dié streek nodig het nie. Suid-Afrika beweeg volgens hom stadig in vergelyking met ander lande.

“Een van die hoofredes waarom ons nog hoë kostes het, is omdat die industrie hoogs gekonsentreerd bly. Dit is onwaarskynlik dat ons aggressiewe kompetisie gaan sien as ons nie die sektor meer oopmaak vir nuwe toetreders nie. Ons het ʼn vreemde mark waar dit vir die armes meer kos vir toegang tot data as die rykes,” het Cwele gesê.

Cwele het die parlementêre portefeuljekomitee van sy departement toegespreek oor die departement se werk om telekommunikasiekostes te verlaag om meer inklusiewe deelname in die sektor aan te moedig en die hindernisse vir toetrede deur Suid-Afrikaners te verlaag.

Hy het die vordering verwelkom wat die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) gemaak het rondom doeltreffende kompetisie in die breëbandmarkte, asook die mededingingskommissie se ondersoek na datadienste.

Okosa sal na verwagting in Junie vanjaar sy bevindinge bekendmaak wat ʼn lys van industrieë sal insluit wat gereguleer moet word, asook prioriteitsmarkte wat aan markhersienings onderwerp moet word.

Die mededingingskommissie sal ook na verwagting volgende maand ʼn tydelike verslag oor die koste van data vir openbare kommentaar vrystel. Die finale verslag sal in Augustus gelewer word.

“Dit is noodsaaklike ingrypings, maar die ommeswaai is stadig vergeleke met die publiek se behoeftes en eise,” het Cwele gesê.

Cwele het gesê die werk van die mededingingskommissie sal ook help om die kwessie rondom die toekenning van ʼn transversale telekommunikasiekontrak aan een diensverskaffer op te los.

Hy het gesê dié toekenning kan problematies wees omdat dit gesien kan word as die regering wat die dominansie van een speler versterk terwyl die staat eintlik kompetisie moet aanmoedig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Bloot nog n voorbeeldvan onbesonne onbekwaamheid om Wereld standaarde en regulasies te wil AFRIKANISEER. En daars hoogs waarskeinlik n paar paar hande wat blatant bakhand staan om hier ook te skep en vat…. ANC LEGACY van totale verval van beginsels en bekwaamheid.

Stokkies ·

Ek is nou nie n kenner nie, maar is die data kostes nie eweredig aan die verbruikerskapasiteit van die torings nie ? Dalk dit moontlik dat as die data te goedkoop word, gaan te veel mense toegang wil he op enige gegewe tyd en druk op stelsel plaas, wat gaan lei na verswakking van sein en/of n prioriteit stesel, of is dit net van toepassing op ADSL/fibre ?

marous ·

Eerder geval van “as jy nie korrup is nie , sal jy nie hier besigheid doen nie. Vir navrae skakel asseblief enige staats departement…..”

Casper Labuschagne ·

Daar is twee plekke in Suid-Afrika, die stede waar die koste van data pla en die platteland waar enige data, hoe stadig ook al ‘n welkome ondervinding is. Hier tussen die mielielande is daar net een wet wat data betref – as daar net ‘n wolkie in die lug is, dan gaan die Internet af en binnekort sal die krag verseker ook afgaan. Die ligpuntjie is dat dit niks nuuts is nie; dat die heil van enigiets wat met ‘n telefoonlyn afkom van die weer afhang al so is vandat hulle die handsentrales destyds met partylyne vervang is. Inteendeel, die lyne gaan nou nie meer af as dit net ‘n blote honderd kilometer van ons af reën nie, maar in die ou dae het dit wel.

Reti ·

In elk geval is daar te veel mense en te min kapasiteit. Ons KORT goedkoper data. Dink dan die gemors as dit nog goedkoper is. Studente moet data gebruik vir studies maar dis hul nie beskore nie.

Kosie Kramer ·

“Gekonsentreerd” is `n eufemisme vir “samespanning” tussen die maatskappye. MTN se baas het verduidelik dat data “soos `n rivier is, as jy dit nie gebruik nie, verloor jy dit”. En wat gebeur met die data wat na 30 dae nie gebruik is nie?” MTN: “Ons skenk dit aan skole”. Maar jy het nou net gesê dis soos `n rivier. Hoe kan jy dit dan wegvat en aan skole skenk?
Omdat ek werkloos is, moet ek data vooruitbetaald koop. By Vodacom kos 1GB my R149; in Nigerië sou dit my R20 gekos het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.