Markus Jooste dalk in Duitsland verhoor oor Steinhoff

Markus Jooste. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Twee voormalige Steinhoff-bestuurders, Markus Jooste glo een van hulle, gaan in ʼn Duitse hof verhoor word op bedrogaanklagte wat verband hou met die skandaal by die sakereus Steinhoff.

Die bestuurders word daarvan beskuldig dat hulle kamma-transaksies gebruik het om die groep se wins te verhoog.

Aanklaers het in Maart reeds aangekondig dat aanklagte teen vier verdagtes aanhangig gemaak word, maar die streekhof in die stad Oldenburg sê die sake van die twee beskuldigdes wat in die buiteland woon, sal afsonderlik hanteer word.

Aanklaers voer aan “fiktiewe transaksies” van meer as R25,4 miljard is gedoen om die maatskappy se boeke beter te laat lyk, terwyl eiendomsbates glo met R13,9 miljard opgeblaas is.

Die beskuldigdes se name is nie bekend gemaak nie, maar luidens mediaberigte is Jooste, Steinhoff se voormalige uitvoerende hoof, een van hulle.

ʼn Reuseskandaal het Steinhoff in 2017 getref toe die maatskappy ondersoek is vir beweerde bedrog en gapings van tot R101 miljard in sy rekeninge gevind is.

Die maatskappy, gesetel in Suid-Afrika, is in Frankfurt en Johannesburg genoteer en byna 98% van sy aandeelwaarde is uitgewis nadat tientalle hofsake van aandeelhouers en sakevennote, ook voormalige voorsitter Christo Wiese, aanhangig gemaak is.

Jooste het ná die skandaal bedank, maar ontken dat hy enigiets van bedrog met rekeninge geweet het.

Die Johannesburgse aandelebeurs het Steinhoff in Oktober met R13,5 miljoen beboet omdat hy die noteringsvereistes oortree het deur “vals en misleidende” inligting te publiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Misky ·

Jy kan hardloop, maar jy gaan gevang word,….. karma is ‘n snaakse ding

Henri ·

Abraham Lincoln het gesê: “You can fool all the people some of the time and some of the people all the time, but you can’t fool all the people all the time.”. Kortweg in Afrikaans: “Slim vang sy baas.”.

Johann ·

Rugraatlose skelm bedrïer. Loop in super luuksheid rond met GEEN verandwoording nie. Terwyl mense wie hul lewe lank gewerk en voorsiening gemaak het, soos my bejaarde pa, ALS verloor het wat hulle voor gewerk het. Mag ek nooit die dief in die oë kyk nie….SHAME ON YOU!!!!!! Gewetenlose boosheid. Jy en jou nasate is vervloek!!!!!!!!

Korrelkop ·

Gierigheid blyk meestal die oorsaak te wees. Die rykes weet nie waar om die streep te trek nie en hulle gee ook nie om wie in die slag bly nie. Gee nie om oor die hiernamaals nie, al wat tel is die “nou” en “hier”.

Leon ·

Lyk my hierdie wiel gaan nog draai en draai voor hy klaar gedraai het

Shakespeare ·

Mag hulle hom tot in die tronk verhoor waar hy laaaankal hoort. Smerige karakter.

Grassie ·

Dit is beter dt hy in Duitsland verhoor word want hier sou hy weggekom het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.