Markus Jooste verskuif blaam vir Steinhoff-skandaal  

Markus Jooste. Foto: Henk Kruger/ANA

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, het Woensdag aan LP’s gesê sy familie het aandele van R3 miljard in Steinhoff gehad toe die rekeningkundige skandaal by die maatskappy begin ontvou het.

Steinhoff se aankondiging oor “moontlike rekeningkundige onreëlmatighede” en Jooste se bedanking op 6 Desember het die maatskappy se aandeelprys laat tuimel en het tot gevolg gehad dat die Openbare Beleggingskorporasie, wat namens Suid-Afrikaanse staatsdienswerkers belê, meer as R20 miljard verloor het.

Jooste is gedagvaar om voor vier parlementêre komitees te verskyn en is Woensdag tydens sy getuienis voor die parlement se staande komitee oor finansies gevra om sy persoonlike aandeel in Steinhoff te verklaar.

“Ek het ʼn familietrust wat ʼn beleggingsmaatskappy het en op die datum van Steinhoff se ondergang het ons deur indirekte belange 68 miljoen Steinhoff-aandele gehad.”

Op ʼn vraag aan Jooste oor wat die randwaarde hiervan was, het hy gesê dit was R3 miljard toe Steinhoff ondergegaan het.

Jooste het die skuld vir wat met Steinhoff gebeur het op dr. Andreas Seifert, ʼn Oostenrykse sakeman met wie Steinhoff in 2007 in ʼn vennootskap gegaan het, gepak.

Volgens Jooste het die verhouding met Seifert versuur en het dit tot ʼn ondersoek deur die Duitse belastingowerhede gelei. Bewerings deur Seifert het toe tot ʼn onafhanklike ondersoek deur firmas gelei en daar is volgens Jooste bevind dat daar geen rekeningkundige onreëlmatighede was nie.

Markus Jooste. Foto: Henk Kruger/ANA

“Toe ek [op 4 Desember 2017] by Steinhoff weg is, was ek nie bewus van enige rekeningkundige onreëlmatighede nie.”

Volgens Jooste het hy voor die gebeure Steinhoff se toesighoudende direksie aangeraai om nuwe ouditeure aan te stel nadat Deloitte op ʼn onafhanklike ondersoek aangedring het rakende die bewerings wat gemaak is tydens die belastingondersoek in Duitsland.

Jooste meen dat Deloitte sy onafhanklikheid verloor het toe hy geweier het om die maatskappy se finansiële inligting af te teken en op ʼn nuwe ondersoek aangedring het.

“My advies, en dr. [Christo] Wiese [voormalige voorsitter van die toesighoudende raad] het daarmee saamgestem, was dat ons ʼn verklaring uitreik dat die oudit nie afgehandel is nie en dat die ongeouditeerde jaarstate teen Woensdag 6 Desember uitgereik sal word,” het hy gesê.

“Dit was vir my, en ander ook, duidelik dat Deloitte se voorstel in daardie stadium ʼn vernietigende effek op die waarde van die aandele sou gehad het. Ek het nie die volgende dag die toesighoudende raad se vergadering bygewoon nie en is die volgende dag ingelig dat die raad besluit het om nuwe ouditeurs aan te stel en van voor af ʼn ondersoek te doen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ander Annie ·

Skokkend, die wat skuldig is se bates moet beslag opgelê word. Daar is Staatsdiensamptenare wat getrou diens gelewer het vir 30 jaar en meer, wie se geld julle misbruik. Ek het geen simpatie met hierdie man nie.

Joe Hall ·

Jy raas mos met die verkeerde mense.
Moet jy nie eerder die mense wat besluit het om die pensioengelde in Steinhoff te belê, verkwalik nie?

Celtis Africana ·

Ek gaan my verstout om te sê dat Markus Jooste uit die Steinhoff debakel gaan loop sonder dat hy aan enigiets skuldig bevind gaan word.
Ek betwyfel dit ernstig of die staat oor die vermoë beskik om n suksesvolle vervolging te verseker.
Hierdie man is n meester in sy klas en sy gelyke is nog nie gebore nie.
PWC het 100 ouditeure wat die saak ondersoek. Of daar enigiets strafbaar gaan uitkom is n ander saak. Direksies van maatskappye se diskresie loop so wyd soos die Heer se genade. Jy kan die grense bitter ver druk met die magte.

Paul ·

CA, en stem saam met jou, maar ek is nie bereid om nou vooraf hom die vark in die verhaal te maak nie. Sy verskyning voor die parlementêre komitee gaan niemand wyser maak nie. En daarna?

Leonora ·

Wanneer gaan die Guptas se naam opduik in die (Markus Jooste) Steinhoff sage?

Leonora ·

Wanneer gaan die Guptas se naam in die (Markus Jooste) Steinhoff sage opduik?

Johan ·

Ek dink die meeste mense sal Markus Jooste se getuienis baie sterk betwyfel. As hy werklik nie bewus was van wat aangegaan het nie, was hy óf dom óf uiters agterlosig. En hy kom as baie intelligent voor. Dit lyk dus asof hy waarskynlik skuldig is, hetsy direk of indirek.

Paul ·

Johan, weet jy hoe werk maatskappye se strukture en die mag wat in sekere poste gesetel is. Kyk bv hoe afhanklik is onse prez van die FinMin of SARS se baas.

Daan Erasmus ·

Dit is hoe besigheid werk. Soms gaan dit goed. Soms gaan dit sleg. Dit is net dat Steinhoff nie soos SABC, SAL, Krygkor ens ‘n Staats waarborg kan kry en rustig voortgaan nie.

Daan Erasmus ·

Ontspan. Dit is hoe besigheid werk. Soms gaan dit goed. Soms gaan dit sleg. Dit is net dat Steinhoff nie soos SABC, SAL, Krygkor ens ‘n Staats waarborg kan kry en rustig voortgaan nie. Dit is die harde werklikheid

Victor Samuels ·

Sou Jooste skuld erken, dan is hy medepligtig. Sê hy hy het van niks geweet nie, het hy nie sy werk gedoen nie want hy moes geweet het.

Markus, Danie en Ben bly op dieselfde plaas in Stellenbosch, vlieg die wereld vol vir maande aaneen saam in hul privaat straler en NIEMAND HET NIKS GEWEET NIE????

Kom ons kyk wat PWC se forensiese ondersoek uitwys, en glo my, met die fokus op ouditfirmas gaan hulle dubbel seker moet maak dat hulle al die rotte uitwys…

Adam ·

Jooste verander toe ewe skielik in Sneeuwitjie en weet absoluut niks van die debakel nie. Wiese daarenteen wil weet “hoekom”, maar hy weet ook niks en sy verskoning is dat hy nie sy eie geld sou weggooi nie. Jooste sou sekerlik dieselfde verweer kan opper indien hy wou. Wat ek graag sal wil weet is hoe ‘n direksie wat besaai is van CA’s en oor ander indrukwekkende akademiese kwalifikasies beskik nou almal bewusteloos pleit. Daar is egter geen twyfel oor een aspek nie en dit is dat Jooste nie alleen die gemors veroorsaak het nie. Ek hoop sy eertydse maatjies se geheues word ook verfris.

Blondie ·

Eish en so speel die Markus mannetjie slagoffer van sy eie gemors…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.