‘Marlize sal op die Here se tyd geopereer word’

Marlize Kriel en Adam Viljoen. (Foto: Facebook)

Marlize Kriel en Adam Viljoen. (Foto: Facebook)

Marlize Kriel, die 23-jarige Von Hippel-Lindau-lyer van Witbank wat saam met haar familie gepoog het om R500 000 in te samel vir ʼn breinoperasie by ʼn private hospitaal, sal noodgedwonge Maandag dié operasie by die Dr. George Mukhari-staatshospitaal in Ga-Rankuwa noord van Pretoria ondergaan.

Maroela Media het vroeër berig Kriel sou dié operasie eers later vanjaar ondergaan, aangesien sy eers op 23 Augustus vir skanderings van haar rugstring sou gaan. Volgens haar verloofde, Adam Viljoen, het haar toestand intussen egter só verswak dat die operasie nie langer uitgestel kan word nie.

Viljoen het in Junie aan Maroela Media gesê Kriel is vroeër vanjaar met Von Hippel-Lindau se siekte, ʼn oorerflike siekte wat gekenmerk word deur die vorming van gewasse en vloeistofgevulde sakke (siste) in verskillende dele van die liggaam, gediagnoseer. Dié gewasse is nie altyd kwaadaardig nie, maar veroorsaak ongelooflike pyn en drukking op die brein. Kriel het ʼn gewas bo-op haar brein en een in haar breinstam.

Viljoen het vertel Kriel se pa, Johan, is in Januarie verlede jaar dood ná komplikasies van ʼn breinoperasie nadat hy ook weens Von Hippel-Lindau se siekte gewasse in sy liggaam opgedoen het. “Haar pa sʼn was so erg dat hy sy niere ook verloor het en dialise moes kry, en ʼn gewas is van sy breinstam verwyder. Die operasies was wel ʼn sukses, maar hy het sepsis (bloedvergiftiging) in die hospitaal opgedoen en is daaraan oorlede.”

Juis daarom was die familie bekommerd toe Kriel vroeër vanjaar van erge hoofpyne begin kla. “Sy was twee keer by die huisdokter, wat vir haar gesê het dit is streshoofpyne en haar inspuitings gegee het vir die pyn.”

'n Foto van Marlize se kop nadat die "shunt" ingesit is. (Foto: Verskaf)

‘n Foto van Marlize se kop nadat die “shunt” ingesit is. (Foto: Verskaf)

Kriel het tydens ʼn vorige operasie ʼn shunt ontvang, wat help om vog van die brein af na die blaas te gelei en sodoende drukking op die brein verlig. Die paartjie, wat die geld wat hulle vir ʼn sprokiestroue in Mei volgende jaar gespaar het vir dié operasie moes opdok, het by die publiek aangeklop vir hulp nadat Kriel die nuus ontvang het dat haar mediese fonds nie die koste van die tweede, noodsaaklike operasie gaan dek nie.

Volgens Viljoen het hulle sowat twee weke gelede weer telefonies met dr. Ernst van Graan, ʼn neurochirurg by die Kloof-hospitaal in Pretoria, se ontvangsdame in verbinding getree nadat Kriel se hoofpyne drasties begin vererger het. Dr. Van Graan was toe tydelik oorsee.

Viljoen het verduidelik dat hulle toestemming wou verkry om dr. Bakang Mosadi, wat Kriel by die staatshospitaal behandel, direk op sy selfoon te kontak. Hy het ook gesê Kriel se pyn het begin vererger, omdat die siklus kortisoonbehandeling wat vir haar voorgeskryf is, opgeraak het.

“Dr. Mosadi was geskok om te hoor dat die staatshospitaal eers in Augustus die skandering van die rugstring wou uitvoer, aangesien hy self nie daarvan bewus was nie. Ons het gevra of ons die skandering by die Kloof-hospitaal kan laat doen om die proses te bespoedig en het gesê ons sal self daarvoor betaal, en dr. Mosadi het ingestem. Die uitslae is verlede week na hom toe gestuur by die staatshospitaal. Hy is ʼn baie goeie dokter wat bekend is met Marlize se toestand en ons vertrou hom ten volle.”

Volgens Viljoen het dié dokter Kriel se ma laat weet die operasie kan Donderdag geskied. “Ons het Woensdag na die hospitaal gegaan om haar papierwerk te laat doen en die dokter te sien. Hy het toe vir ons die nuus gegee dat Marlize nié Donderdag geopereer kan word nie, aangesien hy ʼn noodoperasie op ʼn ander pasiënt moet uitvoer. ʼn Aar het glo in dié man se brein gebars en sy toestand kry ongelukkig voorkeur bo Marlize sʼn.”

Viljoen het gesê die operasie is intussen vir Maandag bevestig. “Die dokter het gesê indien daar vir haar ʼn bed oop is in die waakeenheid, sal hy die operasie Maandag uitvoer. Ons glo en vertrou dat Marlize op die Here se tyd geopereer sal word.”

Hy het gesê dit was ʼn deurmekaar proses en dat alles die afgelope paar weke baie vinnig gebeur het. “Ons wil graag die geld wat weldoeners geskenk het steeds aanwend vir die bestraling wat Marlize by die Steve Biko-staatshospitaal sal moet ontvang vir die gewas wat in haar breinstam is. Ons wil ook, sodra sy uit die waakeenheid in Pretoria ontslaan word, ʼn plan maak om haar na ʼn saal nader aan ons in Witbank oor te plaas. Sy wil nie alleen in Pretoria in die hospitaal lê nie.”

Viljoen het gesê dit is belangrik dat Kriel so gou as moontlik geopereer word. “Hierdie ding is besig om haar te vernietig. Sy is in pyn en haar linkerhandjie raak al dommerig. Sy sukkel om haar grimering aan te sit, sy is verskriklik van balans af en ek moet die heeltyd saam met haar stap en haar vashou. Dit frustreer haar só, want sy is gewoond daaraan om onafhanklik te wees en dinge self te doen.”

Lede van die publiek wat die paartjie finansieel wil bystaan, kan met Viljoen kontak maak by [email protected]. Sy WhatsApp-kontaknommer is 072 340 2932 en mense kan hom ook bel by 064 683 6925 of besoek die fondsinsamelingswebtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

leser ·

sterkte marlize, glo dat operasie suksesvol sal wees
ek bid vir algehele genesing vir jou

Cobus ·

Waar is die met die groot politieke skenkings vir eie gewin? Hier is nou die kans om vir iemand iets te beteken

Naomi ·

Hi Marlize. Ek weet hoe bang jy is. Ek was ook al n paar keer daar. Dit is vreesaanjaend. My ma is ook oorlede agv VHL in haar niere. Met VHL het ek op 20 my 1ste brein operasie gehad en nog 4 daarna, n nieroperasie waar kanker verwyder is, (VHL in niere is kanker waar res vd gewasse nie kwaadaardig is nie) . Operasie nr 3 en 4 was albei dubbel operasies, dr het brein en spine in dieselfde operasie gedoen. My oë is gelaser daarvoor, my pankreas en vrouedele is vol gewasse, als agv VHL. Skep moed, moenie dit as n doodsvonnis beskou nie. Ek wil net jou familie en vriende vra om BAIE geduldig te wees. Jou emosies gaan ERG met jou wipplank ry. Mense verstaan dit nie en jy het geen beheer daaroor nie. Dit is baie laaaang operasies.
Wat ek met al die goed vir jou wil sê is dat ons Almagtige Vader in beheer is en soos vir my, sal HY jou ook hierdeur dra. Ek leef n vol lewe. Ek het wel nie kinders nie omdat ek nie dit waardeur ek is, nie aan n kind kan doen nie. Ek het n engel van n man wat my bystaan en baie “understanding” is. 4 maande na my 1ste brein operasie is ons getroud en dis nou 27 jr later. Bly sterk in jou geloof. Gaan positief hierin anders sal dit jou onderkry. Ons dien n God van wonderwerke.

Dankbaar ·

Amen!!
Ons gebede met jou Marlize en familie.
We serve an awesome God.

Venetia ·

Baie mooi. Ek hoop regtig hulle lees dit want ek kan jou meelewing en ‘genuineness’ aanvoel; daardie empatie wat net iemand wat dit self deurgemaak het kan hê – skoon trane in my oë. Dankie!

Vicky Alberts ·

Ek was n week in Steve Biko Akademiese Hospitaal nadat my medies geweier het om op te dok en was ook onder Dr Mosadi se hande. PUIK Dr! Ek dink ek was beter behandel as wat ek al ooit in n ‘privaat’ hospitaal behandel was. As ek mag,stel ek voor julle los haar onder hulle sorg en plaas haar nie oor na Witbank toe nie. Sy is onder baie goeie mediese hande.

antionette ·

nou wonder ek maar net op waste mediese fonds is sy?? dit is tragies dat iemand so moet sukkel!!!! Alle sterkte vir haar in die moeilike tyd.

Wouter ·

Baie sterkte Marlize jy is n pragtige meisiekind. Ek en my gesin dink aan jou en bid dat jy deur Jesus gedra sal word. Onthou die ” Voetspore” gedigie. Ek sal ook graag wil weet watse mediese fonds weier hul bydraers so n noodsaaklike operasie?

Hartseer ·

Dit is so tragies, sy is bitter jonk. Mag God asb oor haar, haar verloofde en familie en vriende waak. God kan U asb U hande in die dokter se hande plaas met die operasie. As dit U wil is God, mag sy spoedig herstel. Alleen in U naam asb God. Amen.

Lizelda ·

George Mukhari hospitaal? O, genade nee, kyk eerder of julle die arme vrou by Steve Bhiko kan kry al beteken dit jy sit iemand wat naby bly se adres op, maar George Mukhari??? Dit is nie goeie nuus nie…

Lee ·

Sterkte met die operasie Marlize. Mag God die dokter bystaan wat die operasie doen en lyding gee.

Skuus ·

As ek reg onthou het hul n mediese fonds gekry en in die wagtydperk is die siekte gediagnoseer. Maar rerig ek dink as die mediese fonds haar bystaan en dit word rugbaar………sal hul gratis advertensie kry en baie nuwe lede werf vir hul menslikheid.

RH ·

nou vra ek wat help dit vandag om EENIGSTENS n medies te he????!!! Hulle kom met allerande reels en veranderinge dat dit nie die moeite werd is meer nie! God se hand sal oor haar wees en haar genees. God bly in beheer. Geloof is die sterkste van alle gebede. Sterkte aan haar en die familie.

JohanL ·

Ek kan verstaan daar is reels en regulasies ens. Maar die dag as mediese fondse mens nie ‘n kans wil gee nie en God speel, dan begin ek wonder hoe die besluitnemers saans rustig kan slaap? Baie baie baie sterkte aan Marlize en haar familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.