Marlize se breinoperasie ʼn sukses: ‘Ons dank die Here daarvoor’

Marlize Kriel. (Foto: Facebook)

Marlize Kriel. (Foto: Facebook)

Marlize Kriel, die 23-jarige Von Hippel-Lindau-lyer van Witbank, se breingewas is Maandag tydens ʼn operasie in die Dr. George Mukhari-staatshospitaal in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, suksesvol verwyder en sterk tans goed aan.

Maroela Media het vroeër berig Kriel, haar verloofde Adam Viljoen en hulle familie wou aanvanklik poog om R500 000 in te samel vir ʼn breinoperasie in ʼn private hospitaal, maar sy moes noodgedwonge die operasie vroeër ondergaan omdat haar toestand intussen egter só verswak het die operasie nie langer uitgestel kon word nie.

Viljoen het in Junie aan Maroela Media gesê Kriel is vroeër vanjaar met Von Hippel-Lindau se siekte, ʼn oorerflike siekte wat gekenmerk word deur die vorming van gewasse en vloeistofgevulde sakke (siste) in verskillende dele van die liggaam, gediagnoseer. Dié gewasse is nie altyd kwaadaardig nie, maar veroorsaak ongelooflike pyn en drukking op die brein. Kriel het ʼn gewas bo-op haar brein en een in haar breinstam.

Volgens Viljoen het die operasie ongeveer agt uur geduur. “Toe hulle haar uit die teater stoot, het sy nog geslaap en ons het saamgestap tot by die waakeenheid. Haar dokter, dr. Bakang Mosadi, se assistente het aan ons verduidelik dat daar geen komplikasies was tydens die operasie nie. Ons prys die Here daarvoor.

“Hulle wou haar aanvanklik aan die slaap hou tot vanoggend, maar toe ons gisteraand met besoektyd daar aankom, het sy regop gesit en haar oë het wakker rondbeweeg. Sy was baie spraaksaam en was baie bly om ons te sien. Sy het pyn gehad, maar sy het heeltyd gesê hoe graag sy ʼn slush puppy wil hê en het haar bene op die bed geskud om te wys sy kan loop. Sy het ook grappe gemaak en gesê ons kan haar bed in die kar laai, want sy wil huis toe gaan.”

Marlize en haar verloofde, Adam Viljoen. (Foto: Facebook)

Marlize en haar verloofde, Adam Viljoen. (Foto: Facebook)

Die paartjie is in April vanjaar genoop om R150 000 van hul spaargeld vir die troue vir ʼn vorige operasie vir Kriel op te dok. “Marlize kon nie ophou praat oor die troue nie. Sy sê net heeltyd hoe graag sy met my wil trou.”

Viljoen vertel Kriel se gesig is vandag baie opgeswel en haar ken is rou. “Haar gemoed is vandag ʼn bietjie anders, ek glo dis maar omdat sy baie seer het en sy kon nie deur die aand slaap nie. Dr. Mosadi het haar kom besoek en het gesê hy kon die breingewas saam met sy twee voedingsare suksesvol verwyder.”

Volgens Viljoen is Kriel se spraak nie aangetas nie, alhoewel haar gesig en lippe opgeswel is. “Sy vra heeltyd my of dit sleg lyk, dan sê ek net nee, dit lyk nie sleg nie. Sy sê ook vir my sy weet wie haar gesond gemaak het en dat sy deurentyd met die Here gepraat het. Sy weet haar genesing kom van Hom af.”

Viljoen het vertel Kriel se pa, Johan, is in Januarie verlede jaar dood ná komplikasies van ʼn breinoperasie nadat hy ook weens Von Hippel-Lindau se siekte gewasse in sy liggaam opgedoen het. “Haar pa sʼn was so erg dat hy sy niere ook verloor het en dialise moes kry, en ʼn gewas is van sy breinstam verwyder. Die operasies was wel ʼn sukses, maar hy het sepsis (bloedvergiftiging) in die hospitaal opgedoen en is daaraan oorlede.”

“Ons is dankbaar teenoor die Here,” sê Viljoen. “Hy het vir ons gewys hoe kragtig Hy kan wees, nét deur gebed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

leser ·

sterkte Marlize, hou Sy Hand styf vas, ek sal nog steeds jou in my gebede aan Hom opdra vir volle genesing, sterk wees

kas ·

Ek glo Hy is die Groot GENEESHEER en die dokter net die insrument.Na my sig baie verswak het,het my vrou my oorreed om ‘n spesialis te raadpleeg.Ek was bang ek kry slegte nuus maar het tog gegaan en vandag is my sig weer uitstekend omdat ek op Hom vertrou het.

kas ·

Ek wonder net of so’n persoon heeltemal genees kan word.Sal iemand wat die toestand ken vir my verduidelik.Sterkte dame met jou herstelproses.

Griki ·

Prys die Here! Dis wonderlike nuus. Sterkte Marlize – wees geduldig, ek glo jy sal volkome herstel.

White Rhino ·

Ek is sooo bly vir julle!
Dankie Liewe Jesus!.
Sterkte vorentoe – en word gou beter!

Griki ·

Prys die Here! Dis wonderlike nuus. Sterkte Marlize – wees geduldig, ek glo jy sal volkome herstel. Well done, Dr Mosadi.

Stella van der Schyff ·

Ek is baie beindruk met die nuus op hierdie blad

Katerina ·

Dis nou goeie nuus!! Ek het gereeld aan haar gedink, ek het ook 2 dogters in hul 20’s en dit was vir my baie hartseer om van Marlize se stryd te lees. So bly om te hoor die operasie was suksesvol en mbt Dr.Mosadi – Give that man a Bells!!!

Francois ·

Die mediese wetenskap en tegnologie is deesdae verbysterent.
Met die toegewyde hardwerkende chirurge en verpleegsters wat dag en nag werk is dit selfs moontlik om die onmoontlike te vermag.

Koos ·

Ja die mediese wetenskap moet die duiwel se werk ongedaan maak.

Theresa B ·

Wonderlike nuus. Alle eer aan die Here. Sterkte verder en ek hoop vir volkome herstel sodat jy ‘n wonderlike troue kan hê en ‘n nog meer wonderlike lewe saam met jou man.

Willie ·

Baie sterkte, alle eer aan die Here… Bly sterk en bly glo…

Miekie ·

Wonderlike nuus. Alle eer aan Ons Hemelse vader
Spoedige herstel jou toegebid

Hallelujah ·

Hallelujah in God se naam . Hallelujah Heer U is ons dokter – U is fantasties fantasties. Marlize jy gaan trou met jou droomman en saam met God afstap na Adam toe. Jis dis net fantastiese nuus……

Colleen ·

Ons bid vir volkome herstel en dat geen sist ooit weer sal groei in haar liggaam nie. Sterkte met die trou reëlings.

shirmonay ·

Dank die Hemelse Vander. Marlize alle sterkte met jou herstel en sterkword pad voorentoe. Jy’s insperasie! Sterkte aan familie ook.

kas ·

Biltong,katterakke en ouderdom.Lensoorplantings laat doen en katterakke laat verwyder.Nou sien ek weer goed maar gebruik ‘n leesbril.

Naomi ·

Kas, jy het aan die begin vd kommentare gevra of VHL, wat Marlize het, nie genees kan word nie, asook of iemand wat dit ken jou kan inlig. Nee, dit is nie geneeslik nie. Ek het self VHL. Dis n gewas wat meer as 1 keer op dieselfde plek kan voorkom. My breinoperasies was 2 keer links agter, 2 keer regs agter en 1 keer bokant my regter oor, 2 keer in my spine ook op presies dieselfde plek,(altesaam 5 brein, 2 spine en 1 nier operasie). My oë is gelaser daarvoor, is ook in my pankreas asook in sekere vroue dele, als VHL. Die tydsduur tussen operasies verskil ook aansienlik. Tussen breinoperasie nr 1 en 2 was dit 7jr. Tussen operasie nr 2 en 3 was dit 12 jr. Tussen nr 3 en 4 was dit net minder as 2 jr en tussen nr 4 en 5 was dit 3jr. Die 2 spine was gelyktydig met brein operasies nr 3 en 4 . Dis iets wat maar dop gehou moet word met Scans. Ek leef n vol lewe met genade van onse Hemelse Vader.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.